Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 9

Ware godsdiens kan jou vir ewig tot voordeel strek!

Ware godsdiens kan jou vir ewig tot voordeel strek!

1. Wat sal gebeur as ons ‘nader aan God kom’?

JEHOVAH het die mense lief wat hom dien. As jy Jehovah aanbid, sal hy jou nou en in die toekoms seën. Die Bybel sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.

2. Hoe kan ons nader aan God kom, en watter uitwerking sal dit op ons gebede hê?

2 Om nader aan God te kom, moet jy sy Woord bestudeer en toepas. As jy in ooreenstemming met Jehovah se wil bid, sal hy na jou gebede luister en dit verhoor. Die Christenapostel Johannes het geskryf: “Dít is die vertroue wat ons teenoor [God] het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra. En as ons weet dat hy ons hoor met betrekking tot wat ons ook al vra, weet ons dat ons die dinge gaan kry wat ons gevra het, aangesien ons dit van hom gevra het.”—1 Johannes 5:14, 15.

3-7. Hoe kan ons goddelike wysheid verkry, en hoe kan dit ons help?

3 En wanneer jy nader aan God kom, sal hy jou die wysheid gee om enige situasie in die lewe te hanteer. Die Bybel sê: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra.”—Jakobus 1:5.

4 Hoe kan goddelike wysheid jou help? Om maar een ding te noem, dit kan jou help om te weet watter dinge Jehovah mishaag. Jy kan ook leer waarom hierdie dinge verkeerd is en wat jy kan doen sodat jy dit nie beoefen nie. Sulke kennis kan jou beskerm teen baie van die probleme wat mense oor die algemeen teister. Gehoorsaamheid aan God se raad om sedelik rein te wees, help byvoorbeeld om God se knegte teen ongewenste swangerskappe, seksueel oordraagbare siektes en ongelukkige of gebroke huwelike te beskerm.

5 Wat kan godgegewe kennis nog vir jou doen? Dit kan jou in staat stel om ware genot uit die lewe te put. Dit kan jou help om verstandige besluite oor praktiese sake te neem, soos hoe om jou geldsake te behartig. Jy sal in staat wees om doelwitte na te streef wat die moeite werd is en doelwitte te vermy wat geen blywende waarde het nie.

6 Goddelike wysheid kan jou ook help in jou verhoudings met ander. Jy kan ’n gelukkiger gesinslewe geniet. Jy kan blywende, opregte vriendskappe met ander aankweek, en jy kan selfs die respek wen van mense wat God nie dien nie.

7 Daarbenewens kan die feit dat jy goddelike wysheid het, jou lewensuitkyk verbeter. Dit sal jou help om die probleme en teleurstellings van die lewe die hoof te bied. Jy sal ook ’n gebalanseerde, positiewe uitkyk op die toekoms hê. En ’n positiewe uitkyk sal tot jou geestes- en fisiese gesondheid bydra.—Spreuke 14:30; Jesaja 48:17.

8. Wat sal jy nie vrees as jy God dien nie?

8 As jy die ware God dien, sal jy vry wees van die vrese wat diegene kwel wat hom nie dien nie. Omdat jy weet dat die dooies leweloos in die graf is, sal jy nie dié wat gesterf het, vrees nie. Omdat jy vertroue het in God se belofte dat hy die dooies sal opwek, sal jy nie bang wees om te sterf nie. En aangesien jy weet dat God almagtig is, sal jy nie heksery of die toorkuns vrees nie.—Johannes 8:32.

Die regverdiges sal die aarde besit

9-11. Wie sal in die Paradys lewe, en wie sal nie?

9 As jy nader aan God kom, sal jy nie die toekoms vrees nie. Soos ons gesien het, het die Bybel baie van die probleme wat ons vandag op die aarde sien, voorspel. Jehovah sê vir ons dat hierdie dinge tydelik is; God se Koninkryk sal binnekort hierdie aarde in ’n paradys omskep.—Lukas 21:10, 11, 31; 23:43.

10 Net diegene wat nader aan Jehovah kom en hom dien, sal in die Paradys lewe. Die Bybel sê: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.

11 Diegene wat hardnekkig weier om God se regverdige wette te gehoorsaam, sal hulle lewe vir ewig verloor (2 Tessalonisense 1:8, 9). Hulle sal daar nie meer wees nie. Hulle sal saam met Satan en sy demone die ewige dood sterf (Openbaring 20:10, 14). Maar diegene wat van Jehovah leer en hom dien, sal hulle verlustig in die Paradys op aarde.

’n Wonderlike toekoms!

12. Wat sê die Bybel oor die toekoms?

12 Jehovah stel wonderlike dinge in die vooruitsig vir dié wat hom liefhet! Kyk net na wat sy Woord omtrent lewe op die Paradysaarde sê:

  • Volop kos om te eet: “Daar sal volop graan [of, kos] op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.

  • Goeie behuising: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon.”—Jesaja 65:21.

  • Genotvolle werk: “Die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut. Hulle sal nie verniet swoeg nie.”—Jesaja 65:22, 23.

  • Geen siekte: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.

  • Geen gebreke: “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep.”—Jesaja 35:5, 6.

  • Geen pyn, verdriet of dood: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

  • Geen oorlog: “[God] laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde.”—Psalm 46:9.

  • Ewige lewe: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.

13. Wie alleen kan hierdie aarde in ’n paradys omskep, en waarom?

13 Mense kan nooit sulke dinge teweegbring nie, maar Jehovah het die krag om alles te doen wat hy gesê het hy sal doen. Niks kan hom keer om te doen wat hy wil doen nie. Die Bybel sê: “By God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie.”—Lukas 1:37.

14. Hoe kan jy op die weg na die ewige lewe kom?

14 Deur middel van sy Getuies gee Jehovah mense oor die hele wêreld die geleentheid om ‘deur die nou poort in te gaan’ en te wandel op die weg wat na die ewige lewe lei. Mag jy onder die gelukkige mense wees wat hierdie uitnodiging aanvaar. Mag jy die ware godsdiens beoefen en Jehovah se seën vir ewig geniet!—Matteus 7:13, 14.