Genesis 18:1-33

18  Daarna het Jehovah aan hom verskyn+ tussen die groot bome van Mamre,+ terwyl hy op die warmste van die dag by die ingang van die tent gesit het.+  Toe hy sy oë opslaan,+ het hy gekyk, en daar het drie manne ’n ent van hom af gestaan. Toe hy hulle sien, het hy hulle van die ingang van die tent af tegemoet begin hardloop en hom na die aarde neergebuig.+  Toe het hy gesê: “Jehovah, as ek nou guns in u oë gevind het, gaan dan asseblief nie by u kneg verby nie.+  Laat daar tog ’n bietjie water gehaal word, en julle moet julle voete laat was.+ Gaan lê dan onder die boom.+  En laat ek ’n stukkie brood gaan haal, en verkwik julle hart.+ Daarna kan julle verder gaan, want daarom het julle hier by julle kneg verbygekom.” Hierop het hulle gesê: “Nou maar goed. Jy mag doen net soos jy gesê het.”  Toe het Abraham hom na die tent, na Sara toe, gehaas en gesê: “Maak gou! Kry drie sea fynmeel, knie die deeg en maak ronde koeke.”+  Daarop het Abraham na die beeste gehardloop en ’n sagte en goeie jong bul geneem en dit vir die dienaar gegee, en hy het hom gehaas om dit gereed te maak.+  Hy het toe botter en melk en die jong bul wat hy gereedgemaak het, geneem en dit aan hulle voorgesit.+ Toe het hy by hulle onder die boom bly staan terwyl hulle geëet het.+  Hulle het toe vir hom gesê: “Waar is jou vrou Sara?”+ Hierop het hy gesê: “Hier in die tent!”+ 10  Toe het hy verder gesê: “Ek gaan gewis volgende jaar dié tyd na jou toe terugkeer, en kyk! jou vrou Sara sal ’n seun hê.”+ En Sara het by die ingang van die tent geluister, en dit was agter die man. 11  En Abraham en Sara was oud, gevorderd in jare.+ Sara het al opgehou om te menstrueer.+ 12  Sara het derhalwe by haarself begin lag+ en gesê: “Sal ek, noudat ek afgeleef is, werklik genot hê, terwyl my heer bowendien oud is?”+ 13  Toe het Jehovah vir Abraham gesê: “Waarom het Sara gelag en gesê: ‘Sal ek waarlikwaar geboorte gee, hoewel ek oud geword het?’+ 14  Is enigiets te buitengewoon vir Jehovah?+ Op die vasgestelde tyd sal ek na jou toe terugkeer, volgende jaar dié tyd, en Sara sal ’n seun hê.” 15  Maar Sara het dit begin ontken en gesê: “Ek het nie gelag nie!” Want sy was bang. Hierop het hy gesê: “Nee! maar jy hét gelag.”+ 16  Later het die manne daarvandaan opgestaan en in die rigting van Sodom+ afgekyk, en Abraham het saam met hulle geloop om hulle te vergesel.+ 17  En Jehovah het gesê: “Hou ek vir Abraham verborge wat ek doen?+ 18  Abraham gaan tog gewis ’n groot en magtige nasie word, en al die nasies van die aarde sal hulleself deur middel van hom seën.+ 19  Want ek het met hom bekend geraak dat hy sy seuns en sy huis ná hom bevel kan gee, sodat hulle Jehovah se weg sal hou om regverdigheid en reg te doen;+ sodat Jehovah waarlik oor Abraham kan bring wat hy omtrent hom gespreek het.”+ 20  Toe het Jehovah gesê: “Die klaaggeroep oor Sodom en Gomorʹra,+ ja, dit is hard, en hulle sonde, ja, dit is baie swaar.+ 21  Ek is vasbeslote om af te gaan sodat ek kan sien of hulle werklik optree volgens die geroep wat daaroor by my gekom het, en so nie, dan kan ek dit te wete kom.”+ 22  Op dié tydstip het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom vertrek; maar wat Jehovah+ betref, hy het steeds voor Abraham gestaan.+ 23  Toe het Abraham nader gekom en begin sê: “Sal u werklik die regverdige saam met die goddelose wegvee?+ 24  Gestel daar is vyftig regverdiges binne-in die stad. Sal u hulle dan wegvee en die plek nie vergewe ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie?+ 25  Dit is ondenkbaar van u dat u op hierdie manier handel om die regverdige saam met die goddelose dood te maak, sodat dit met die regverdige moet gaan soos met die goddelose!+ Dit is ondenkbaar van u.+ Sal die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?”+ 26  Toe het Jehovah gesê: “As ek in Sodom vyftig regverdiges binne-in die stad vind, sal ek die hele plek ter wille van hulle vergewe.”+ 27  Maar Abraham het geantwoord en gesê: “Asseblief, kyk, ek het dit op my geneem om met Jehovah te praat, hoewel ek stof en as is.+ 28  Gestel dat daar aan die vyftig regverdiges vyf sou ontbreek. Sal u die hele stad weens die vyf verwoes?” Hierop het hy gesê: “Ek sal dit nie verwoes as ek vyf-en-veertig daar vind nie.”+ 29  Maar hy het weer eens verder met hom gepraat en gesê: “Gestel daar word veertig gevind.” En hy het gesê: “Ek sal dit ter wille van die veertig nie doen nie.” 30  Maar hy het verder gesê: “Mag Jehovah se toorn asseblief tog nie ontvlam nie,+ maar laat my verder praat:+ Gestel daar word dertig gevind.” En hy het gesê: “Ek sal dit nie doen as ek dertig daar vind nie.” 31  Maar hy het nog verder gesê: “Asseblief tog, kyk, ek het dit op my geneem om met Jehovah te praat:+ Gestel daar word twintig gevind.” En hy het gesê: “Ek sal dit ter wille van die twintig nie verwoes nie.”+ 32  Ten slotte het hy gesê: “Mag Jehovah se toorn asseblief tog nie ontvlam nie,+ maar laat my nog hierdie een keer praat:+ Gestel daar word tien gevind.” En hy het gesê: “Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie.”+ 33  Toe het Jehovah+ weggegaan nadat hy opgehou het om met Abraham te praat, en Abraham het na sy plek teruggekeer.

Voetnote