Deuteronomium 5:1-33

5  En Moses het die hele Israel+ geroep en vir hulle gesê: “Hoor, o Israel, die voorskrifte en die regterlike beslissings+ wat ek vandag voor julle ore spreek, en julle moet dit leer en dit sorgvuldig nakom.+  Jehovah ons God het in Horeb ’n verbond met ons gesluit.+  Jehovah het hierdie verbond nie met ons voorvaders gesluit nie, maar met ons, ons almal wat vandag hier in die lewe is.  Van aangesig tot aangesig het Jehovah op die berg uit die vuur met julle gepraat.+  Ek het in dié tyd tussen Jehovah en julle gestaan+ om die woord van Jehovah aan julle mee te deel (want julle was bang vir die vuur en het nie teen die berg opgeklim nie),+ wat gelui het:  “‘Ek is Jehovah jou God,+ wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis,+ uitgelei het.  Jy mag nooit enige ander gode teen my aangesig hê nie.+  “‘Jy mag vir jou geen gesnede beeld maak nie,+ ’n afbeelding van enigiets+ wat bo in die hemel is of wat onder op die aarde is of wat in die waters onder die aarde is.  Jy mag jou voor hulle nie neerbuig of oorgehaal word om hulle te dien nie,+ want ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis,+ wat straf vir die oortreding van die vaders oor die kinders bring en oor die derde geslag en oor die vierde geslag in die geval van dié wat my haat,+ 10  maar wat liefderyke goedhartigheid bewys teenoor die duisendste geslag in die geval van dié wat my liefhet en my gebooie onderhou.+ 11  “‘Jy mag die naam van Jehovah jou God nie op onwaardige wyse gebruik nie,+ want Jehovah sal niemand wat sy naam op onwaardige wyse gebruik, ongestraf laat bly nie.+ 12  “‘Ten einde die sabbatdag te onderhou, om dit heilig te hou, net soos Jehovah jou God jou beveel het,+ 13  moet jy ses dae arbei en al jou werk doen.+ 14  Maar die sewende dag is ’n sabbat vir Jehovah jou God.+ Jy mag geen werk doen nie,+ nie jy of jou seun of jou dogter of jou slaaf of jou slavin of jou bul of jou esel of enige mak dier van jou of jou inwonende vreemdeling wat in jou poorte is nie,+ sodat jou slaaf en jou slavin kan rus net soos jy.+ 15  En jy moet onthou dat jy ’n slaaf in Egipteland geword het+ en dat Jehovah jou God jou met ’n sterk hand en ’n uitgestrekte arm daarvandaan uitgelei het.+ Daarom het Jehovah jou God jou beveel om die sabbatdag te vier.+ 16  “‘Eer jou vader en jou moeder,+ net soos Jehovah jou God jou beveel het; sodat jou dae verleng mag word en dit met jou goed mag gaan+ in die land wat Jehovah jou God aan jou gee. 17  “‘Jy mag nie moord pleeg nie.+ 18  “‘En jy mag nie egbreuk pleeg nie.+ 19  “‘En jy mag nie steel nie.+ 20  “‘En jy mag nie valse getuienis teen jou medemens aflê nie.+ 21  “‘En jy mag nie jou medemens se vrou begeer nie.+ En jy mag nie selfsugtig hunker na jou medemens se huis, sy land of sy slaaf of sy slavin, sy bul of sy esel of enigiets wat aan jou medemens behoort nie.’+ 22  “Hierdie Woorde het Jehovah tot julle hele gemeente gespreek op die berg, uit die vuur,+ die wolk en die dik donkerheid, met ’n harde stem, en hy het niks bygevoeg nie; waarna hy dit op twee kliptafels geskryf het en dit aan my gegee het.+ 23  “En die oomblik toe julle die stem uit die duisternis gehoor het, terwyl die berg met vuur gebrand het,+ het julle na my toe gekom, al die hoofde van julle stamme en julle ouer manne. 24  Toe het julle gesê: ‘Kyk, Jehovah ons God het ons sy heerlikheid en sy grootheid getoon, en ons het sy stem uit die vuur gehoor.+ Vandag het ons gesien dat God met die mens kan praat en hy tog kan bly lewe.+ 25  Waarom moet ons dan nou sterf, want hierdie groot vuur kan ons verteer?+ As ons weer die stem van Jehovah ons God hoor, dan sal ons beslis sterf.+ 26  Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God+ uit die vuur hoor praat het soos ons en tog bly lewe het? 27  Gaan u nader en hoor alles wat Jehovah ons God sal sê; en u moet ons alles meedeel wat Jehovah ons God vir u sal sê,+ en ons sal beslis luister en dit doen.’ 28  “En Jehovah het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gepraat het, en Jehovah het vir my gesê: ‘Ek het die stem van die woorde van hierdie volk gehoor, wat hulle vir jou gesê het. Hulle het goed gedoen in alles wat hulle gesê het.+ 29  As hulle maar net hierdie hart van hulle daartoe sou neig om my te vrees+ en om al my gebooie altyd te onderhou,+ sodat dit met hulle en hulle kinders tot onbepaalde tyd goed kan gaan!+ 30  Gaan sê vir hulle: “Keer terug na julle tente.” 31  En bly staan jy hier by my, en laat ek jou die hele gebod en die voorskrifte en die regterlike beslissings meedeel wat jy hulle moet leer+ en wat hulle moet nakom in die land wat ek aan hulle gee om dit in besit te neem.’ 32  En julle moet sorgvuldig doen net soos Jehovah julle God julle beveel het.+ Julle mag nie regs of links afwyk nie.+ 33  In die hele weg wat Jehovah julle God julle beveel het, moet julle wandel,+ sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan+ en julle inderdaad julle dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem.

Voetnote