Genesis 24:1-67

24  En Abraham was oud, gevorderd in jare; en Jehovah het Abraham in alles geseën.+  Abraham het derhalwe vir sy kneg, die oudste van sy huis, wat in beheer was van alles wat hy gehad het,+ gesê: “Sit asseblief jou hand onder my dy,+  aangesien ek jou moet laat sweer by Jehovah,+ die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy nie vir my seun ’n vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie,+  maar dat jy na my land en na my familielede sal gaan+ en beslis vir my seun, vir Isak, ’n vrou sal neem.”  Die kneg het egter vir hom gesê: “Sê nou die vrou wil nie saam met my na hierdie land kom nie? Moet ek u seun dan vir seker terugneem na die land waaruit u weggetrek het?”+  Hierop het Abraham vir hom gesê: “Sorg dat jy nie my seun daarheen terugneem nie.+  Jehovah, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit die land van my familielede geneem het+ en wat met my gepraat het en wat vir my gesweer+ en gesê het: ‘Aan jou saad+ gaan ek hierdie land gee’,+ hy sal sy engel voor jou uit stuur,+ en jy sal beslis van daar vir my seun ’n vrou neem.+  Maar as die vrou nie saam met jou wil kom nie, dan sal jy vry wees van hierdie eed aan my.+ Jy moet net nie my seun daarheen terugneem nie.”  Daarop het die kneg sy hand onder die dy van sy heer Abraham gesit en vir hom gesweer in verband met hierdie saak.+ 10  En die kneg het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en met allerhande goeie dinge van sy heer in sy hand gegaan.+ Toe het hy opgestaan en na Mesopotaʹmië, na die stad van Nahor, vertrek. 11  Uiteindelik het hy die kamele laat neerkniel buite die stad by ’n waterput, teen die aand,+ ongeveer die tyd dat die vroue wat water skep, gewoonlik uitgaan.+ 12  En hy het gesê: “Jehovah, die God van my heer Abraham,+ laat dit asseblief vandag voor my gebeur en bewys liefderyke goedhartigheid+ aan my heer Abraham.+ 13  Kyk, ek staan by ’n waterfontein, en die dogters van die manne van die stad kom uit om water te skep.+ 14  Dit moet gebeur dat die jong vrou vir wie ek sal sê: ‘Laat asseblief jou waterkruik sak sodat ek kan drink’, en wat inderdaad sal sê: ‘Drink, en ek sal ook u kamele water gee’, sy is die een wat u vir u kneg, vir Isak, moet bestem;+ en laat my hieraan weet dat u lojale liefde aan my heer bewys het.”+ 15  Wel, nog voordat hy klaar gepraat het,+ kyk, toe het Rebekka uitgekom, wat vir Beʹtuel,+ die seun van Milka,+ die vrou van Nahor,+ Abraham se broer, gebore is, en haar waterkruik was op haar skouer.+ 16  En die jong vrou was baie aantreklik in voorkoms,+ ’n maagd, en nog geen man het met haar geslagsgemeenskap gehad nie;+ en sy het na die fontein afgegaan en haar waterkruik begin vol maak en toe opgekom. 17  Die kneg het haar dadelik tegemoetgehardloop en gesê: “Gee my asseblief ’n slukkie water uit jou kruik.”+ 18  En sy het gesê: “Drink, my heer.” Daarop het sy gou haar kruik op haar hand laat sak en hom laat drink.+ 19  Toe sy hom klaar laat drink het, het sy gesê: “Ook vir u kamele sal ek water skep totdat hulle klaar gedrink het.”+ 20  En sy het haar kruik gou in die drinkbak leeggemaak en telkens weer na die put gehardloop om water te skep,+ en sy het vir al sy kamele bly skep. 21  Die hele tyd het die man haar met verwondering aangestaar, terwyl hy stilgebly het sodat hy kon weet of Jehovah sy reis suksesvol gemaak het of nie.+ 22  Toe die kamele klaar gedrink het, het die man ’n goue neusring+ van ’n halfsikkel in gewig geneem en twee armbande+ vir haar hande, tien sikkels goud was hulle gewig, 23  en hy het gesê: “Wie se dogter is jy? Vertel my asseblief. Is daar in die huis van jou vader vir ons plek om te oornag?”+ 24  Daarop het sy vir hom gesê: “Ek is die dogter van Beʹtuel,+ die seun van Milka, wat sy vir Nahor gebaar het.”+ 25  En sy het verder vir hom gesê: “Daar is strooi sowel as baie voer by ons, ook plek om te oornag.”+ 26  En die man het gebuig en hom neergewerp voor Jehovah+ 27  en gesê: “Mag Jehovah geloof word,+ die God van my heer Abraham, wat sy liefderyke goedhartigheid en sy trou teenoor my heer nie nagelaat het nie. Op my pad het Jehovah my na die huis van die broers van my heer gelei.”+ 28  En die jong vrou het gehardloop en die huisgesin van haar moeder van hierdie dinge vertel. 29  En Rebekka het ’n broer gehad en sy naam was Laban.+ Toe het Laban na die man toe gehardloop wat buite by die fontein was. 30  En toe hy die neusring en die armbande+ aan die hande van sy suster sien en die woorde van sy suster Rebekka hoor, wat sê: “So het die man vir my gesê”, het hy na die man toe gegaan, en kyk, hy het by die kamele by die fontein gestaan. 31  Hy het dadelik gesê: “Kom, o geseënde van Jehovah.+ Waarom bly jy hier buite staan, terwyl ek die huis gereedgemaak en plek vir die kamele gemaak het?” 32  Daarop het die man in die huis ingekom, en hy het die kamele afgesaal en vir die kamele strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was.+ 33  Toe is hy iets te ete voorgesit, maar hy het gesê: “Ek sal nie eet voordat ek oor my sake gepraat het nie.” Hy het derhalwe gesê: “Praat!”+ 34  Toe het hy gesê: “Ek is Abraham se kneg.+ 35  En Jehovah het my heer baie geseën deurdat hy hom steeds groter maak en hom skape en beeste en silwer en goud en diensknegte en diensmeisies en kamele en esels gee.+ 36  Verder het Sara, die vrou van my heer, vir my heer ’n seun gebaar nadat sy oud geword het;+ en hy sal hom alles gee wat hy het.+ 37  En my heer het my laat sweer en gesê: ‘Jy moenie vir my seun ’n vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie.+ 38  Nee, maar jy moet na die huis van my vader en na my familie gaan,+ en jy moet ’n vrou vir my seun neem.’+ 39  Maar ek het vir my heer gesê: ‘Sê nou die vrou wil nie saam met my kom nie?’+ 40  Toe het hy vir my gesê: ‘Jehovah, voor wie ek gewandel het,+ sal sy engel+ saam met jou stuur en sal beslis jou weg suksesvol maak;+ en jy moet vir my seun ’n vrou neem uit my familie en uit die huis van my vader.+ 41  Dan sal jy vry wees van die verpligting teenoor my weens die eed, wanneer jy by my familie kom, en as hulle haar nie vir jou wil gee nie, dan sal jy vry wees van die verpligting teenoor my weens die eed.’+ 42  “Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gesê: ‘Jehovah, die God van my heer Abraham, as u werklik die weg waarop ek gaan, suksesvol maak,+ 43  kyk, ek staan by ’n waterfontein. Dit moet gebeur dat die meisie+ wat uitkom om water te skep vir wie ek dan sal sê: “Laat my asseblief ’n bietjie water uit jou kruik drink”, 44  en wat inderdaad vir my sal sê: “Drink u, en ek sal ook water vir u kamele skep”, sy is die vrou wat Jehovah vir die seun van my heer bestem het.’+ 45  “Nog voordat ek in my hart+ klaar gepraat het,+ kyk, daar het Rebekka uitgekom, met haar kruik op haar skouer; en sy het na die fontein afgegaan en water begin skep.+ Toe het ek vir haar gesê: ‘Laat my asseblief drink.’+ 46  Daarop het sy gou haar kruik van haar laat afsak en gesê: ‘Drink,+ en ek sal ook u kamele water gee.’ Toe het ek gedrink, en sy het ook die kamele water gegee. 47  Daarna het ek haar gevra en gesê: ‘Wie se dogter is jy?’+ waarop sy gesê het: ‘Die dogter van Beʹtuel, die seun van Nahor, wat Milka vir hom gebaar het.’ Toe het ek die neusring aan haar neus en die armbande aan haar hande gesit.+ 48  En ek het gebuig en my neergewerp voor Jehovah en Jehovah, die God van my heer Abraham, geloof,+ wat my op die ware weg gelei het+ om die dogter van die broer van my heer vir sy seun te neem. 49  En as julle dan nou liefderyke goedhartigheid en trou teenoor my heer bewys,+ sê vir my; maar so nie, sê vir my, sodat ek na die regter- of na die linkerkant kan draai.”+ 50  Toe het Laban en Beʹtuel geantwoord en gesê: “Van Jehovah het hierdie saak uitgegaan.+ Ons kan nie goed of kwaad met jou spreek nie.+ 51  Hier is Rebekka voor jou. Neem haar en gaan, en laat haar ’n vrou word vir die seun van jou heer, net soos Jehovah gesê het.”+ 52  En toe Abraham se kneg hulle woorde gehoor het, het hy hom dadelik op die aarde voor Jehovah neergewerp.+ 53  En die kneg het begin om silwervoorwerpe en goue voorwerpe en klere uit te haal en dit vir Rebekka te gee; en hy het keurige dinge vir haar broer en vir haar moeder gegee.+ 54  Daarna het hulle geëet en gedrink, hy en die manne wat by hom was, en hulle het daar oornag en in die oggend opgestaan. Toe het hy gesê: “STUUR my weg na my heer toe.”+ 55  Hierop het haar broer en haar moeder gesê: “Laat die jong vrou ten minste tien dae by ons bly. Daarna kan sy gaan.” 56  Maar hy het vir hulle gesê: “Moet my nie ophou nie, aangesien Jehovah my weg suksesvol gemaak het.+ Stuur my weg, sodat ek na my heer toe kan gaan.”+ 57  Toe het hulle gesê: “Laat ons die jong vrou roep en uit haar mond verneem.”+ 58  Toe het hulle Rebekka geroep en vir haar gesê: “Sal jy saam met hierdie man gaan?” En sy het gesê: “Ek is bereid om te gaan.”+ 59  Daarop het hulle hulle suster Rebekka+ en haar versorgster+ en Abraham se kneg en sy manne weggestuur. 60  En hulle het Rebekka begin seën en vir haar gesê: “O ons suster, mag jy duisende maal tienduisend word, en mag jou saad die poort van sy haters in besit neem.”+ 61  Daarna het Rebekka en haar dienaresse+ opgestaan en op die kamele gery+ en die man gevolg; en die kneg het Rebekka geneem en vertrek. 62  En Isak het van die pad af gekom wat na Beër-Lahai-Roï+ gaan, want hy het in die land van die Negeb+ gewoon. 63  En Isak het omstreeks die tyd dat dit aand word, buite rondgeloop om in die veld te peins.+ Toe het hy sy oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar het kamele aangekom! 64  Toe Rebekka haar oë opslaan, het sy Isak gesien en vinnig van die kameel afgegly. 65  Daarop het sy vir die kneg gesê: “Wie is daardie man daar wat ons in die veld tegemoetloop?” en die kneg het gesê: “Dit is my heer.” En sy het ’n kopdoek geneem en haar bedek.+ 66  En die kneg het vir Isak alles vertel wat hy gedoen het. 67  Daarna het Isak haar in die tent van sy moeder Sara ingebring.+ So het hy Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword;+ en hy het haar liefgekry,+ en Isak het vertroosting gevind ná die verlies van sy moeder.+

Voetnote