Eksodus 5:1-23

5  En daarna het Moses en Aäron ingegaan en vir Farao gesê:+ “Só het Jehovah, die God van Israel, gesê: ‘Stuur my volk weg sodat hulle vir my ’n fees in die wildernis kan vier.’”+  Maar Farao het gesê: “Wie is Jehovah,+ dat ek sy stem moet gehoorsaam om Israel weg te stuur?+ Ek ken Jehovah glad nie,+ en wat meer is, ek sal Israel nie wegstuur nie.”+  Maar hulle het gesê: “Die God van die Hebreërs het met ons in aanraking gekom.+ Ons wil asseblief drie dagreise ver die wildernis in trek en aan Jehovah ons God offerandes bring;+ anders tref hy ons dalk met die pes of met die swaard.”+  Hierop het die koning van Egipte vir hulle gesê: “Waarom, Moses en Aäron, laat julle die volk met hulle werk ophou?+ Gaan dra julle las!”+  En Farao het verder gesê: “Kyk! Die volk van die land is nou baie,+ en julle laat hulle waarlik ophou om hulle las te dra.”+  Onmiddellik, nog dieselfde dag, het Farao dié wat die volk gedryf het om te werk en hulle beamptes+ beveel en gesê:  “Julle moenie soos vroeër strooi bymekaarmaak om vir die volk te gee om stene+ te maak nie. Laat hulle self gaan en vir hulle strooi bymekaarmaak.  Bowendien moet julle hulle nog die vereiste hoeveelheid stene oplê wat hulle vroeër gemaak het. Julle mag niks vir hulle verminder nie, want hulle is besig om te verslap.+ Daarom roep hulle uit en sê: ‘Ons wil gaan, ons wil aan ons God offerandes bring!’+  Laat die werk swaar druk op die manne en laat hulle daarmee besig wees, en laat hulle nie aan valse woorde+ aandag skenk nie.” 10  Toe het dié wat die volk gedryf het om te werk+ en hulle beamptes uitgegaan en vir die volk gesê: “Só het Farao gesê: ‘Ek gee julle geen strooi meer nie. 11  Gaan self, kry vir julle strooi waar julle dit ook al kan vind, want julle werk word geensins verminder nie.’”+ 12  Gevolglik het die volk hulle oor die hele Egipteland versprei om stoppels vir strooi bymekaar te maak. 13  En dié wat hulle gedryf het om te werk, het hulle bly aanjaag+ en gesê: “Voltooi julle werk, elkeen sy werk, dag vir dag, net soos toe daar strooi beskikbaar was.”+ 14  Later is die beamptes+ van die kinders van Israel, wat deur Farao se taakgewers oor hulle aangestel is, geslaan,+ terwyl dié gesê het: “Waarom het julle gister sowel as vandag nie julle voorgeskrewe taak voltooi om stene+ te maak soos vroeër nie?”+ 15  Gevolglik het die beamptes+ van die kinders van Israel ingegaan en tot Farao begin roep en gesê: “Waarom behandel u u knegte so? 16  Geen strooi word aan u knegte gegee nie en tog sê hulle vir ons: ‘Maak stene!’ en kyk, u knegte word geslaan, terwyl die skuld by u volk lê.”+ 17  Maar hy het gesê: “Julle is besig om te verslap, julle is besig om te verslap!+ Daarom sê julle: ‘Ons wil gaan, ons wil aan Jehovah offerandes bring.’+ 18  Gaan werk dan nou! Hoewel julle geen strooi gegee sal word nie, moet julle nietemin die vasgestelde hoeveelheid stene lewer.”+ 19  Toe het die beamptes van die kinders van Israel gesien dat hulle in ’n benarde toestand verkeer, omdat daar gesê is:+ “Julle mag julle stene nie eens met ’n deel van enigeen se daaglikse hoeveelheid verminder nie.”+ 20  Daarna het hulle Moses en Aäron+ teëgekom, wat daar gestaan het om hulle te ontmoet wanneer hulle van Farao af kom. 21  Dadelik het hulle vir hulle gesê: “Mag Jehovah julle sien en oordeel,+ aangesien julle ons ’n slegte reuk gemaak het+ voor Farao en voor sy knegte, sodat julle hulle ’n swaard in die hand gegee het om ons dood te maak.”+ 22  Toe het Moses hom tot Jehovah gewend+ en gesê: “Jehovah, waarom het u hierdie volk kwaad aangedoen?+ Waarom het u my eintlik gestuur?+ 23  Want vandat ek voor Farao ingegaan het om in u naam te spreek,+ het hy hierdie volk kwaad aangedoen,+ en u het u volk glad nie verlos nie.”+

Voetnote