Esegiël 12:1-28

12  En die woord van Jehovah het verder tot my gekom en gesê:  “Mensekind, jy woon in die midde van ’n opstandige huis,+ wat oë het om te sien, maar nie sien nie,+ wat ore het om te hoor, maar nie hoor nie,+ want hulle is ’n opstandige huis.+  Wat jou betref, o mensekind, kry vir jou bagasie vir ballingskap bymekaar en gaan in die dag voor hulle oë in ballingskap, en jy moet voor hulle oë van jou plek na ’n ander plek in ballingskap gaan. Miskien sal hulle dit sien, al is hulle ’n opstandige huis.+  En jy moet jou bagasie in die dag voor hulle oë uitbring soos bagasie vir ballingskap, en jy moet in die aand voor hulle oë uitgaan soos dié wat vir ballingskap uitgebring word.+  “Breek vir jou voor hulle oë ’n gat deur die muur, en jy moet jou bagasie daardeur uitbring.+  Voor hulle oë moet jy dit op die skouer dra. In die donker moet jy dit uitbring. Jy moet jou gesig bedek sodat jy nie die aarde sien nie, want ’n voorteken+ het ek jou vir die huis van Israel gemaak.”+  En ek het gedoen net soos ek beveel is.+ My bagasie het ek in die dag uitgebring, soos bagasie vir ballingskap; en in die aand het ek vir my met die hand ’n gat deur die muur gebreek. In die donker het ek dit uitgebring. Op my skouer het ek dit voor hulle oë gedra.  En die woord van Jehovah het in die oggend verder tot my gekom en gesê:  “Mensekind, het die huis van Israel, die opstandige huis,+ nie vir jou gesê: ‘Wat doen jy’ nie? 10  Sê vir hulle: ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “Wat die owerste+ betref, hierdie uitspraak is teen Jerusalem en die hele huis van Israel wat in hulle midde is.”’ 11  “Sê: ‘Ek is ’n voorteken+ vir julle. Net soos ek gedoen het, so sal met hulle gedoen word. In ballingskap, in gevangenskap sal hulle gaan.+ 12  En wat die owerste betref wat in hulle midde is, op die skouer sal hy in die donker sy bagasie dra en uitgaan; deur die muur sal hulle breek om dit daardeur uit te bring.+ Sy gesig sal hy bedek sodat hy nie met sy oog die aarde sien nie.’ 13  En ek sal beslis my net oor hom uitsprei, en hy sal in my vangnet gevang word;+ en ek sal hom na Babilon bring, na die land van die Galdeërs,+ maar hy sal dit nie sien nie; en daar sal hy sterf.+ 14  En almal wat as ’n hulp rondom hom is, en al sy krygsbendes, sal ek in alle windrigtings verstrooi;+ en ’n swaard sal ek agter hulle uittrek.+ 15  En hulle sal moet weet dat ek Jehovah is wanneer ek hulle onder die nasies versprei en hulle in die lande verstrooi.+ 16  En ek sal van hulle ’n paar manne laat oorbly van die swaard,+ van die hongersnood en van die pes, sodat hulle van al hulle verfoeilike+ dinge kan vertel onder die nasies waar hulle sal kom;+ en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.” 17  En die woord van Jehovah het verder tot my gekom en gesê: 18  “Mensekind, met bewing moet jy jou brood eet, en met ontsteltenis en met angstige besorgdheid moet jy jou water drink.+ 19  En jy moet vir die volk van die land sê: ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah vir die inwoners van Jerusalem in die land van Israel gesê:+ “Met angstige besorgdheid sal hulle hulle brood eet, en met afgryse sal hulle hulle water drink, sodat hulle land van sy volheid gestroop sal word+ weens die geweldpleging van almal wat daarin woon.+ 20  En die bewoonde stede sal verwoes word,+ en die land sal bloot ’n verlate woesteny word;+ en julle sal moet weet dat ek Jehovah is.”’”+ 21  En die woord van Jehovah het verder tot my gekom en gesê: 22  “Mensekind, wat is hierdie spreekwoord wat julle in die land van Israel het,+ naamlik: ‘Die dae word verleng,+ en elke visioen het tot niet gegaan’?+ 23  Daarom, sê vir hulle: ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “Ek sal beslis ’n einde maak aan dié spreekwoord, en hulle sal dit nie meer as ’n spreekwoord in Israel gebruik nie.”’+ Maar sê vir hulle: ‘Die dae het naby gekom,+ asook die inhoud van elke visioen.’ 24  Want daar sal geen waardelose visioen+ of dubbelsinnige waarsêery meer in die midde van die huis van Israel wees nie.+ 25  ‘“Want ek, Jehovah, sal die woord spreek wat ek sal spreek, en dit sal uitgevoer word.+ Daar sal geen uitstel meer wees nie,+ want in julle dae,+ o opstandige huis, sal ek ’n woord spreek en dit beslis uitvoer”, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah.’” 26  En die woord van Jehovah het verder tot my gekom en gesê: 27  “Mensekind, kyk! die huis van Israel sê: ‘Die visioen wat hy sien, is eers oor baie dae, en hy profeteer van tye wat ver is.’+ 28  Daarom, sê vir hulle: ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “‘Daar sal geen uitstel meer wees wat enige van my woorde betref nie.+ Die woord wat ek sal spreek, dit sal uitgevoer word’,+ is die woord van die Soewereine Heer Jehovah.”’”+

Voetnote