Eksodus 10:1-29
10 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Gaan na Farao toe, want ek—ek het sy hart en die hart van sy knegte laat verhard,+ sodat ek hierdie tekens van my reg voor hom kan stel,+
2 en sodat jy voor die ore van jou kind en jou kleinkind bekend kan maak hoe streng ek teen Egipte opgetree het, en my tekens wat ek onder hulle gedoen het;+ en julle sal beslis weet dat ek Jehovah is.”+
3 Daarop het Moses en Aäron na Farao toe gegaan en vir hom gesê: “Só het Jehovah, die God van die Hebreërs, gesê: ‘Hoe lank gaan jy weier om jou aan my te onderwerp?+ Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien.
4 Want as jy bly weier om my volk weg te stuur, kyk, dan bring ek môre sprinkane binne jou grense.+
5 En hulle sal die sigbare oppervlak van die aarde bedek, en dit sal nie moontlik wees om die aarde te sien nie; en hulle sal die res van wat ontkom het, wat vir julle van die hael oorgebly het, eenvoudig opeet, en hulle sal beslis al julle bome eet wat in die veld uitspruit.+
6 En jou huise en die huise van al jou knegte en die huise van die hele Egipte sal so vol daarvan wees soos wat jou vaders en jou vaders se vaders nog nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde bestaan het tot vandag toe nie.’”+ Daarop het hy omgedraai en van Farao af weggegaan.+
7 Daarna het Farao se knegte vir hom gesê: “Hoe lank sal hierdie man ’n strik vir ons wees?+ Stuur die manne weg sodat hulle Jehovah hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gegaan het nie?”+
8 En Moses en Aäron is na Farao toe teruggebring, en hy het vir hulle gesê: “Gaan, dien Jehovah julle God.+ Wie is dit nou eintlik wat gaan?”
9 Toe het Moses gesê: “Met ons jong mense en ons ou mense sal ons gaan. Met ons seuns en ons dogters,+ met ons skape en ons beeste sal ons gaan,+ want ons het ’n fees vir Jehovah.”+
10 Hierop het hy vir hulle gesê: “Mag dit so wees dat Jehovah met julle is wanneer ek julle en julle kindertjies sal wegstuur!+ Inteendeel, kyk, iets boos is julle oogmerk.+
11 O nee! Gaan asseblief, julle manne, en dien Jehovah, want dit is wat julle verlang.” Daarop is hulle van Farao af verdryf.+
12 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Steek+ jou hand oor Egipteland vir die sprinkane uit, sodat hulle oor Egipteland opkom en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het.”+
13 Dadelik het Moses sy staf oor Egipteland uitgesteek, en Jehovah het daardie hele dag en hele nag ’n oostewind+ oor die land laat waai. Dit het oggend geword, en die oostewind het die sprinkane aangebring.
14 En die sprinkane het oor die hele Egipteland begin opkom en op die hele gebied van Egipte gaan sit.+ Hulle was ’n baie swaar las.+ Voor hulle het sulke sprinkane nog nooit so verskyn nie, en ná hulle sal sulke sprinkane nooit weer so verskyn nie.
15 En hulle het die sigbare oppervlak van die hele land bedek,+ en die land het donker geword;+ en hulle het al die plante van die land opgeëet en al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het;+ en daar het geen groenigheid aan die bome of aan die plante van die veld in die hele Egipteland oorgebly nie.+
16 Toe het Farao Moses en Aäron gou geroep en gesê: “Ek het teen Jehovah julle God en teen julle gesondig.+
17 En vergewe+ nou asseblief net hierdie een keer my sonde en VERSOEK Jehovah julle God dringend+ dat hy net hierdie dodelike plaag van my afwend.”
18 Daarop het hy van Farao af weggegaan en ’n dringende versoek tot Jehovah gerig.+
19 Toe het Jehovah die wind laat omslaan in ’n baie stywe westewind, en dit het die sprinkane weggevoer en hulle in die Rooi See gedryf. Nie ’n enkele sprinkaan het in die hele gebied van Egipte oorgebly nie.
20 Jehovah het Farao se hart egter onversetlik laat word,+ en hy het die kinders van Israel nie weggestuur nie.
21 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand na die hemel uit,+ sodat duisternis oor Egipteland kom en die duisternis gevoel kan word.”
22 Moses het onmiddellik sy hand na die hemel uitgesteek, en ’n dik duisternis het oor die hele Egipteland gekom, drie dae lank.+
23 Hulle het mekaar nie gesien nie, en drie dae lank het niemand van sy plek af opgestaan nie; maar vir al die kinders van Israel was daar lig in hulle woonplekke.+
24 Daarna het Farao Moses geroep en gesê: “Gaan, DIEN Jehovah.+ Net julle skape en julle beeste sal agtergehou word. Ook julle kindertjies mag saam met julle gaan.”+
25 Maar Moses het gesê: “U moet ook offerandes en brandoffers in ons hand gee, aangesien ons dit aan Jehovah ons God moet bring.+
26 En ons vee sal ook saam met ons gaan.+ Nie ’n hoef mag agterbly nie, want daarvan sal ons neem om Jehovah ons God te aanbid,+ en ons weet nie wat ons Jehovah in aanbidding sal aanbied voordat ons daar aankom nie.”+
27 Hierop het Jehovah Farao se hart onversetlik laat word, en hy wou hulle nie wegstuur nie.+
28 Toe het Farao vir hom gesê: “Gaan weg van my af!+ Pas op! Moet my aangesig nie weer probeer sien nie, want die dag as jy my aangesig sien, sal jy sterf.”+
29 Hierop het Moses gesê: “So het u gesê. Ek sal u aangesig nie weer probeer sien nie.”+