Genesis 27:1-46

27  En toe Isak oud was en sy oë te swak was om te sien,+ het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê:+ “My seun!” waarop hy vir hom gesê het: “Hier is ek!”  En hy het gesê: “Kyk tog, ek het oud geword.+ Ek weet nie die dag van my dood nie.+  Neem dan nou asseblief jou toerusting, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit na die veld en jag ’n stuk wild vir my.+  Maak dan vir my ’n smaaklike gereg soos ek daarvan hou en bring dit vir my en laat my tog eet, sodat my siel jou kan seën voordat ek sterf.”+  Maar Rebekka het geluister terwyl Isak met sy seun Esau gepraat het. En Esau het na die veld uitgegaan om wild te jag en dit in te bring.+  En Rebekka het vir haar seun Jakob gesê:+ “Kyk, ek het jou vader nou net met jou broer Esau hoor praat en sê:  ‘Bring vir my ’n stuk wild en maak vir my ’n smaaklike gereg en laat my tog eet, sodat ek jou voor my dood voor Jehovah kan seën.’+  My seun, luister dan nou na my stem in wat ek jou beveel.+  Gaan asseblief na die kudde en gaan haal vir my daar twee boklammers, goeies, sodat ek daarvan ’n smaaklike gereg kan maak vir jou vader soos hy daarvan hou. 10  Dan moet jy dit na jou vader toe neem en hy moet dit eet, sodat hy jou voor sy dood kan seën.” 11  En Jakob het vir sy moeder Rebekka gesê: “Maar my broer Esau is ’n harige man en ek is ’n gladde man.+ 12  Sê nou my vader voel aan my?+ Dan sal ek beslis in sy oë word soos een wat die spot dryf,+ en ek sal beslis ’n vloek oor my bring en nie ’n seën nie.”+ 13  Hierop het sy moeder vir hom gesê: “Laat die vloek wat vir jou bedoel is, op my wees, my seun.+ Luister net na my stem en gaan haal hulle vir my.”+ 14  Toe het hy hulle gaan haal en na sy moeder toe gebring, en sy moeder het ’n smaaklike gereg gemaak soos sy vader daarvan hou. 15  Daarna het Rebekka klere van haar oudste seun Esau geneem,+ die begeerlikste wat by haar in die huis was,+ en dit vir haar jongste seun Jakob aangetrek.+ 16  En die velle van die boklammers het sy op sy hande en op die haarlose deel van sy nek gesit.+ 17  Toe het sy die smaaklike gereg en die brood wat sy gemaak het, in die hand van haar seun Jakob gegee.+ 18  En hy het na sy vader toe gegaan en gesê: “My vader!” waarop hy gesê het: “Hier is ek! Wie is jy, my seun?” 19  En Jakob het vir sy vader gesê: “Ek is Esau, u eersgeborene.+ Ek het gedoen net soos u vir my gesê het. Rig u asseblief op. Kom sit en eet van my wildsvleis, sodat u siel my kan seën.”+ 20  Daarop het Isak vir sy seun gesê: “Hoe is dit dat jy dit so gou gevind het, my seun?” En hy het gesê: “Omdat Jehovah u God my dit laat teëkom het.” 21  Toe het Isak vir Jakob gesê: “Kom asseblief nader sodat ek aan jou kan voel, my seun, dat ek kan weet of jy werklik my seun Esau is of nie.”+ 22  Toe het Jakob nader gekom na sy vader Isak toe, en hy het aan hom gevoel, waarna hy gesê het: “Die stem is die stem van Jakob, maar die hande is die hande van Esau.”+ 23  En hy het hom nie herken nie, omdat sy hande harig was soos die hande van sy broer Esau. Hy het hom derhalwe geseën.+ 24  Daarna het hy gesê: “Is jy werklik my seun Esau?” waarop hy gesê het: “Ek is.”+ 25  Toe het hy gesê: “Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my siel jou kan seën.”+ Daarop het hy dit vir hom nader gebring, en hy het begin eet, en hy het vir hom wyn gebring, en hy het begin drink. 26  Toe het sy vader Isak vir hom gesê: “Kom asseblief nader en soen my, my seun.”+ 27  En hy het nader gekom en hom gesoen, en hy kon die geur van sy klere ruik.+ En hy het hom geseën en gesê: “Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat Jehovah geseën het. 28  En mag die ware God jou die dou van die hemel+ gee en die vrugbare grond van die aarde+ en ’n oorvloed van graan en nuwe wyn.+ 29  Laat volke jou dien en laat volksgroepe laag voor jou buig.+ Word meester oor jou broers, en laat die seuns van jou moeder laag voor jou buig.+ Mag almal wat jou vervloek, vervloek wees, en mag almal wat jou seën, geseënd wees.”+ 30  En net toe Isak Jakob klaar geseën het, ja, toe Jakob skaars van die aangesig van sy vader Isak af weggegaan het, het sy broer Esau van die jag af teruggekom.+ 31  En ook hy het ’n smaaklike gereg gemaak. Toe het hy dit na sy vader toe gebring en vir sy vader gesê: “Laat my vader opstaan en van sy seun se wildsvleis eet, sodat u siel my kan seën.”+ 32  Hierop het sy vader Isak vir hom gesê: “Wie is jy?” waarop hy gesê het: “Ek is u seun, u eersgeborene, Esau.”+ 33  En Isak het gesidder en erg begin bewe en toe gesê: “Wie is dit dan wat wild gejag en dit vir my gebring het, sodat ek van alles geëet het voordat jy ingekom het en ek hom geseën het? Geseënd sal hy ook wees!”+ 34  Toe Esau sy vader se woorde hoor, het hy op ’n baie harde en bitter toon begin uitroep en vir sy vader gesê:+ “Seën my, ja, ook my, my vader!”+ 35  Maar hy het gesê: “Jou broer het gekom met bedrog sodat hy die seën kon ontvang wat vir jou bedoel was.”+ 36  Hierop het hy gesê: “Is dit nie waarom hy Jakob genoem word nie, omdat hy my nou al twee keer verdring het?+ My geboortereg het hy alreeds geneem,+ en kyk, nou het hy my seën geneem!”+ Toe het hy bygevoeg: “Het u nie vir my ’n seën oorgehou nie?” 37  Maar Isak het Esau geantwoord en verder gesê: “Kyk, ek het hom as meester oor jou aangestel,+ en al sy broers het ek hom as knegte gegee,+ en graan en nuwe wyn het ek vir sy onderhoud geskenk,+ en wat kan ek dan nog vir jou doen, my seun?” 38  Toe het Esau vir sy vader gesê: “Het u net een seën, my vader? Seën my, ja, ook my, my vader!”+ Daarop het Esau sy stem verhef en in trane uitgebars.+ 39  Toe het sy vader Isak hom geantwoord en gesê: “Kyk, ver van die vrugbare grond van die aarde sal jou woonplek gevind word, en ver van die dou van die hemel daar bo.+ 40  En van jou swaard sal jy lewe,+ en jou broer sal jy dien.+ Maar wanneer jy rusteloos raak, sal jy inderdaad sy juk van jou nek afbreek.”+ 41  Esau was Jakob egter vyandiggesind weens die seën waarmee sy vader hom geseën het,+ en Esau het in sy hart bly sê:+ “Die dae van die routyd oor my vader kom nader.+ Daarna gaan ek my broer Jakob doodmaak.”+ 42  Toe die woorde van haar oudste seun Esau aan Rebekka vertel word, het sy dadelik gestuur en haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Kyk! Jou broer Esau troos hom met betrekking tot jou—om jou dood te maak.+ 43  My seun, luister dan nou na my stem en staan op,+ vlug na my broer Laban in Haran.+ 44  En jy moet ’n aantal dae by hom woon totdat die woede van jou broer bedaar,+ 45  totdat die toorn van jou broer van jou wyk en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het.+ En ek sal beslis stuur en jou daarvandaan laat haal. Waarom moet ek op een dag ook van julle al twee beroof word?” 46  Daarna het Rebekka vir Isak bly sê: “Ek het ’n afsku gekry van my lewe weens die dogters van Het.+ As Jakob ooit ’n vrou neem uit die dogters van Het soos dié uit die dogters van die land, watter nut het die lewe dan vir my?”+

Voetnote