1 Samuel 14:1-52
14 En op ’n dag het Joʹnatan,+ die seun van Saul, vir die dienaar wat sy wapens dra, gesê: “Kom tog en laat ons oorgaan na die voorpos van die Filistyne wat daar oorkant is.” Maar hy het dit nie vir sy vader gesê nie.+
2 En Saul het aan die rand van Giʹbea+ gebly onder die granaatboom wat in Migron is; en die manskappe wat by hom was, was ongeveer seshonderd man.+
3 (En Ahiʹa, die seun van Ahiʹtub,+ die broer van Iʹkabod,+ die seun van Piʹnehas,+ die seun van Eli,+ die priester van Jehovah in Silo,+ het die efod gedra.)+ En die manskappe het nie geweet dat Joʹnatan weggegaan het nie.
4 En tussen die deurgange wat Joʹnatan gesoek het om oor te gaan teen die voorpos+ van die Filistyne, was daar ’n tandvormige rots aan hierdie kant en ’n tandvormige rots aan die ander kant, en die naam van die een was Boses en die naam van die ander was Sene.
5 Die een tand was ’n pilaar in die noorde teenoor Migmas,+ en die ander was in die suide teenoor Geba.+
6 Toe het Joʹnatan vir die dienaar, sy wapendraer, gesê: “Kom tog en laat ons oorgaan na die voorpos van hierdie onbesnede+ manne. Miskien sal Jehovah vir ons optree, want daar is geen hindernis vir Jehovah om deur baie of deur min te red nie.”+
7 Hierop het sy wapendraer vir hom gesê: “Doen alles wat in u hart is. Wend u waarheen u wil. Kyk, ek is by u in ooreenstemming met u hart.”+
8 Toe het Joʹnatan gesê: “Kyk, ons gaan oor na die manne toe, en laat ons ons aan hulle vertoon.
9 As hulle vir ons só sê: ‘Staan stil totdat ons by julle kom!’ dan moet ons staan waar ons is, en ons moenie na hulle toe opgaan nie.
10 Maar as hulle só sê: ‘Kom teen ons op!’ dan moet ons opgaan, want Jehovah sal hulle beslis in ons hand gee, en dít is vir ons die teken.”+
11 Daarop het hulle twee hulle aan die voorpos van die Filistyne vertoon. En die Filistyne het gesê: “Hier kom die Hebreërs uit die gate waar hulle weggekruip het.”+
12 Toe het die manne van die voorpos Joʹnatan en sy wapendraer geantwoord en gesê: “Kom na ons toe op, en ons sal julle iets wys!”+ Dadelik het Joʹnatan vir sy wapendraer gesê: “Kom op agter my aan, want Jehovah sal hulle beslis in die hand van Israel gee.”+
13 En Joʹnatan het op sy hande+ en voete bly opgaan, en sy wapendraer agter hom aan; en hulle het voor Joʹnatan begin val,+ en sy wapendraer het hulle agter hom doodgemaak.+
14 En die eerste slagting wat Joʹnatan en sy wapendraer onder hulle aangerig het, was ongeveer twintig man binne ongeveer die helfte van die ploegvoor in ’n akker land.
15 Toe het daar ’n bewing+ in die kamp in die veld en onder al die manskappe van die voorpos ontstaan; en die stroopbende+ het gebewe, ja hulle, en die aarde het begin skud,+ en dit het ’n bewing geword wat van God kom.+
16 En die wagte van Saul in Giʹbea+ van Benjamin het dit gesien, en kyk! die verwarring het in alle rigtings versprei.+
17 En Saul het vir die manskappe wat by hom was, gesê: “Tel asseblief, en kyk wie van ons af weggegaan het.” Toe hulle tel, kyk! toe was Joʹnatan en sy wapendraer nie daar nie.
18 Saul het toe vir Ahiʹa+ gesê: “Bring tog die ark van die ware God hier!”+ (Want die ark van die ware God was op dié dag by die kinders van Israel.)+
19 En terwyl Saul met die priester gepraat het,+ het die verwarring wat in die kamp van die Filistyne was, voortgeduur en al hoe groter geword. Toe het Saul vir die priester gesê: “Trek jou hand terug.”
20 So is Saul en al die manskappe wat by hom was, opgeroep.+ En hulle het tot by die geveg gekom, en kyk, elkeen se swaard was teen sy medemens;+ hulle is in baie groot verwarring op die vlug gejaag.
21 En die Hebreërs wat soos voorheen tot die Filistyne behoort het+ en wat saam met hulle in die kamp rondom opgetrek het, ja, ook hulle het gewys dat hulle met Israel was wat by Saul en Joʹnatan was.
22 Ook al die manne van Israel wat in die bergstreek van Eʹfraim weggekruip het,+ het gehoor dat die Filistyne gevlug het, en ook dié het hulle kort op hulle hakke in die geveg agtervolg.
23 En Jehovah het Israel op dié dag gered,+ en die geveg het na Bet-Awen+ oorgegaan.
24 En die manne van Israel was op dié dag onder groot druk, en tog het Saul die manskappe ’n eed opgelê+ en gesê: “Vervloek is die man wat brood eet voor die aand en voordat ek op my vyande wraak geneem het!”+ En nie een van die manskappe het brood geproe nie.+
25 En almal van die land het in die bos gekom, toe daar heuning+ op die oppervlak van die veld was.
26 Toe die manskappe in die bos kom, kyk! toe het daar heuning gedrup,+ maar niemand het sy hand na sy mond gebring nie, want die manskappe was bang vir die eed.+
27 Wat Joʹnatan betref, hy het nie gehoor toe sy vader die manskappe onder ’n eed gestel het nie,+ daarom het hy die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in die heuningkoek gedoop en sy hand weer na sy mond gebring, en sy oë het begin straal.+
28 Hierop het een van die manskappe geantwoord en gesê: “Jou vader het die manskappe plegtig onder eed gestel en gesê: ‘Vervloek is die man wat vandag brood eet!’”+ (En die manskappe het begin moeg word.)+
29 Joʹnatan het egter gesê: “My vader het die land in die ongeluk gestort.+ KYK asseblief hoe my oë gestraal het omdat ek hierdie klein bietjie heuning geproe het.+
30 Hoeveel te meer as die manskappe vandag maar net geëet het+ van die buit van hulle vyande wat hulle gevind het!+ Want nou was die slagting onder die Filistyne nie groot nie.”+
31 En op dié dag het hulle die Filistyne van Migmas+ af tot by Aʹjalon+ bly verslaan, en die manskappe het baie moeg geword.+
32 En die manskappe het begin om gulsig op die buit af te pyl+ en skape en beeste en kalwers te neem en dit op die grond te slag, en die manskappe het dit met die bloed en al begin eet.+
33 Toe het hulle Saul vertel en gesê: “Kyk! Die manskappe sondig teen Jehovah deur met die bloed en al te eet.”+ Hierop het hy gesê: “Julle het verraderlik gehandel. Rol nou eers ’n groot klip na my toe.”
34 Daarna het Saul gesê: “Versprei julle onder die manskappe, en julle moet vir hulle sê: ‘Bring elkeen van julle sy bul en elkeen sy skaap hier na my toe, en julle moet op hierdie plek slag en eet, en julle mag nie teen Jehovah sondig deur met die bloed en al te eet nie.’”+ Toe het al die manskappe dié nag elkeen sy bul wat in sy hand was, daarheen gebring en daar geslag.
35 En Saul het ’n altaar+ vir Jehovah gebou. Daarmee het hy ’n begin gemaak met die bou van altare vir Jehovah.+
36 Later het Saul gesê: “Laat ons in die nag aftrek agter die Filistyne aan en hulle plunder totdat die oggend lig word,+ en ons moet nie één onder hulle laat oorbly nie.”+ Hierop het hulle gesê: “Doen alles wat goed is in u oë.” Toe het die priester gesê: “Laat ons hier tot die ware God nader.”+
37 En Saul het God begin raadpleeg: “Sal ek aftrek agter die Filistyne aan?+ Sal u hulle in die hand van Israel gee?”+ En hy het hom dié dag nie geantwoord nie.+
38 Toe het Saul gesê: “Kom nader hierheen,+ al julle vernaamstes van die volk,+ en stel vas en kyk in watter opsig hierdie sonde vandag tot stand gekom het.
39 Want so waar as Jehovah lewe, wat die Verlosser van Israel is, selfs as dit in my seun Joʹnatan is, sal hy nogtans sekerlik sterf.”+ Maar niemand uit al die manskappe het hom geantwoord nie.
40 En hy het vir die hele Israel gesê: “Julle sal aan die een kant wees, en ek en my seun Joʹnatan—ons sal aan die ander kant wees.” Hierop het die manskappe vir Saul gesê: “Doen wat goed is in u oë.”+
41 En Saul het vir Jehovah gesê: “O God van Israel, gee tog Tummim!”+ Toe is Joʹnatan en Saul aangewys, en die manskappe het uitgegaan.+
42 Saul het toe gesê: “WERP die lot+ tussen my en my seun Joʹnatan.” En Joʹnatan is aangewys.
43 Toe het Saul vir Joʹnatan gesê: “Vertel my tog: Wat het jy gedoen?”+ Daarop het Joʹnatan hom vertel en gesê: “Ek het inderdaad ’n bietjie heuning geproe aan die punt van die staf wat in my hand is.+ Hier is ek! Laat ek sterf!”
44 Hierop het Saul gesê: “Mag God so doen en mag hy so daaraan toevoeg+ as jy nie sekerlik sterf nie,+ Joʹnatan.”
45 Maar die manskappe het vir Saul gesê: “Moet Joʹnatan sterf, wat hierdie groot redding+ in Israel bewerk het? Dit is ondenkbaar!+ So waar as Jehovah lewe,+ nie eens ’n enkele haar+ van sy kop sal op die aarde val nie; want hy het vandag saam met God gewerk.”+ Daarop het die manskappe Joʹnatan losgekoop,+ en hy het nie gesterf nie.
46 Toe het Saul opgehou om die Filistyne te agtervolg, en die Filistyne het na hulle plek gegaan.+
47 En Saul het die koningskap oor Israel+ geneem en rondom teen al sy vyande oorlog gevoer, teen Moab+ en teen die kinders van Ammon+ en teen Edom+ en teen die konings van Soba+ en teen die Filistyne;+ en oral waarheen hy hom gewend het, het hy veroordeling uitgeoefen.+
48 En hy het dapper opgetree+ en Aʹmalek verslaan+ en Israel uit die hand van hulle plunderaar verlos.
49 En die seuns van Saul was Joʹnatan+ en Jiswi en Malkisua,+ en wat die name van sy twee dogters betref, die naam van die een wat eerste gebore is, was Merab+ en die naam van die jongste Migal.+
50 En die naam van Saul se vrou was Ahiʹnoam, die dogter van Ahiʹmaäs, en die naam van sy leërhoof was Abner,+ die seun van Ner, die oom van Saul.
51 En Kis+ was die vader van Saul, en Ner,+ die vader van Abner, was die seun van Abiʹël.
52 En al die dae van Saul het die oorlog teen die Filistyne hewig gebly.+ Wanneer Saul ’n sterk man of ’n dapper persoon gesien het, het hy hom by hom versamel.+