Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 1

Leer alle godsdienste die waarheid?

Leer alle godsdienste die waarheid?

1. Wat is party van die godsdienste wat in Afrika beoefen word?

BYNA almal in Afrika stem saam dat dit belangrik is om God te aanbid. Maar min stem saam oor hoe om hom te aanbid. Party aanbid by ’n moskee (’n plek waar Moslems aanbid), en ander gaan na ’n tradisionele heiligdom. Nog ander gaan na ’n kerk. Maar dit sou verkeerd wees om te dink dat daar net drie godsdienste in Afrika is. Onder Moslems is daar verskillende wette en opvattings. Tradisionele godsdienste verskil grootliks van plek tot plek. Onder die sogenaamde Christelike kerke is daar nog groter verdeeldheid. Benewens die hoofstroomkerke is daar duisende onafhanklike kerke dwarsdeur Afrika.

Ons godsdiens moet op die waarheid gegrond wees

2. (a) Wat bepaal gewoonlik ’n persoon se godsdiens? (b) Wat verseker nie dat ons godsdiens God behaag nie?

2 Waarom aanbid mense op ’n sekere manier? Die meeste mense aanvaar die godsdiens van hulle ouers. Gebeure van lank gelede het ook ’n invloed op watter godsdiens mense vandag beoefen. Die boek The Africans—A Triple Heritage sê: “Noord van die Sahara het Islam deur verowering versprei, . . . suid van die Sahara het die Christelike godsdiens op dieselfde wyse versprei. As Islam noord van die Sahara deur die swaard versprei het, het die Christelike godsdiens suid van die Sahara deur die geweer versprei.” Die meeste van ons glo nietemin dat ons godsdiens God behaag. Maar ’n godsdiens is nie reg bloot omdat ons ouers dit beoefen of omdat ’n ander nasie dit op ons voorouers afgedwing het nie.

3-5. Watter illustrasie help ons om te sien dat nie alle godsdienste die waarheid leer nie?

3 Hoewel alle godsdienste beweer dat hulle betroubare leiding gee oor hoe om God te dien, verskil hulle opvattings. Hulle leer baie verskillende dinge omtrent wie God is en wat hy van ons verwag. Dink hieroor na: Gestel jy kry werk by ’n groot maatskappy. Die eerste dag by die werk verneem jy dat die werkgewer met verlof is. Jy vra dus vir drie werkers wat jy moet doen. Die eerste werker sê dat die werkgewer wil hê dat jy die vloer moet vee. Die tweede een sê dat jy die gebou moet verf. Die derde een sê vir jou dat jy die pos moet uitdeel.

4 Dan vra jy die werkers uit oor die werkgewer. Die eerste een sê dat die werkgewer lank, jonk en streng is. Die tweede een sê dat hy kort, oud en vriendelik is. Die derde een sê dat die werkgewer glad nie eens ’n man is nie—die werkgewer is ’n vrou. Jy sal waarskynlik tot die slotsom kom dat nie al drie werkers die waarheid praat nie. As jy jou nuwe werk wil behou, sal jy moontlik ondersoek instel na wie die werkgewer werklik is en wat hy of sy wil hê jy moet doen.

5 Dieselfde geld vir godsdiens. Omdat daar so baie idees bestaan oor wie God is en wat hy van ons vereis, moet ons seker maak dat ons manier van aanbidding met die waarheid ooreenstem. Maar hoe kan ons die waarheid omtrent God leer?