Eksodus 13:1-22
13 En Jehovah het verder met Moses gepraat en gesê:
2 “Heilig vir my al die manlike eersgeborenes wat elke moederskoot open onder die kinders van Israel, onder mense en diere. Dit is myne.”+
3 En Moses het vir die volk gesê: “Onthou dié dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het,+ want deur die sterkte van sy hand het Jehovah julle hiervandaan uitgelei.+ Daarom mag niks gesuurds geëet word nie.+
4 Vandag trek julle uit, in die maand Abib.+
5 En wanneer Jehovah jou gebring het in die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Hewiete en die Jebusiete,+ wat hy aan jou voorvaders met ’n eed beloof het om aan jou te gee,+ ’n land wat oorloop van melk en heuning,+ dan moet jy hierdie diens in hierdie maand verrig.
6 Sewe dae moet jy ongesuurde koeke eet,+ en op die sewende dag is ’n fees vir Jehovah.+
7 Ongesuurde koeke moet die sewe dae geëet word;+ en niks gesuurds mag by jou gesien word nie,+ en geen suurdeeg mag binne al jou grense by jou gesien word nie.+
8 En jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: ‘Dit is weens die dinge wat Jehovah vir my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het.’+
9 En dit moet vir jou dien as ’n teken op jou hand en as ’n gedagtenis tussen jou oë,+ sodat Jehovah se wet in jou mond mag wees;+ want deur ’n sterk hand het Jehovah jou uit Egipte uitgelei.+
10 En jy moet hierdie insetting van jaar tot jaar op die vasgestelde tyd daarvoor onderhou.+
11 “En wanneer Jehovah jou in die land van die Kanaäniete bring,+ net soos hy aan jou en jou voorvaders met ’n eed beloof het,+ en wanneer hy dit aan jou gee,
12 dan moet jy elkeen wat die moederskoot open,+ asook elke eersteling, die kleintjie van ’n dier,+ wat joune sal wees, aan Jehovah wy. Wat manlik is, behoort aan Jehovah.+
13 En elke eersteling van ’n esel moet jy met ’n skaap loskoop, en as jy dit nie loskoop nie, dan moet jy sy nek breek.+ En elke eersgeborene van die mens onder jou seuns moet jy loskoop.+
14 “En as jou seun jou later vra+ en sê: ‘Wat beteken dit?’ dan moet jy vir hom sê: ‘Deur die sterkte van sy hand het Jehovah ons uit Egipte,+ uit die slawehuis,+ uitgelei.
15 En Farao het hom hardkoppig daarteen verset om ons weg te stuur,+ en toe het Jehovah elke eersgeborene in Egipteland gedood,+ die eersgeborene van die mense sowel as die eersgeborene van die diere.+ Daarom bring ek alles wat manlik is wat die moederskoot open+ as offerande aan Jehovah, en elke eersgeborene van my seuns koop ek los.’+
16 En dit moet dien as ’n teken op jou hand en as ’n voorhoofsband tussen jou oë,+ want deur die sterkte van sy hand het Jehovah ons uit Egipte uitgelei.”+
17 En toe Farao die volk wegstuur, het God hulle nie met die pad van die land van die Filistyne gelei net omdat dit nader was nie, want God het gesê: “Dalk sal die volk spyt voel wanneer hulle oorlog sien en beslis na Egipte terugkeer.”+
18 God het die volk derhalwe met ’n omweg met die pad van die wildernis van die Rooi See laat gaan.+ Die kinders van Israel het egter in slagorde uit Egipteland opgetrek.+
19 En Moses het Josef se beendere saam met hom geneem, want hy het die seuns van Israel plegtig laat sweer deur te sê: “God sal vir seker sy aandag op julle rig,+ en julle moet my beendere saam met julle hiervandaan opneem.”+
20 En hulle het uit Sukkot vertrek en by Etam aan die rand van die wildernis kamp opgeslaan.+
21 En Jehovah het bedags in ’n wolkkolom voor hulle uit getrek om hulle op die pad te lei,+ en snags in ’n vuurkolom, om hulle lig te gee om bedags en snags te trek.+
22 Die wolkkolom het nie bedags en die vuurkolom het nie snags voor die volk gewyk nie.+