Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 8

Verwerp valse godsdiens; beoefen ware godsdiens

Verwerp valse godsdiens; beoefen ware godsdiens

1. Voor watter keuse kom mense vandag te staan wat aanbidding betref?

JESUS het gesê: “Hy wat nie aan my kant is nie, is teen my” (Matteus 12:30). Ons is óf aan Jehovah se kant óf aan Satan se kant. Die meeste mense dink dat hulle God op aanneemlike wyse dien, maar die Bybel sê dat Satan “die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Miljoene mense glo dat hulle God aanbid, maar in werklikheid dien hulle Satan die Duiwel! Mense kom vandag voor ’n keuse te staan: Hulle moet óf Jehovah, “die God van waarheid”, óf Satan, “die vader van die leuen”, dien.—Psalm 31:5; Johannes 8:44.

Breek weg van valse godsdiens

2. Wat is een manier waarop Satan mense probeer verhinder om Jehovah te aanbid?

2 Die verstandigste keuse, die keuse wat God se goedkeuring meebring, is om te besluit om Jehovah te dien. Maar Satan is nie gelukkig met enigiemand wat God dien nie; hy maak dit moeilik vir dié wat dit doen. Een manier waarop hy dit doen, is deur middel van bespotting of teenstand van ander, selfs van vriende en familielede. Jesus het gewaarsku: “Ja, ’n mens se eie huisgenote sal sy vyande wees.”—Matteus 10:36.

3. Wat sal jy doen as jou familie of vriende jou aanbidding van God teëstaan?

3 Hoe sal jy reageer as dit met jou gebeur? Baie mense weet dat hulle manier van aanbidding verkeerd is, maar hulle huiwer om daarvan weg te breek. Hulle dink dat hulle dislojaal aan hulle familie sal wees as hulle dit doen. Is dit redelik? As jy uitvind dat gesinslede gevaarlike dwelms gebruik, sal jy hulle nie waarsku dat die dwelms hulle skade sal berokken nie? Jy sal nie saam met hulle daardie dwelms gebruik nie, of hoe?

4. Wat het Josua vir die Israeliete gesê aangaande aanbidding in sy dag?

4 Josua het die Israeliete aangespoor om die verkeerde godsdiensgebruike en -tradisies van hulle voorvaders prys te gee. Hy het gesê: “En nou, vrees Jehovah en dien hom in onberispelikheid en in waarheid, en verwyder die gode wat julle voorvaders aan die oorkant van die Rivier en in Egipte gedien het, en dien Jehovah” (Josua 24:14). Josua was lojaal aan God, en Jehovah het hom geseën. As ons lojaal aan Jehovah is, sal hy ons ook seën.—2 Samuel 22:26.

Raak ontslae van dinge wat in valse aanbidding gebruik word

5. Waarom moet ons van toorgoed ontslae raak?

5 As ons van valse godsdiens wil wegbreek, beteken dit ook dat ons enige toorgoed wat ons miskien het, soos gelukbringertjies, amulette, towerringe en -armbande en soortgelyke dinge, moet vernietig. Dit is belangrik omdat dit toon dat ons volle vertroue in Jehovah stel.

6. Wat het vroeë Christene met hulle boeke oor die toorkuns gedoen?

6 Dink aan wat sommige vroeë Christene gedoen het toe hulle besluit het om ware godsdiens te beoefen. Die Bybel sê: “Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand.”—Handelinge 19:19.

7. Wat kan ons doen as die demone ons teister?

7 Party wat Jehovah begin dien het en wat direk by heksery, die toorkuns of towergebruike betrokke was, sal miskien deur die demone geteister word. As dit met jou gebeur, moet jy Jehovah hardop in gebed aanroep en sy naam gebruik. Hy sal jou help.—Spreuke 18:10; Jakobus 4:7.

8. Hoe beskou Christene afgode, beelde en prente wat in valse godsdiens gebruik word?

8 Diegene wat Jehovah wil dien, moet geen afgod, beeld of prent gebruik wat deel van valse godsdiens is nie. Ware Christene “wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie” (2 Korintiërs 5:7). Hulle respekteer God se wet wat die gebruik van enige beeld in aanbidding verbied.—Eksodus 20:4, 5.

Gaan om met Jehovah se volk

9. Watter raad gee die Bybel oor hoe om wys te word?

9 Die Bybel sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word” (Spreuke 13:20). As ons wys wil wees, moet ons met Jehovah se Getuies wandel, of omgaan. Hulle is die mense wat wandel op die weg wat na die lewe lei.—Matteus 7:14.

10. Hoe kan Jehovah se Getuies jou help om God te dien?

10 Die Getuies gee werklik vir mense om. Hulle werk is om opregtes van hart te help om Bybelwaarhede wat na die ewige lewe lei, te verstaan. Hulle kan jou help deur die Bybel gratis met jou te studeer. Hulle sal jou vrae beantwoord en jou wys hoe om Bybelkennis in jou lewe toe te pas.—Johannes 17:3.

11. Hoe sal Christelike vergaderinge jou help?

11 By hulle vergaderinge, wat gewoonlik in ’n Koninkryksaal gehou word, sal jy meer van Jehovah se weë leer. Jou begeerte om ware godsdiens te beoefen, sal versterk word. En jy sal ook opgelei word om ander te help om Bybelwaarhede te leer.—Hebreërs 10:24, 25.

12. Hoe kan gebed jou help om God te dien?

12 Namate jy meer van Jehovah se wil en voorneme leer, sal jou waardering vir sy liefdevolle weë waarskynlik verdiep. Jou begeerte om te doen wat hom behaag en te vermy wat hom mishaag, behoort ook toe te neem. Onthou dat jy Jehovah in gebed kan vra om jou te help om te doen wat reg is en te vermy wat verkeerd is.—1 Korintiërs 6:9, 10; Filippense 4:6.

Hoe kan jy ware aanbidding beoefen?

13. Hoe kan jy Jehovah se hart bly maak?

13 Met verloop van tyd, namate jy geestelik groei, sal jy ongetwyfeld besef dat dit belangrik is om ’n toegewyde, gedoopte Getuie van Jehovah te word. As jy jou by Jehovah se volk skaar, sal jy Jehovah se hart bly maak (Spreuke 27:11). Jy sal onder die gelukkige mense wees van wie God sê: “Ek sal onder hulle woon en onder hulle wandel, en ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.”—2 Korintiërs 6:16.