2 Korintiërs 12:1-21

12  Ek moet roem. Dit is nie voordelig nie; maar ek sal na bonatuurlike visioene+ en openbarings van die Here oorgaan.  Ek ken ’n mens in eenheid met Christus wat, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie; God weet—as sodanig na die derde hemel weggeruk is.+  Ja, ek ken so ’n mens—of dit in die liggaam of geskei van die liggaam was,+ weet ek nie, God weet—  dat hy tot in die paradys+ weggeruk is en onuitspreeklike woorde gehoor het wat dit ’n mens nie geoorloof is om te spreek nie.  Oor so ’n mens sal ek roem, maar ek sal nie oor myself roem nie, behalwe in verband met my swakhede.+  Want as ek ooit wil roem,+ sal ek nie onredelik wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan, sodat niemand méér aan my sal toeskryf as wat hy sien ek is of hy van my hoor nie,  bloot weens die oormaat van die openbarings. Daarom is ek, sodat ek nie te verhewe sou voel nie,+ ’n doring in die vlees gegee,+ ’n engel van Satan, om my te bly slaan, sodat ek my nie te veel sou verhef nie.  Hieroor het ek die Here drie keer+ dringend versoek dat dit van my sou wyk;  en tog het hy vir my gesê: “My onverdiende goedhartigheid is vir jou voldoende;+ want my krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring.”+ Met die grootste genoeë sal ek dus liewer in verband met my swakhede roem,+ sodat die krag van die Christus soos ’n tent oor my kan bly. 10  Daarom skep ek behae in swakhede, in beledigings, in gevalle van nood, in vervolginge en moeilikhede, ter wille van Christus. Want wanneer ek swak is, dan is ek sterk.+ 11  Ek het onredelik geword. Julle het my daartoe gedwing,+ want júlle moes my eintlik aanbeveel het. Want ek was nie in enigiets ondergeskik aan julle uitnemende+ apostels nie, selfs al is ek niks.+ 12  Trouens, die tekens van ’n apostel+ is deur alle volharding onder julle voortgebring,+ en deur tekens en voortekens en kragtige werke.+ 13  Want in watter opsig het julle geringer as die res van die gemeentes geword, behalwe dat ek nie vir julle ’n las geword het nie?+ Vergewe my goedgunstig hierdie onreg. 14  Kyk! Dit is die derde keer+ dat ek gereed is om na julle toe te kom, en tog sal ek nie ’n las word nie. Want ek soek nie julle besittings nie,+ maar júlle; want die kinders+ behoort nie vir hulle ouers op te spaar nie, maar die ouers vir hulle kinders.+ 15  Wat my betref, ek sal my met die grootste genoeë uitstort en heeltemal uitgestort word vir julle siele.+ As ek julle oorvloediger liefhet, moet julle my dan des te minder liefhê? 16  Maar hoe dit ook al sy, ek het julle nie belas nie.+ Nietemin sê julle dat ek “slinks” was en julle “deur bedrog” gevang het.+ 17  Ek het tog nie van julle misbruik gemaak deur enigeen van dié wat ek na julle toe gestuur het nie, of hoe? 18  Ek het Titus aangespoor, en ek het die broer saam met hom gestuur. Titus het tog geensins van julle misbruik gemaak nie, of hoe?+ Het ons nie in dieselfde gees gewandel nie?+ In dieselfde voetstappe nie? 19  Het julle al die tyd gedink dat ons ons voor julle verdedig het? Dit is voor God dat ons in verband met Christus spreek. Maar alles, geliefdes, is tot julle opbouing.+ 20  Want ek is bang dat ek, wanneer ek daar aankom,+ julle op die een of ander manier nie sal vind soos ek sou wou hê nie en dat ek vir julle nie sal wees wat julle sou wou hê nie, maar dat daar in plaas daarvan op die een of ander manier twis, jaloesie,+ gevalle van toorn, rusies, kwaadsprekery, fluisteringe, gevalle van opgeblasenheid en wanordelikhede sal wees.+ 21  Miskien sal my God my, wanneer ek weer kom, onder julle verneder en sal ek oor baie van dié treur wat vroeër gesondig het+ maar nie berou getoon het oor hulle onreinheid en hoerery+ en losbandige gedrag+ wat hulle beoefen het nie.

Voetnote