Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 3

Wie lewe in die geesteryk?

Wie lewe in die geesteryk?

1. Hoe is tradisionele godsdiens al met ’n berg vergelyk?

TRADISIONELE godsdiensopvattings in Afrika is al met ’n berg vergelyk. God, wat die allergrootste geestelike krag het, is heel bo. Aan die kante is minder belangrike gode, of geeste, wat God se knegte is. Langs hulle is die voorouers, wat hulle families op aarde in gedagte hou en daadwerklike belangstelling in hulle welsyn toon. Aan die onderkant is die minder belangrike geestelike kragte: die toorkuns, waarsêery en heksery.

2. Hoe toon een gesegde in Afrika dat tradisionele opvattings ’n invloed op godsdiens het?

2 Hierdie tradisionele opvattings het ’n kragtige invloed op ander godsdienste in Afrika gehad. Een gesegde in Afrika stel dit so: “Getrouheid aan die Geloof (Christelik of Islamities) weerhou ons nie daarvan om die gode van ons tuiste te aanbid nie.”

3. Waar kan ons die waarheid leer aangaande diegene wat in die geesteryk woon?

3 Hoe waar is tradisionele opvattings in Afrika? Die Bybel vertel ons die waarheid aangaande diegene wat in die geesteryk woon.

Jehovah, die ware God

4. Wat glo al die vernaamste godsdienste in Afrika?

4 Afrika se drie vernaamste godsdiensgroepe glo almal dat God bestaan en dat hy oppermagtig is. Die Bybel beskryf hom as “die God van die gode en die Here van die here, die groot, magtige en vreesinboesemende God” (Deuteronomium 10:17). Moslems glo ook in een oppermagtige God. Aangaande tradisionele godsdiens in Afrika sê professor Geoffrey Parrinder: “Die meeste Afrikane het nog altyd in ’n oppermagtige God geglo, die vader van gode en mense, die skepper van die heelal.”

5. Wat is party name wat gebruik word om God te identifiseer?

5 Maar hoewel soveel mense in God glo, het die meeste nie ’n duidelike begrip van wie God is nie. Een van die eerste stappe om iemand te leer ken, is om uit te vind wat sy naam is. Onder die godsdienste is daar verwarring omtrent God se naam. In die Christendom word hy oor die algemeen God genoem, ’n titel wat “Magtige” beteken. Vir die Moslems is hy Allah. Onder diegene wat tradisionele godsdiens beoefen, verskil die naam wat gebruik word om die Allerhoogste te identifiseer, van taal tot taal. In sy boek Concepts of God in Africa noem John S. Mbiti meer as 500 verskillende Afrikaname en -titels vir God. Byvoorbeeld, in Joroeba (Nigerië) word God Olodumare genoem; vir die Kikuyuvolk (Kenia) is hy Ngai; en onder die Zulu’s (Suid-Afrika) is hy uNkulunkulu.

6, 7. Wat is God se naam, en hoe weet ons dit?

6 Wat sê God self omtrent sy naam? Toe God Moses beveel het om die Israeliete uit Egipte te lei, het Moses gevra: “Gestel ek kom nou by die kinders van Israel en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur’, en hulle sê vir my: ‘Wat is sy naam?’ Wat sal ek vir hulle sê?”—Eksodus 3:13.

7 God het geantwoord: “Só moet jy vir die kinders van Israel sê: ‘Jehovah, die God van julle voorvaders, . . . het my na julle toe gestuur.’ Dit is my naam tot onbepaalde tyd, en dit is my gedagtenis van geslag tot geslag” (Eksodus 3:15). Hierdie naam van God kom meer as 7 000 keer in die Bybel voor, hoewel party Bybelvertalers dit met die titels “God” of “Here” vervang het.

8. Watter soort persoon is Jehovah, en wat moet ons doen as ons sy guns wil geniet?

8 Watter soort persoon is Jehovah werklik? Hy is ’n gees, almagtig en glorieryk. Hy is oppermagtig en weergaloos—hy het geen gelyke nie (Deuteronomium 6:4; Jesaja 44:6). Jehovah het vir Moses gesê: “Ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis.” Met ander woorde, as ons Jehovah se guns wil geniet, moet ons hom alleen aanbid. Hy wil nie hê dat ons enigiets of enigiemand anders aanbid nie.—Eksodus 20:3-5.

Jesus Christus, Koning van God se Koninkryk

9. Waarom kan ons sê dat Jesus nie gelyk is aan Jehovah nie?

9 Daar is vandag groot verwarring oor wie Jesus is. Baie in die Christendom glo dat Jesus deel is van ’n “Heilige” Drie-eenheid. Maar die Bybel leer nie dat God drie persone in een is nie. En dit leer ook nie dat Jesus gelyk is aan Jehovah nie. Jesus het self gesê: “Die Vader is groter as ek.”—Johannes 14:28.

10. Waar was Jesus voordat hy aarde toe gekom het?

10 Die Bybel leer dat Jesus as ’n magtige geesskepsel in die hemel gelewe het voordat hy as ’n mens op aarde gelewe het. Net soos Jehovah Adam en Eva op aarde geskep het, het Hy ook geespersone in die hemel geskep. Jesus was die eerste geespersoon wat Jehovah geskep het.—Johannes 17:5; Kolossense 1:15.

11. Hoe het dit gebeur dat Jesus as ’n mens gebore is?

11 Ongeveer 2 000 jaar gelede het Jehovah die lewe van hierdie geesskepsel na die baarmoeder van ’n maagd met die naam Maria oorgeplaas. Die engel Gabriël het vir haar gesê: “Jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Jesus noem. En hy sal . . . as koning . . . heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”—Lukas 1:31, 33. *

12. Wat is een rede waarom Jesus aarde toe gekom het?

12 Jesus is dus gebore, het ’n volwasse man geword en het mense van Jehovah se wil en voorneme geleer. Hy het vir ’n Romeinse goewerneur gesê: “Hiervoor is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). As ons kyk na wat Jesus mense geleer het, kan ons uitvind wat die waarheid aangaande God se wil en voorneme is. Ons kan uitvind hoe om God se goedkeuring te verkry.

13. Wat is ’n tweede rede waarom Jesus aarde toe gekom het?

13 ’n Tweede rede waarom Jesus in die wêreld ingekom het, was om sy menselewe te gee as ’n losprys vir die mensdom (Matteus 20:28). Hy het dit gedoen sodat ons vry kan wees van die sonde wat ons van ons voorvader Adam geërf het. En dit maak dit vir ons moontlik om vir ewig te lewe. Die apostel Johannes het geskryf: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.

14. (a) Wat het met Jesus ná sy dood as ’n mens gebeur? (b) Wat is nou Jesus se posisie in die hemel?

14 Ná sy dood as ’n mens is Jesus na die hemel opgewek, waar hy weer as ’n magtige geesskepsel gelewe het (Handelinge 2:32, 33). Later het Jehovah hom “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien” (Daniël 7:13, 14). Jesus is ’n magtige Koning gemaak; hy is die Koning van Jehovah se hemelse regering. Hy sal binnekort sy mag in die hele aarde toon.

Engele, God se bedienaars

15. Wanneer en waar is die engele geskep?

15 Jehovah en Jesus is nie die enigstes wat in die geesteryk woon nie. Jehovah het ander geesskepsele, die engele, geskep. Gabriël, wat met Maria gepraat het, is een van hulle. Die engele het nie hulle lewe as mense op aarde begin nie. Hulle is in die hemel geskep lank voordat mense op aarde geskep is (Job 38:4-7). Daar is miljoene engele.—Daniël 7:10.

Getroue engele aanvaar nie aanbidding nie

16. Waarom moet mense nie engele aanbid nie?

16 Getroue engele wil nie hê dat ons hulle moet aanbid nie. Engele het by twee geleenthede die apostel Johannes bestraf toe hy hulle probeer aanbid het en gesê: “Pas op! Moet dit nie doen nie! . . . Aanbid God.”—Openbaring 19:10; 22:8, 9.

17. Wat toon dat engele God se knegte kan beskerm, en waarom is dit gerusstellend?

17 Engele verskyn nie meer aan God se knegte op aarde, soos toe hulle Jesus se apostels uit die tronk bevry het nie (Handelinge 5:18, 19). Maar as ons Jehovah volgens sy Woord, die Bybel, aanbid, kan ons seker wees dat God se onsigbare, kragtige engelemagte ons sal beskerm. Die Bybel sê: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle” (Psalm 34:7; 91:11). Waarom moet dit ons gerusstel? Omdat daar gevaarlike vyande in die geesteryk is wat ons om die lewe wil bring!

Satan, ’n vyand van God

18. (a) Waarom het een engel teen God in opstand gekom? (b) Wat word hierdie opstandige engel genoem?

18 Nie al God se engele het aan hom getrou gebly nie. Party het teen hom in opstand gekom. Hulle het hulleself vyande van God en van mense op die aarde gemaak. Hoe het dit gebeur? Al die engeleskepsele wat Jehovah geskep het, was regverdig en goed. Maar een van hierdie volmaakte geesseuns wou hê dat mense hom moet aanbid en het ooreenkomstig hierdie bose begeerte opgetree. Hierdie geesskepsel is die naam Satan gegee, wat “Teenstander [van God]” beteken. Hy word ook Duiwel genoem, wat “Lasteraar” beteken, aangesien hy bose leuens oor Jehovah vertel.

19. Waarom en hoe het Satan Job geteister?

19 Satan plaas mense onder druk om saam met hom teen God in opstand te kom. Dink byvoorbeeld aan wat hy aan God se getroue kneg Job gedoen het. Job was ’n baie ryk man. Hy het 7 000 skape, 3 000 kamele, 1 000 beeste sowel as 500 eselinne gehad. Hy het ook tien kinders en baie knegte gehad. Eers het Satan Job se diere en knegte doodgemaak. Toe het hy “’n sterk wind” laat opkom om ’n huis te verwoes, waarin al Job se kinders gesterf het. Daarna het Satan Job met “kwaadaardige swere getref, van die sool van sy voet tot die kroon van sy kop”.—Job 1:3-19; 2:7.

20. (a) Hoe is Job vir sy getrouheid beloon? (b) Hoewel Job aan God getrou gebly het, wat het Satan met baie ander mense reggekry?

20 Ten spyte van hierdie bittere beproewing het Job aan God getrou gebly. Jehovah het hom dus genees en “boonop alles wat Job voorheen gehad het, in dubbele mate begin gee” (Job 42:10). Satan kon nie daarin slaag om Job sy onkreukbaarheid te laat prysgee nie, maar hy het daarin geslaag om baie ander mense van God af te keer. Die Bybel sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.”—1 Johannes 5:19.

21. (a) Hoe het Satan getoon dat hy aanbid wil word? (b) Waarom het Jesus geweier om Satan te aanbid?

21 Satan wil hê dat ons hom moet aanbid. Dit blyk uit sy versoeking van Jesus byna 2 000 jaar gelede. Die Bybel vertel: “Die Duiwel [het Jesus] saamgeneem na ’n buitengewoon hoë berg en hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid gewys, en hy het vir hom gesê: ‘Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig.’” Jesus het geweier en gesê: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig’” (Matteus 4:8-10). Dit is duidelik dat Jesus Jehovah se wet geken het, en hy het nie gedoen wat Satan wou hê nie.

Demone, bose geeste

22. Wat het die demone aan mense gedoen?

22 Ander engele het saam met Satan teen God in opstand gekom. Hierdie demoonengele is vyande van mense op aarde. Hulle is wreed en boosaardig. In die verlede het hulle party mense stom en blind gemaak (Matteus 9:32, 33; 12:22). Hulle het ander siek gemaak of hulle waansinnig laat optree (Matteus 17:15, 18; Markus 5:2-5). Hulle het selfs kinders geteister.—Lukas 9:42.

23. (a) Wat wil bose geeste van mense hê? (b) Wat het Satan en sy demone mense deur lis gekry om te doen?

23 Soos Satan wil hierdie bose geeste aanbid word. In plaas daarvan dat hulle aanbidding deur mense verwerp—omdat hulle besef dat slegs Jehovah aanbid moet word—begeer hulle dit, soek hulle dit en bevorder hulle dit. Satan en sy demone het mense deur lis, leuens en vrees gekry om hulle te aanbid. Min mense weet natuurlik dat hulle Satan en sy demone aanbid. Die meeste mense sal geskok wees om uit te vind dat hulle godsdiens Satan vereer. Maar die Bybel waarsku dat “die nasies die dinge wat hulle offer, aan demone offer en nie aan God nie”.—1 Korintiërs 10:20.

24. Wat is een listige plan wat Satan gebruik om mense te mislei?

24 Een manier waarop Satan en sy demone mense mislei om hulle te aanbid, is deur verkeerde idees te versprei omtrent dié wat gesterf het. Kom ons kyk wat die Bybel hieroor leer.

^ par. 11 Die Koran (die heilige boek van die Moslems) verwys na die wonderdadige geboorte van Jesus in Soera 19 (Maria). Dit sê: “Toe het Ons Ons gees tot [Maria] gestuur en hy het aan haar verskyn in die gestalte van ’n volmaakte man. Sy het gesê: Ek neem my toevlug tot die Barmhartige teen u, indien u iemand is wat teen die kwaad waak. Hy het geantwoord: Ek is maar net ’n boodskapper van u Here wat sê: Ek sal aan haar ’n rein seun gee. Sy het geantwoord: Hoe kan ek ’n seun baar terwyl geen man my aangeraak het nie, en ek ook nie ontugtig was nie. Hy het gesê: So sal dit wees. U Here sê: Dit is maklik vir My; Ons sal hom ’n teken vir die mense maak, en ’n genade van Ons. En dit is ’n beslote saak.”