Esegiël 40:1-49

40  In die vyf-en-twintigste jaar van ons ballingskap,+ in die begin van die jaar, op die tiende dag van die maand, in die veertiende jaar nadat die stad verslaan is,+ op daardie selfde dag was die hand van Jehovah op my,+ sodat hy my daarheen gebring het.+  In die visioene van God het hy my na die land van Israel gebring en my eindelik op ’n baie hoë berg+ neergesit, waarop daar teen die suide iets soos ’n stad gebou was.+  En hy het my daarheen gebring, en kyk! daar was ’n man. Sy voorkoms was soos die voorkoms van koper,+ en in sy hand was ’n vlastou en ’n meetriet,+ en hy het in die poort gestaan.  En die man het met my begin praat: “Mensekind,+ kyk met jou oë en hoor met jou ore en rig jou hart op alles wat ek jou wys, want om jou dit te wys, is jy hierheen gebring. Vertel alles wat jy sien vir die huis van Israel.”+  En kyk! daar was ’n muur buite rondom die huis. En in die hand van die man was die meetriet van ses el, elkeen ’n el en ’n handbreedte. En hy het die breedte van die bouwerk begin meet: een riet; en die hoogte: een riet.  Toe het hy by die poort gekom, waarvan die voorkant na die ooste toe is,+ en met sy trappe opgegaan. En hy het die drumpel van die poort+ begin meet: een riet breed, en die ander drumpel: een riet breed.  En die kamer vir die wagte was een riet lank en een riet breed, en tussen die kamers vir die wagte+ was daar vyf el; en die drumpel van die poort langs die portaal van die poort aan die binnekant was een riet.  En hy het die portaal van die poort aan die binnekant gemeet: een riet.+  Toe het hy die portaal van die poort gemeet: agt el; en sy sypilare: twee el; en die portaal van die poort was aan die binnekant. 10  En die kamers vir die wagte, dié van die poort na die ooste toe, was drie aan hierdie kant en drie aan die ander kant. Al drie het dieselfde afmeting gehad, en die sypilare het dieselfde afmeting gehad, aan hierdie kant en aan die ander kant. 11  Toe het hy die wydte van die poortingang gemeet: tien el; die lengte van die poort: dertien el. 12  En die afgeskorte ruimte voor die kamers vir die wagte was een el, en daar was ’n afgeskorte ruimte van een el aan albei kante. En die kamer vir die wagte was ses el aan hierdie kant en ses el aan die ander kant. 13  En hy het die poort gemeet van die dak van die een kamer vir die wagte af tot by die dak van die ander: ’n breedte van vyf-en-twintig el;+ ingang was teenoor ingang. 14  Toe het hy sypilare van sestig el gemaak, ja, die sypilare van die voorhof in die poorte rondom. 15  En van die voorkant van die ingangspoort af tot by die voorkant van die portaal van die binneste poort was vyftig el. 16  En daar was vensters met rame wat al hoe smaller word+ in die kamers vir die wagte en in hulle sypilare, na die binnekant van die poort rondom, en so ook in die portale. En die vensters was rondom na die binnekant toe, en op die sypilare was daar palmboomfigure.+ 17  En hy het my geleidelik in die buitenste voorhof ingebring, en kyk! daar was eetkamers,+ en ’n plaveisel wat rondom vir die voorhof gemaak is. Daar was dertig eetkamers op die plaveisel.+ 18  En die plaveisel aan die kant van die poorte het ooreengekom met die lengte van die poorte—die onderste plaveisel. 19  En hy het die breedte gemeet van die voorkant van die onderste poort af tot by die voorkant van die binneste voorhof. Buite was dit honderd el, aan die oostekant en aan die noordekant. 20  En die buitenste voorhof het ’n poort gehad waarvan die voorkant na die noorde toe was. Hy het sy lengte en sy breedte gemeet. 21  En sy kamers vir die wagte was drie aan hierdie kant en drie aan die ander kant. En sy sypilare en sy portaal het dieselfde afmeting as die eerste poort gehad. Vyftig el was sy lengte, en sy breedte was vyf-en-twintig el. 22  En sy vensters en sy portaal en sy palmboomfigure+ het dieselfde afmeting gehad as dié van die poort waarvan die voorkant na die ooste toe is. En met sewe trappe kon mense daarin opgaan, en sy portaal was daarvoor. 23  En die poort van die binneste voorhof was teenoor die poort na die noorde; ook een na die ooste. En hy het van poort tot poort gemeet: honderd el. 24  En hy het my geleidelik na die suide gebring, en kyk! daar was ’n poort na die suide toe,+ en hy het sy sypilare en sy portaal gemeet volgens dieselfde afmetings as die voriges. 25  En die poort en sy portaal het rondom vensters gehad, soos die vorige vensters. Vyftig el was die lengte, en die breedte was vyf-en-twintig el. 26  En daar was sewe trappe om daarheen op te gaan,+ en sy portaal was daarvoor. En dit het palmboomfigure gehad, een aan hierdie kant en een aan die ander kant op sy sypilare. 27  En die binneste voorhof het ’n poort na die suide toe gehad. En hy het van poort tot poort na die suide gemeet: honderd el. 28  En hy het my geleidelik deur die suidpoort in die binneste voorhof gebring. En hy het die suidpoort gemeet volgens dieselfde afmetings as die voriges. 29  En sy kamers vir die wagte en sy sypilare en sy portaal het dieselfde afmetings as die voriges gehad. En die poort en sy portaal het rondom vensters gehad. Vyftig el was die lengte, en die breedte was vyf-en-twintig el.+ 30  En daar was rondom portale; die lengte was vyf-en-twintig el en die breedte vyf el. 31  En sy portaal was na die buitenste voorhof toe, en daar was palmboomfigure op sy sypilare,+ en sy trap het agt trappies gehad.+ 32  En hy het my geleidelik langs die oostekant in die binneste voorhof ingebring, en hy het die poort gemeet volgens dieselfde afmetings as die voriges. 33  En sy kamers vir die wagte en sy sypilare en sy portaal het dieselfde afmetings as die voriges gehad, en die poort en sy portaal het rondom vensters gehad. Die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el. 34  En sy portaal was na die buitenste voorhof toe, en daar was palmboomfigure aan weerskante op sy sypilare. En sy trap het agt trappies gehad. 35  En hy het my in die noordpoort gebring,+ en hy het gemeet, volgens dieselfde afmetings as die voriges:+ 36  sy kamers vir die wagte, sy sypilare en sy portaal. En dit het rondom vensters gehad. Die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el. 37  En sy sypilare was na die buitenste voorhof toe, en daar was palmboomfigure aan weerskante op sy sypilare.+ En sy trap het agt trappies gehad. 38  En daar was ’n eetkamer met sy ingang by die sypilare van die poorte. Daar het hulle die heelbrandoffer afgespoel.+ 39  En in die portaal van die poort was daar twee tafels aan hierdie kant en twee tafels aan die ander kant, om daarop die heelbrandoffer+ en die sondoffer+ en die skuldoffer+ te slag. 40  En aan die buitekant, as ’n mens na die ingang van die noordpoort opgaan, was daar twee tafels. En aan die ander kant wat by die portaal van die poort behoort, was daar twee tafels. 41  Daar was vier tafels hier en vier tafels daar, aan die kant van die poort—agt tafels, waarop hulle geslag het. 42  En die vier tafels vir die heelbrandoffer was van gekapte klip. Die lengte was anderhalf el, en die breedte anderhalf el, en die hoogte een el. Daarop het hulle ook die gereedskap neergesit waarmee hulle die heelbrandoffer en die offerande geslag het. 43  En die lyste om dinge op neer te sit, was een handbreedte, rondom stewig vas aan die binnekant; en op die tafels het hulle die vleis van die offergawe neergesit.+ 44  En aan die buitekant van die binneste poort was die eetkamers van die sangers,+ in die binneste voorhof, wat aan die kant van die noordpoort is. En hulle voorkant was na die suide toe. Daar was een aan die kant van die oospoort. Die voorkant was na die noorde toe. 45  En hy het vir my gesê: “Hierdie eetkamer, waarvan die voorkant na die suide toe is, is vir die priesters wat die verpligting ten opsigte van die huis nakom.+ 46  En die eetkamer waarvan die voorkant na die noorde toe is, is vir die priesters wat die verpligting ten opsigte van die altaar nakom.+ Hulle is die seuns van Sadok,+ wat uit die kinders van Levi nader kom na Jehovah toe om hom te dien.”+ 47  En hy het die binneste voorhof gemeet. Die lengte was honderd el en die breedte honderd el, vierkantig. En die altaar was voor die huis. 48  En hy het my in die portaal van die huis gebring,+ en hy het die sypilaar van die portaal gemeet, vyf el aan hierdie kant en vyf el aan die ander kant. En die breedte van die poort was drie el aan hierdie kant en drie el aan die ander kant. 49  Die lengte van die portaal was twintig el en die breedte elf el. En met trappe het hulle daarheen opgegaan. En daar was pilare by die syposte, een aan hierdie kant en een aan die ander kant.+

Voetnote