Eksodus 16:1-36

16  Later het hulle van Elim vertrek,+ en die hele vergadering van die kinders van Israel het uiteindelik in die wildernis Sin gekom,+ wat tussen Elim en Siʹnai lê, op die vyftiende dag van die tweede maand ná hulle uittog uit Egipteland.  En die hele vergadering van die kinders van Israel het in die wildernis teen Moses en Aäron begin murmureer.+  En die kinders van Israel het vir hulle bly sê: “As ons maar deur Jehovah se hand in Egipteland gesterf het,+ terwyl ons by die vleispotte gesit het,+ terwyl ons brood tot versadiging toe geëet het, want julle het ons tot in hierdie wildernis uitgelei om hierdie hele gemeente van honger te laat sterf.”+  Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Kyk, ek laat vir julle brood uit die hemel reën;+ en die volk moet uitgaan en dag na dag elkeen sy hoeveelheid optel,+ sodat ek hulle op die proef kan stel, of hulle in my wet sal wandel of nie.+  En op die sesde dag+ moet hulle voorberei wat hulle sal inbring, en dit moet dubbel soveel wees as wat hulle dag na dag optel.”+  Toe het Moses en Aäron vir al die kinders van Israel gesê: “Vanaand sal julle beslis weet dat dit Jehovah is wat julle uit Egipteland uitgelei het.+  En môreoggend sal julle inderdaad Jehovah se heerlikheid sien,+ want hy het julle murmureringe teen Jehovah gehoor. En wat is ons dat julle teen ons moet murmureer?”  En Moses het verder gesê: “Dit sal wees wanneer Jehovah julle in die aand vleis gee om te eet en in die oggend brood tot versadiging toe, want Jehovah het julle murmureringe gehoor wat julle teen hom murmureer. En wat is ons? Julle murmureringe is nie teen ons nie, maar teen Jehovah.”+  En Moses het vir Aäron gesê: “Sê vir die hele vergadering van die kinders van Israel: ‘Kom nader voor Jehovah, want hy het julle murmureringe gehoor.’”+ 10  En onmiddellik nadat Aäron met die hele vergadering van die kinders van Israel gepraat het, het hulle hulle na die wildernis toe gedraai, en kyk! Jehovah se heerlikheid het in die wolk verskyn.+ 11  En Jehovah het met Moses gepraat en gesê: 12  “Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor.+ Praat met hulle en sê: ‘Tussen die twee aande sal julle vleis eet en in die oggend sal julle met brood versadig word;+ en julle sal beslis weet dat ek Jehovah julle God is.’”+ 13  Toe het die kwartels+ in die aand opgekom en die kamp oordek, en in die oggend was daar ’n doulaag rondom die kamp.+ 14  Na ’n ruk het die doulaag verdamp, en kyk, op die oppervlak van die wildernis was daar iets fyns en vlokkerigs,+ fyn soos ryp+ op die aarde. 15  Toe die kinders van Israel dit sien, het hulle vir mekaar begin sê: “Wat is dit?” Want hulle het nie geweet wat dit is nie. Moses het derhalwe vir hulle gesê: “Dit is die brood wat Jehovah julle as voedsel gegee het.+ 16  Dít is die woord wat Jehovah beveel het: ‘Tel daarvan op, elkeen na gelang van wat hy eet. Julle moet ’n gomer+ vir elke persoon neem volgens die aantal siele wat elkeen van julle in sy tent het.’” 17  En die kinders van Israel het so begin doen; en hulle het dit opgetel—party het baie ingesamel en party het min ingesamel. 18  Wanneer hulle dit met die gomer gemeet het, het hy wat baie ingesamel het, niks oorgehad nie, en het hy wat min ingesamel het, nie ’n tekort gehad nie.+ Hulle het dit opgetel, elkeen na gelang van hoeveel hy eet. 19  Toe het Moses vir hulle gesê: “Niemand moet daarvan laat oorbly tot die oggend toe nie.”+ 20  Maar hulle het nie na Moses geluister nie. Wanneer party daarvan laat oorbly het tot die oggend toe, het dit wurms voortgebring en gestink;+ Moses het dus toornig geword op hulle.+ 21  En hulle het dit oggend+ na oggend opgetel, elkeen na gelang van hoeveel hy eet. Wanneer die son warm geword het, het dit gesmelt. 22  En op die sesde dag het hulle twee keer soveel brood opgetel,+ twee gomers vir een persoon. Toe het al die owerstes van die vergadering gekom en dit vir Moses vertel. 23  Daarop het hy vir hulle gesê: “Dit is wat Jehovah gesê het. Môre sal daar ’n sabbatsviering wees van ’n heilige sabbat vir Jehovah.+ Wat julle kan bak, bak dit, en wat julle kan kook, kook dit,+ en bêre vir julle alles wat oor is as iets wat tot die oggend toe bewaar moet word.” 24  Gevolglik het hulle dit tot die oggend toe gebêre, net soos Moses beveel het; en dit het nie gestink nie, en ook het geen wurms daarin gekom nie.+ 25  Toe het Moses gesê: “Eet dit vandag, want vandag is ’n sabbat+ vir Jehovah. Vandag sal julle dit nie in die veld vind nie. 26  Ses dae sal julle dit optel, maar op die sewende dag is dit ’n sabbat.+ Daarop sal niks vorm nie.” 27  Maar op die sewende dag het party van die volk tog uitgegaan om dit op te tel, maar hulle het niks gevind nie. 28  Gevolglik het Jehovah vir Moses gesê: “Hoe lank gaan julle weier om my gebooie en my wette te onderhou?+ 29  Let daarop dat Jehovah julle die sabbat gegee het.+ Daarom gee hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Elkeen moet op sy plek bly.+ Laat niemand op die sewende dag sy woonplek verlaat nie.” 30  En die volk het die sabbat op die sewende dag gehou.+ 31  En die huis van Israel het dit “manna” genoem. En dit was wit soos koljandersaad, en dit het soos plat heuningkoeke gesmaak.+ 32  Toe het Moses gesê: “Dít is die woord wat Jehovah beveel het: ‘Maak ’n gomer daarmee vol as iets wat in al julle geslagte bewaar moet word,+ sodat hulle die brood kan sien wat ek julle in die wildernis laat eet het toe ek julle uit Egipteland uitgelei het.’”+ 33  Toe het Moses vir Aäron gesê: “Neem ’n kruik en plaas daarin ’n gomer vol manna en sit dit voor Jehovah neer as iets wat in al julle geslagte bewaar moet word.”+ 34  Net soos Jehovah Moses beveel het, het Aäron dit voor die Getuienis+ neergesit as iets wat bewaar moes word. 35  En die kinders van Israel het die manna veertig jaar lank geëet,+ totdat hulle in ’n bewoonde land gekom het.+ Hulle het die manna geëet totdat hulle by die grens van die land Kanaän gekom het.+ 36  En ’n gomer is ’n tiende van ’n efa.

Voetnote