Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 7

Wie beoefen die ware godsdiens?

Wie beoefen die ware godsdiens?

1. Wat moet ons doen om God te behaag?

AS ONS ’n intieme, liefdevolle verhouding met God wil geniet, moet ons niks met valse godsdiens te doen hê nie. Ons moet die ware godsdiens beoefen. Vandag doen miljoene mense oor die hele aarde dit.

2. Waar kan Jehovah se Getuies gevind word, en watter werk doen hulle?

2 Soos die Bybel voorspel het, maak ware aanbidders “’n groot menigte” uit, wat “uit alle nasies en stamme en volke en tale” kom (Openbaring 7:9). In 235 lande help miljoene Getuies van Jehovah ander daadwerklik om van Jehovah se liefdevolle weë en vereistes te leer.

Hoe om die ware aanbidders te identifiseer

3. Tot wie rig die Getuies hulle aanbidding, en watter vorme van aanbidding vermy hulle?

3 Die Getuies erken dat net Jehovah waardig is om aanbid te word. Hulle weier om hulle voor afgode of godsdiensprente neer te buig (1 Johannes 5:21). Hulle vereer nie die dooies deur deel te neem aan lykwake of ander seremonies wat valse godsdiensopvattings en “leringe van demone” bevorder nie (1 Timoteus 4:1). Maar hulle vertroos wel diegene wat bedroef is deur hulle te vertel van God se belofte dat daar ’n opstanding van die dooies op ’n paradysaarde sal wees.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

4. Wat is die standpunt van God se knegte met betrekking tot die toorkuns?

4 Die Getuies het niks met die toorkuns of heksery te doen nie omdat hulle weet dat hierdie dinge van die Duiwel af kom. Hulle vertrou nie op die toorkuns om hulle te beskerm nie—hulle vertroue is op Jehovah.—Spreuke 18:10.

5. Hoe is Jehovah se Getuies “geen deel van die wêreld” nie?

5 Jesus het gesê dat sy dissipels “geen deel van die wêreld” sou wees nie (Johannes 17:16). Jesus het geweier om enigiets met die politiek van sy dag te doen te hê (Johannes 6:15). Die Getuies het eweneens niks te doen met die politiek, nasionalisme en klassestryde van hierdie wêreld nie. Maar hulle betaal wel hulle belasting en gehoorsaam die wette van die land waarin hulle woon.—Johannes 15:19; Romeine 13:1, 7.

6. Watter riglyne volg God se knegte met betrekking tot die huwelik en egskeiding?

6 Omdat Getuies gehoorsaam is aan die regering se wette, maak hulle seker dat hulle huwelik gewettig word (Titus 3:1). Hulle is gehoorsaam aan God se wette en vermy derhalwe veelwywery (1 Timoteus 3:2). En aangesien knegte van God Bybelbeginsels in hulle lewe toepas, is dit minder waarskynlik dat hulle huwelik op ’n egskeiding sal uitloop.

7. Hoe betoon die Getuies liefde aan mekaar?

7 Die Getuies het mekaar lief. Hierdie liefde, tesame met hulle liefde vir God, verenig hulle in ’n ware broederskap, al is hulle uit baie stamme en nasies. Ten tye van ’n ramp of van nood snel die Getuies mekaar te hulp. Die Getuies betoon liefde deur die manier waarop hulle lewe.—Johannes 13:35.

Jehovah se Getuies is verenig in ’n wêreldwye broederskap

8. Watter slegte gebruike vermy God se knegte?

8 Jehovah se knegte streef daarna om ’n eerlike, onberispelike lewe te lei. Hulle vermy diefstal, leuens, onsedelikheid, dronkenskap en oneerlike sakegebruike. Mans slaan nie hulle vrouens nie. Party het hierdie dinge gedoen voordat hulle Getuies geword het, maar met Jehovah se hulp het hulle opgehou om dit te doen. Hulle is “skoon gewas” in God se oë.—1 Korintiërs 6:9-11.

Daders van God se wil

9. Wat het een boek oor Afrika se geestelike kerke gesê?

9 Baie godsdienste beweer natuurlik dat hulle die waarheid het. Hulle wys dalk op indrukwekkende werke om hulle bewerings te staaf. Oor sogenaamde geestelike kerke in Afrika sê een boek byvoorbeeld: “Die rol van die towenaar of toordokter is grootliks deur [nuwe Christengroepe] oorgeneem. . . . Hulle beweer dat hulle profeteer en wonderwerke verrig. Profete onder hulle sien visioene en lê drome uit. Hulle gebruik wywater, heilige olie, as, kerse en wierook om te genees en siektes te voorkom.”

10, 11. Waarom toon sogenaamde wonderwerke van vandag nie dat ’n godsdiens van God af kom nie?

10 Lidmate van hierdie godsdienste beweer dat wonderwerke bewys dat hulle godsdiens deur God geseën word. Maar sogenaamde wonderwerke bewys nie dat ’n godsdiens deur Jehovah goedgekeur word nie. Satan stel sommige valse aanbidders in staat om “kragtige werke” te verrig (2 Tessalonisense 2:9). Daarbenewens het die Bybel voorspel dat wonderdadige gawes wat van God af kom, soos om te profeteer, in tale te praat en spesiale kennis te besit, ‘weggedoen sal word’.—1 Korintiërs 13:8.

11 Jesus het gewaarsku: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid.”—Matteus 7:21-23.

12. Wie sal in die Koninkryk van die hemele ingaan?

12 Wie sal dan in die Koninkryk van die hemele ingaan? Diegene wat Jehovah se wil doen.

Verkondigers van God se Koninkryk

13. Watter werk wil God hê dat sy knegte vandag moet doen, en wie doen dit?

13 Wat is vandag God se wil vir sy knegte? Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Dit is die werk wat Jehovah se Getuies met ywer doen.

14. Wat is God se Koninkryk, en wie sal in die Koninkryk heers?

14 Oor “die hele bewoonde aarde” verkondig Jehovah se Getuies God se Koninkryk as ’n hemelse regering wat oor die hele aarde in regverdigheid sal heers. Hulle leer mense dat Jehovah Christus Jesus as Koning van daardie Koninkryk aangestel het, tesame met 144 000 medeheersers wat onder die mensdom uitgekies is.—Daniël 7:14, 18; Openbaring 14:1, 4.

15. Wat sal deur die Koninkryk vernietig word?

15 Die Getuies gebruik die Bybel en wys vir mense dat God se Koninkryk Satan se hele stelsel sal vernietig. Valse godsdiens met sy leringe wat God oneer aandoen en die Duiwel verheerlik, sal nie meer daar wees nie! (Openbaring 18:8). Alle menseregerings wat God teëstaan, sal ook nie meer daar wees nie!—Daniël 2:44.

16. Wie sal Christus Jesus se onderdane wees, en waar sal hulle lewe?

16 Daarbenewens maak Jehovah se Getuies dit bekend dat Christus Jesus wonderlike voordele sal bring vir almal wat doen wat God vereis. Hulle sal sy onderdane op aarde wees. Die Bybel belowe: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red.”—Psalm 72:12, 13.

17. Wie alleen verkondig God se Koninkryk?

17 Daar is geen ander groep mense wat God se wil doen deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie. Net Jehovah se Getuies maak God se Koninkryk oor die hele aarde bekend.