Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 6

Keur God alle godsdienste goed?

Keur God alle godsdienste goed?

1. Wat is volgens God se Woord die enigste twee soorte godsdiens?

GAAN in deur die nou poort”, het Jesus gesê, “want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). Volgens God se Woord is daar slegs twee soorte godsdiens: een is waar, een is vals; een is reg, een is verkeerd; een lei na die lewe, een lei na vernietiging.

2. Hoe toon die Skrif dat nie alle godsdienste God behaag nie?

2 Party mense dink dat alle godsdienste God behaag. Die volgende Bybelverse toon dat dit nie waar is nie:

  • “Die kinders van Israel het weer gedoen wat sleg was in die oë van Jehovah, en hulle het die Baäls en die Astoret-beelde en die gode van Sirië en die gode van Sidon en die gode van Moab en die gode van die kinders van Ammon en die gode van die Filistyne begin dien. So het hulle Jehovah verlaat en hom nie gedien nie. Hierop het Jehovah se toorn teen Israel ontvlam” (Rigters 10:6, 7). As ons afgode of enige ander god behalwe die ware God aanbid, sal ons nie Jehovah se goedkeuring hê nie.

  • “Hierdie volk eer my [God] met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my verwyderd. Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings” (Markus 7:6, 7). As mense wat sê dat hulle God aanbid, hulle eie idees leer in plaas van wat die Bybel leer, is hulle aanbidding tevergeefs. Dit is nie vir God aanneemlik nie.

  • “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Ons aanbidding moet in ooreenstemming met die waarheid van God se Woord wees.

Die vrugte van valse godsdiens

3. Wat is een manier om die ware godsdiens van valse godsdiens te onderskei?

3 Hoe kan ons vasstel of ’n godsdiens God behaag of nie? Jesus het gesê: “Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort . . . So sal julle daardie mense dan aan hulle vrugte herken.” Met ander woorde, as ’n godsdiens van God af kom, sal dit goeie vrugte voortbring; maar as ’n godsdiens van Satan af kom, sal dit slegte vrugte voortbring.—Matteus 7:15-20.

4. Watter eienskap openbaar aanbidders van Jehovah?

4 Die ware godsdiens bring mense voort wat liefde onder mekaar het en liefde aan ander betoon. Dit is so omdat Jehovah ’n liefdevolle God is. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” In watter mate voldoen godsdienste aan hierdie vereiste vir ware aanbidding?—Johannes 13:35; Lukas 10:27; 1 Johannes 4:8.

5. Hoe beskryf een ensiklopedie die Afrikaslawehandel?

5 Dink aan die Afrikaslawehandel. The New Encyclopædia Britannica sê: “Ongeveer 18 000 000 Afrikane is tussen 650 en 1905 in die Islamitiese trans-Sahara- en Indiese Oseaan-slawehandel opgeneem. In die tweede helfte van die 15de eeu het Europeërs langs die weskus van Afrika begin handel dryf, en teen 1867 is tussen 7 000 000 en 10 000 000 Afrikane as slawe na die Nuwe Wêreld verskeep.”

6. Hoe was godsdiens by die slawehandel betrokke?

6 Watter standpunt het godsdiens ingeneem gedurende hierdie tyd van beroering in Afrika toe mans, vroue en kinders van hulle tuiste en familie weggeskeur, in kettings geslaan, gebrandmerk en soos beeste gekoop en verkoop is? Bethwell Ogot skryf in die Daily Nation van Nairobi, Kenia: “Die teologie van die Christendom sowel as Islam bevat die gedagte van die eenheid van die mensdom, maar albei het gemeenskappe geskep wat slawe gebruik het en vol rassevooroordeel was. . . . Ons moet die gemeenskaplike skuld van Moslems en Christene erken, van die Weste en die Midde-Ooste, asook die sedelike blindheid wat eeue van onuitspreeklike lyding vir Afrikane tot gevolg gehad het.”

Godsdiens en oorlog

7. Watter rol het godsdiensleiers met betrekking tot oorlog gespeel?

7 Valse godsdiens het sy slegte vrugte ook op ander maniere getoon. Byvoorbeeld, hoewel die Bybel sê dat ’n mens ‘jou naaste moet liefhê’, het godsdiensleiers oral in die wêreld oorlog ywerig ondersteun en bevorder.—Matteus 22:39.

Valse godsdiens was betrokke by oorloë en die slawehandel

8. (a) Hoe het godsdiensleiers die slagting van mense in Afrikakonflikte bevorder? (b) Wat het ’n geestelike gedurende Nigerië se burgeroorlog oor godsdiensleiers gesê?

8 Dit is algemeen bekend dat sommige nonne en priesters gedurende 1994 aan die menseslagting in Rwanda deelgeneem het. Godsdiens het ook ’n vername rol in ander Afrikakonflikte gespeel. Tydens die bloedige burgeroorlog in Nigerië het godsdienste aan albei kante byvoorbeeld mense aangemoedig om te veg. Gedurende daardie voortslepende oorlog het ’n geestelike gesê dat kerkleiers “die werk wat God hulle gegee het, opsy geskuif het”. Hy het ook gesê: “Ons wat onsself bedienaars van God noem, het bedienaars van Satan geword.”

9. Wat sê die Bybel oor bedienaars van Satan?

9 Die Bybel sê min of meer dieselfde: “Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander. Dit is dus niks besonders as sy bedienaars ook aanhou om hulle in bedienaars van regverdigheid te verander nie” (2 Korintiërs 11:14, 15). Net soos baie goddelose mense voorgee dat hulle goed is, mislei Satan mense deur middel van bedienaars wat regverdig lyk maar wie se werke boos en wie se vrugte sleg is.

10. Hoe het godsdiensleiers God verloën?

10 Oral in die wêreld het godsdiensleiers liefde, vrede en goedheid verkondig, maar hulle het haat, oorlog en goddeloosheid beoefen. Die Bybel beskryf hulle goed. Dit sê: “Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke.”—Titus 1:16.

Gaan uit “Babilon die Grote” uit

11. Hoe beskryf die Bybel valse godsdiens?

11 Ons kan sien wat Jehovah van valse godsdiens dink deur die Bybelboek Openbaring te lees. Daar word valse godsdiens beskryf as ’n simboliese vrou, “Babilon die Grote” (Openbaring 17:5). Let op hoe God haar beskryf:

  • “Die groot hoer . . . met wie die konings van die aarde hoerery gepleeg het” (Openbaring 17:1, 2). In plaas van getrou aan God te wees, het valse godsdiens met die politiek ingemeng en dikwels vir regerings gesê wat om te doen.

  • “In haar is die bloed van profete en van heiliges gevind, en van almal wat op die aarde doodgemaak is” (Openbaring 18:24). Valse godsdiens het getroue knegte van God vervolg en doodgemaak en is verantwoordelik vir miljoene sterftes in oorloë.

  • “Sy [het] haarself verheerlik en in skaamtelose weelde gelewe” (Openbaring 18:7). Valse godsdiens besit groot rykdom, wat haar leiers gebruik om in weelde te lewe.

  • “Deur [haar] spiritistiese gebruike is al die nasies mislei” (Openbaring 18:23). As gevolg van die valse leerstelling dat die siel nie sterf nie, het valse godsdiens die deur oopgemaak vir alle vorme van spiritisme en toorkuns en het dit vrees vir die dooies en vooroueraanbidding bevorder.

12. Watter waarskuwing gee die Bybel oor valse godsdiens?

12 Die Bybel rig ’n ernstige waarskuwing tot mense om hulle van valse godsdiens af te skei en sê: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie.”—Openbaring 18:4, 5.

13. Wat sal gebeur met valse godsdiens en diegene wat dit beoefen?

13 In die nabye toekoms sal Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, heeltemal vernietig word. Die Bybel sê: “Haar plae [sal] in een dag kom: dood en verdriet en hongersnood, en sy sal heeltemal met vuur verbrand word, want Jehovah God, wat haar geoordeel het, is sterk” (Openbaring 18:8). As ons geen deel van haar plae wil ontvang nie, moet ons alle verbintenis met valse godsdiens verbreek en niks te doen hê met gebruike, vierings en opvattings wat God mishaag nie. Die saak is dringend. Ons lewe is op die spel!—2 Korintiërs 6:14-18.