1 Samuel 17:1-58
17 En die Filistyne+ het hulle kampe vir oorlog bymekaargebring. Toe hulle bymekaargebring is by Sogo,+ wat aan Juda behoort, het hulle tussen Sogo en Aseʹka,+ in Efes-Dammim,+ kamp opgeslaan.
2 Wat Saul en die manne van Israel betref, hulle het bymekaargekom en in die Elalaagvlakte+ kamp opgeslaan, en hulle het hulle in slagorde opgestel om die Filistyne te ontmoet.
3 En die Filistyne het aan hierdie kant teen die berg gestaan, en die Israeliete het aan die ander kant teen die berg gestaan, met die vallei tussen hulle.
4 En ’n baasvegter het uit die kampe van die Filistyne begin kom, en sy naam was Goʹliat,+ uit Gat;+ sy hoogte was ses el en ’n span.+
5 En daar was ’n koperhelm op sy kop, en hy het ’n geskubde pantser aangehad, en die gewig van die pantser+ was vyfduisend sikkels koper.
6 En daar was koperskeenplate bo sy voete en ’n koperwerpspies+ tussen sy skouers.
7 En die houtsteel van sy spies was soos ’n wewersbalk,+ en die lem van sy spies was seshonderd sikkels yster; en die draer van die groot skild het voor hom uit gestap.
8 Toe het hy gaan staan en na die gevegslinies van Israel begin roep+ en vir hulle gesê: “Waarom trek julle uit om julle in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn en julle knegte+ wat aan Saul behoort nie? Kies vir julle ’n man, en laat hom na my toe afkom.
9 As hy teen my kan veg en hy my doodmaak, dan sal ons julle knegte word. Maar as ek teen hom opgewasse is en ek hom doodmaak, dan moet julle ons knegte word, en julle moet ons dien.”+
10 En die Filistyn het verder gesê: “Ek tart+ vandag die gevegslinies van Israel uit. Gee my ’n man, en laat ons teen mekaar veg!”+
11 Toe Saul+ en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, het hulle verskrik en baie bang geword.+
12 Dawid was dan nou die seun van dié Efratiet+ uit Betlehem van Juda met die naam Isai. En hy het agt seuns gehad.+ En in die dae van Saul was die man reeds oud onder die manne.
13 En die drie oudste seuns van Isai het weggegaan. Hulle het Saul na die oorlog gevolg,+ en die name van sy drie seuns wat na die oorlog gegaan het, was Eliʹab,+ die eersgeborene, en sy tweede seun Abinaʹdab+ en die derde Samma.+
14 En Dawid was die jongste,+ en die drie oudstes het Saul gevolg.
15 En Dawid het heen en weer gegaan van Saul af om die skape van sy vader in Betlehem op te pas.+
16 En die Filistyn het veertig dae lank aangehou om soggens vroeg en saans vorentoe te kom en sy plek in te neem.
17 Toe het Isai vir sy seun Dawid gesê: “Neem asseblief hierdie efa geroosterde graan+ en hierdie tien brode vir jou broers, en bring dit gou na die kamp vir jou broers.
18 En hierdie tien porsies melk moet jy vir die hoof oor duisend bring;+ ook moet jy na jou broers omsien wat hulle welstand betref,+ en jy moet ’n pand van hulle neem.”
19 Intussen was Saul en hulle en al die ander manne van Israel in die Elalaagvlakte,+ waar hulle teen die Filistyne geveg het.+
20 En Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die skape aan die wagter se sorg oorgelaat en opgelaai en gegaan net soos Isai hom beveel het.+ Toe hy by die kampterrein+ kom, het die krygsmag na die gevegslinie uitgetrek,+ en hulle het ’n oorlogskreet aangehef.
21 En Israel en die Filistyne het slagorde teenoor slagorde begin opstel.
22 Onmiddellik het Dawid die bagasie+ van hom afgehaal en dit aan die sorg van die bewaker van die bagasie+ oorgelaat en na die gevegslinie gehardloop. Toe hy daar kom, het hy na die welstand van sy broers begin vra.+
23 Terwyl hy met hulle gepraat het, kyk, toe het die baasvegter met die naam Goʹliat,+ die Filistyn uit Gat,+ uit die gevegslinies van die Filistyne opgekom, en hy het dieselfde woorde as tevore begin spreek,+ en Dawid het geluister.
24 Toe al die manne van Israel die man sien, kyk, toe het hulle vir hom gevlug en was hulle baie bang.+
25 En die manne van Israel het begin sê: “Het julle die man gesien wat daar opkom? Want hy kom op om Israel uit te tart.+ En die koning sal die man wat hom doodmaak, met groot rykdom verryk, en hy sal sy dogter aan hom gee,+ en hy sal die huis van sy vader in Israel vrystel.”+
26 En Dawid het vir die manne wat naby hom gestaan het, begin sê: “Wat sal gedoen word met die man wat daardie Filistyn daar oorkant doodmaak+ en die smaad van Israel afwend?+ Want wie is hierdie onbesnede+ Filistyn dat hy die gevegslinies van die lewende God+ moet uittart?”+
27 Toe het die manskappe dieselfde woorde as tevore met hom gespreek en gesê: “So sal gedoen word met die man wat hom doodmaak.”
28 En sy oudste broer Eliʹab+ het gehoor terwyl hy met die manne praat, en Eliʹab se toorn het teen Dawid ontvlam,+ sodat hy gesê het: “Waarom het jy afgekom? En aan wie se sorg het jy daardie paar skape in die wildernis oorgelaat?+ Ek ken jou vermetelheid en die slegtheid van jou hart goed,+ want jy het afgekom om die geveg te sien.”+
29 Hierop het Dawid gesê: “Wat het ek nou gedoen? Was dit nie net ’n woord nie?”+
30 Daarop het hy van hom af weggedraai na iemand anders en dieselfde woord as tevore gesê,+ waarop die manskappe hom dieselfde antwoord as vroeër gegee het.+
31 So is die woorde gehoor wat Dawid gespreek het, en hulle het dit voor Saul vertel. Hy het hom derhalwe laat haal.
32 En Dawid het vir Saul gesê: “Laat die hart van geen man in hom beswyk nie.+ U kneg sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.”+
33 Maar Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie,+ want jy is nog maar ’n seun,+ en hy is van sy seunsjare af ’n krygsman.”
34 En Dawid het vir Saul gesê: “U kneg het vir sy vader ’n herder onder die kleinvee geword, en daar het ’n leeu+ gekom, en ook ’n beer, en elkeen het ’n skaap uit die trop weggedra.
35 En ek het uitgegaan agter hom aan en hom neergeslaan+ en dit uit sy bek gered. Toe hy teen my begin opstaan, het ek sy baard gegryp en hom neergeslaan en hom doodgemaak.
36 U kneg het die leeu sowel as die beer doodgemaak; en hierdie onbesnede Filistyn+ sal soos een van hulle word, want hy het die gevegslinies+ van die lewende God+ uitgetart.”+
37 Toe het Dawid bygevoeg: “Jehovah, wat my uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer verlos het, hy sal my uit die hand van hierdie Filistyn verlos.”+ Hierop het Saul vir Dawid gesê: “Gaan, en mag Jehovah met jou wees.”+
38 Saul het Dawid toe sy klere laat aantrek, en hy het ’n koperhelm op sy kop gesit, waarna hy hom ’n pantser laat aantrek het.
39 Toe het Dawid sy swaard oor sy klere aangegord en aanstaltes gemaak om te gaan maar kon nie, omdat hy dit nooit probeer het nie. Uiteindelik het Dawid vir Saul gesê: “Ek kan nie hierin gaan nie, want ek het dit nooit probeer nie.” Daarop het Dawid dit uitgetrek.+
40 En hy het sy staf in sy hand geneem en uit die stroomvallei vir hom die vyf gladste klippe gekies en dit in sy herdersak gesit, wat vir hom as ’n houer gedien het, en sy slinger+ was in sy hand. En hy het na die Filistyn toe begin kom.
41 En die Filistyn het begin kom, en hy het al hoe nader aan Dawid gekom, en die man wat die groot skild gedra het, was voor hom.
42 Toe die Filistyn dan nou kyk en Dawid sien, het hy hom begin verag+ omdat hy ’n seun was+ en rooierig,+ met ’n mooi voorkoms.+
43 Toe het die Filistyn vir Dawid gesê: “Is ek ’n hond,+ dat jy met stokke na my toe kom?” Daarop het die Filistyn by sy gode ’n vloek oor Dawid uitgespreek.+
44 En die Filistyn het verder vir Dawid gesê: “Kom net na my toe, en ek sal jou vlees aan die voëls van die hemel en aan die diere van die veld gee.”+
45 Hierop het Dawid vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my toe met ’n swaard en met ’n spies en met ’n werpspies,+ maar ek kom na jou toe met die naam van Jehovah van die leërs,+ die God van die gevegslinies van Israel, wat jy uitgetart het.+
46 Vandag sal Jehovah jou in my hand oorlewer,+ en ek sal jou beslis doodmaak en jou kop van jou verwyder; en ek sal beslis die lyke van die kamp van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en aan die wilde diere van die aarde gee;+ en mense van die hele aarde sal weet dat daar ’n God bestaan wat aan Israel behoort.+
47 En hierdie hele gemeente sal weet dat Jehovah nie met swaard en ook nie met spies red nie,+ want die stryd behoort aan Jehovah,+ en hy sal julle in ons hand gee.”+
48 En die Filistyn het opgestaan en bly kom en al hoe nader gekom om Dawid te ontmoet, en Dawid het hom begin haas en het in die rigting van die gevegslinie gehardloop om die Filistyn te ontmoet.+
49 Toe het Dawid sy hand in sy sak gesteek en ’n klip daaruit geneem en dit geslinger, sodat hy die Filistyn in sy voorkop getref het+ en die klip in sy voorkop ingedring het, en hy het op sy gesig op die aarde geval.+
50 So het Dawid, met ’n slinger en ’n klip, die oorhand oor die Filistyn gekry, en hy het die Filistyn verslaan en hom doodgemaak; en daar was geen swaard in Dawid se hand nie.+
51 En Dawid het gehardloop en oor die Filistyn gaan staan. Toe het hy sy swaard geneem+ en dit uit sy skede getrek en hom vir seker doodgemaak toe hy sy kop daarmee afkap.+ En die Filistyne het gesien dat hulle sterk man gesterf het, en hulle het gevlug.+
52 Daarop het die manne van Israel en van Juda opgestaan en begin skreeu en die Filistyne tot in die vallei+ en tot by die poorte van Ekron+ agtervolg,+ en die dodelik gewondes van die Filistyne het bly val op die pad van Saäraʹim+ af tot by Gat sowel as tot by Ekron.
53 Daarna het die kinders van Israel teruggekeer van die hewige agtervolging van die Filistyne en hulle kampe geplunder.+
54 Toe het Dawid die kop+ van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring, en sy wapens het hy in sy tent gesit.+
55 En die oomblik toe Saul Dawid sien uitgaan om die Filistyn te ontmoet, het hy vir Abner,+ die leërhoof, gesê: “Wie se+ seun is die jong man,+ Abner?” Hierop het Abner gesê: “So waar as u siel lewe, o koning, ek weet glad nie!”
56 Toe het die koning gesê: “Gaan vra jy wie se seun die jong man is.”
57 En toe Dawid terugkeer nadat hy die Filistyn doodgemaak het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring, met die kop+ van die Filistyn in sy hand.
58 Saul het toe vir hom gesê: “Wie se seun is jy, jong man?” waarop Dawid gesê het: “Die seun van u kneg Isai,+ die Betlehemiet.”+