Eksodus 4:1-31
4 Moses het egter geantwoord en gesê: “Maar gestel hulle glo my nie en luister nie na my stem nie,+ want hulle gaan sê: ‘Jehovah het nie aan jou verskyn nie.’”
2 Toe het Jehovah vir hom gesê: “Wat is daar in jou hand?” waarop hy gesê het: “’n Staf.”+
3 Daarna het hy gesê: “Gooi dit op die grond.” Toe het hy dit op die grond gegooi, en dit het ’n slang geword;+ en Moses het daarvoor begin vlug.
4 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert.” Toe het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ’n staf in sy palm geword.
5 “Sodat”, soos hy dit gestel het, “hulle kan glo dat Jehovah, die God van hulle voorvaders,+ die God van Abraham,+ die God van Isak+ en die God van Jakob,+ aan jou verskyn het.”+
6 Toe het Jehovah weer eens vir hom gesê: “Steek jou hand asseblief in die boonste vou van jou kleed.” En hy het sy hand in die boonste vou van sy kleed gesteek. Toe hy dit uittrek, kyk, toe was sy hand deur melaatsheid aangetas, soos sneeu!+
7 Daarna het hy gesê: “Steek jou hand terug in die boonste vou van jou kleed.” En hy het sy hand in die boonste vou van sy kleed teruggesteek. Toe hy dit uit die boonste vou van sy kleed uittrek, kyk, toe was dit weer soos die res van sy vlees!+
8 “En”, soos hy dit gestel het, “as hulle jou nie glo nie en na die stem van die eerste teken nie luister nie, dan sal hulle beslis die stem van die laaste teken glo.+
9 Maar as hulle selfs hierdie twee tekens nie glo nie en na jou stem nie luister nie,+ dan moet jy ’n bietjie water uit die Nylrivier neem en dit op die droë grond uitgooi; en die water wat jy uit die Nylrivier sal neem, sal beslis, ja, dit sal inderdaad bloed op die droë grond word.”+
10 Moses het toe vir Jehovah gesê: “Verskoon my, Jehovah, maar ek is nie ’n vlot spreker nie, nie sedert gister of daarvóór of sedert u met u kneg gepraat het nie, want ek is swaar van mond en swaar van tong.”+
11 Daarop het Jehovah vir hom gesê: “Wie het vir die mens ’n mond gemaak, of wie maak die stomme of die dowe of die skerpsiende of die blinde? Is dit nie ek, Jehovah, nie?+
12 Gaan dan nou, en ek sal met jou mond wees en ek sal jou leer wat jy moet sê.”+
13 Maar hy het gesê: “Verskoon my, Jehovah, maar stuur asseblief deur die hand van die een wat u gaan stuur.”
14 Toe het Jehovah se toorn teen Moses ontvlam, en hy het gesê: “Is Aäron, die Leviet, nie jou broer nie?+ Ek weet dat hy goed kan praat. En kyk, hy kom jou buitendien al tegemoet. Wanneer hy jou sien, sal hy beslis bly wees in sy hart.+
15 En jy moet met hom praat en die woorde in sy mond lê;+ en ek sal met jou mond en sy mond wees,+ en ek sal julle leer wat julle moet doen.+
16 En hy moet vir jou met die volk praat; en hy sal vir jou as ’n mond dien,+ en jy sal vir hom as God dien.+
17 En jy moet hierdie staf in jou hand neem sodat jy die tekens daarmee kan verrig.”+
18 Toe het Moses weggegaan en na sy skoonvader Jetro teruggekeer en vir hom gesê:+ “Ek wil asseblief gaan en na my broers terugkeer, wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe.”+ En Jetro het vir Moses gesê: “Gaan in vrede.”+
19 Daarna het Jehovah vir Moses in Miʹdian gesê: “Gaan, keer terug na Egipte, want al die manne wat jou siel gesoek het, is dood.”+
20 Toe het Moses sy vrou en sy seuns geneem en hulle op ’n esel laat ry, en hy het na Egipteland teruggekeer. Ook het Moses die staf van die ware God in sy hand geneem.+
21 En Jehovah het vir Moses gesê: “Nadat jy weggegaan en na Egipte teruggekeer het, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke wat ek in jou hand gegee het, voor Farao verrig.+ Wat my betref, ek sal sy hart onversetlik laat word;+ en hy sal die volk nie wegstuur nie.+
22 En jy moet vir Farao sê: ‘Só het Jehovah gesê: “Israel is my seun, my eersgeborene.+
23 En ek sê vir jou: Stuur my seun weg sodat hy my kan dien. Maar as jy weier om hom weg te stuur, kyk, dan maak ek jou seun, jou eersgeborene, dood.”’”+
24 En op die pad, by die herberg,+ het Jehovah hom teëgekom+ en ’n manier bly soek om hom dood te maak.+
25 Uiteindelik het Sippoʹra+ ’n vuurklip geneem en haar seun se voorhuid afgesny+ en dit aan sy voete laat raak en gesê: “Dit is omdat jy vir my ’n bloedbruidegom is.”
26 Gevolglik het hy hom laat staan. Toe het sy gesê: “’n Bloedbruidegom”, weens die besnydenis.
27 Toe het Jehovah vir Aäron gesê: “Gaan Moses in die wildernis tegemoet.”+ Daarop het hy gegaan en hom by die berg van die ware God+ ontmoet en hom gesoen.
28 En Moses het Aäron al die woorde meegedeel van Jehovah, wat hom gestuur het,+ en al die tekens wat hy hom beveel het om te doen.+
29 Daarna het Moses en Aäron gegaan en al die ouer manne van die kinders van Israel versamel.+
30 Toe het Aäron al die woorde gespreek wat Jehovah met Moses gespreek het,+ en hy het die tekens+ voor die oë van die volk verrig.
31 Hierop het die volk geglo.+ Toe hulle hoor dat Jehovah sy aandag+ op die kinders van Israel gerig het en dat hy hulle ellende gesien het,+ het hulle gebuig en hulle neergewerp.+