Genesis 31:1-55

31  Na verloop van tyd het hy die woorde gehoor van die kinders van Laban, wat gesê het: “Jakob het alles geneem wat aan ons vader behoort het; en uit wat aan ons vader behoort het, het hy al hierdie rykdom vergaar.”+  Wanneer Jakob na die gesig van Laban gekyk het, was dit nie meer teenoor hom soos vroeër nie.+  Uiteindelik het Jehovah vir Jakob gesê: “Keer terug na die land van jou vaders en na jou familielede,+ en ek sal voortdurend met jou wees.”+  Toe het Jakob gestuur en Ragel en Lea veld toe geroep, na sy kleinvee toe,  en hy het vir hulle gesê: “Ek sien aan die gesig van julle vader dat hy nie meer dieselfde teenoor my is as vroeër nie;+ maar die God van my vader was met my.+  En julle self weet vir seker dat ek julle vader met al my krag gedien het.+  En julle vader het my vir die gek gehou, en hy het my loon tien keer verander, maar God het hom nie toegelaat om my skade te berokken nie.+  As hy enersyds gesê het: ‘Die gespikkeldes sal jou loon word’, dan het al die kleinvee gespikkeldes voortgebring; maar as hy andersyds gesê het: ‘Die gestreeptes sal jou loon word’, dan het al die kleinvee gestreeptes voortgebring.+  So het God die kudde van julle vader bly wegneem en aan my gegee.+ 10  Uiteindelik het ek, toe die kleinvee op hitte gekom het, my oë opgeslaan en ’n gesig in ’n droom gesien,+ en kyk, die bokramme wat die kleinvee gedek het, was gestreep, gespikkeld en gevlek.+ 11  Toe het die engel van die ware God vir my in die droom gesê: ‘Jakob!’ waarop ek gesê het: ‘Hier is ek.’+ 12  En hy het verder gesê: ‘Slaan asseblief jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gespikkeld en gevlek, want ek het alles gesien wat Laban jou aandoen.+ 13  Ek is die ware God van Bet-El,+ waar jy ’n pilaar gesalf het+ en waar jy ’n gelofte aan my gedoen het.+ Staan nou op, gaan uit hierdie land uit en keer terug na jou geboorteland.’”+ 14  Hierop het Ragel en Lea geantwoord en vir hom gesê: “Is daar nog vir ons ’n erfdeel in die huis van ons vader?+ 15  Word ons nie in werklikheid deur hom as uitlanders beskou nie, aangesien hy ons verkoop het, sodat hy selfs van die geld wat vir ons betaal is, voortdurend eet?+ 16  Want al die rykdom wat God van ons vader weggeneem het, is ons en ons kinders s’n.+ Doen dan nou alles wat God vir jou gesê het.”+ 17  Toe het Jakob opgestaan en sy kinders en sy vrouens op die kamele getel;+ 18  en hy het sy hele kudde begin aandryf en al die goed wat hy versamel het,+ die kudde wat hy bekom het, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om na sy vader Isak, na die land Kanaän, te gaan.+ 19  En Laban het sy skape gaan skeer. Intussen het Ragel die terafim+ gesteel wat aan haar vader behoort het. 20  En Jakob het Laban, die Siriër, uitoorlê, want hy het hom nie vertel dat hy gaan vlug nie. 21  En hy het gevlug, en hy het opgestaan en deur die Rivier+ getrek, hy en alles wat hy gehad het. Daarna het hy sy gesig na die bergstreek van Giʹlead+ gekeer. 22  Later, op die derde dag, is daar vir Laban vertel dat Jakob gevlug het. 23  Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom ’n afstand van sewe dagreise agternagesit+ en hom in die bergstreek van Giʹlead ingehaal. 24  Toe het God in die nag in ’n droom+ na Laban, die Siriër,+ gekom en vir hom gesê: “Pas op dat jy met Jakob geen goed of kwaad gaan spreek nie.”+ 25  En Laban het na Jakob toe gegaan, aangesien Jakob sy tent in die berg opgeslaan het en Laban sy broers in die bergstreek van Giʹlead kamp laat opslaan het. 26  Toe het Laban vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen, deurdat jy my uitoorlê het en my dogters weggevoer het soos gevangenes wat deur die swaard verower is?+ 27  Waarom moes jy in die geheim vlug en my uitoorlê en het jy my nie vertel nie, sodat ek jou met vreugde en met liedere,+ met tamboeryn en met harp+ kon weggestuur het? 28  En jy het my nie ’n kans gegee om my kinders en my dogters te soen nie.+ Nou het jy dwaas gehandel. 29  Dit is in die mag van my hand om julle kwaad aan te doen,+ maar die God van julle vader het laas nag met my gepraat en gesê: ‘Pas op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie.’+ 30  Jy het dan nou getrek omdat jy intens verlang het na die huis van jou vader, maar waarom het jy my gode gesteel?”+ 31  Jakob het geantwoord en vir Laban gesê: “Omdat ek bang was.+ Want ek het by myself gesê: ‘U sal dalk u dogters van my af wegruk.’ 32  By wie u ook al u gode vind, laat hom nie lewe nie.+ Ondersoek self, voor ons broers, wat by my is en neem dit vir u.”+ Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.+ 33  Toe het Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent van die twee slavinne+ ingegaan, maar dit nie gevind nie. Uiteindelik het hy uit Lea se tent uitgegaan en in Ragel se tent ingegaan. 34  En Ragel het die terafim geneem, en sy het dit in die vrouesaalmandjie van die kameel gesit, en sy het daarop bly sit. Toe het Laban die hele tent deurgevoel, maar dit nie gevind nie. 35  Daarop het sy vir haar vader gesê: “Moenie toorn in die oë van my heer+ laat flits omdat ek nie in staat is om voor u op te staan nie, want dit gaan met my soos dit gebruiklik is met vroue.”+ Toe het hy sorgvuldig verder gesoek, maar die terafim+ nie gevind nie. 36  En Jakob het kwaad geword+ en met Laban rusie begin maak, en Jakob het geantwoord en vir Laban gesê: “Wat is my opstand,+ wat is my sonde, dat u my so vurig agtervolg het?+ 37  Noudat u al my goed deurgevoel het, wat het u van al u huisgoed gevind?+ Sit dit hier voor my broers en u broers neer,+ en laat hulle tussen ons twee beslis.+ 38  Twintig jaar was ek nou by u. U skaapooie en u bokooie het geen misdrag gehad nie,+ en die ramme van u kleinvee het ek nooit geëet nie. 39  ’n Verskeurde dier het ek nie na u toe gebring nie.+ Ek het self die verlies daarvan gedra. Of een nou bedags gesteel is of snags gesteel is, u het dit van my hand geëis.+ 40  Ek het ondervind dat die hitte my bedags verteer het en die koue snags, en my slaap het van my oë gewyk.+ 41  Twintig jaar is ek nou al in u huis. Ek het u veertien jaar gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee, en u het my loon tien keer verander.+ 42  As die God van my vader,+ die God van Abraham en die Vrees van Isak,+ nie aan my kant was nie, sou u my nou met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeisame arbeid van my hande gesien, en daarom het hy u laas nag tereggewys.”+ 43  Toe het Laban geantwoord en vir Jakob gesê: “Die dogters is my dogters en die kinders my kinders en die kleinvee my kleinvee, en alles waarna jy kyk, is myne en my dogters s’n. Wat kan ek vandag teen hulle of teen hulle kinders doen wat hulle gebaar het? 44  Kom dan nou, laat ons ’n verbond sluit,+ ek en jy, en dit sal as ’n getuie tussen my en jou dien.”+ 45  Gevolglik het Jakob ’n klip geneem en dit as ’n pilaar opgerig.+ 46  Toe het Jakob vir sy broers gesê: “Tel klippe op!” En hulle het klippe geneem en ’n hoop gemaak.+ Daarna het hulle daar op die hoop geëet. 47  En Laban het dit Jeʹgar-Sahaduʹta begin noem, maar Jakob het dit Gal-Ed genoem. 48  En Laban het gesê: “Hierdie hoop is vandag ’n getuie tussen my en jou.” Daarom het hy dit Gal-Ed+ genoem, 49  en Die Wagtoring, want hy het gesê: “Mag Jehovah wag hou tussen my en jou wanneer ons mekaar nie kan sien nie.+ 50  As jy my dogters gaan verdruk+ en as jy vrouens gaan neem benewens my dogters, is daar geen mens by ons nie. Kyk! God is ’n getuie tussen my en jou.”+ 51  En Laban het verder vir Jakob gesê: “Hier is dié hoop en hier is die pilaar wat ek tussen my en jou opgerig het. 52  Hierdie hoop is ’n getuie, en die pilaar is iets wat getuig,+ dat ek nie by hierdie hoop sal verbytrek teen jou en dat jy nie by hierdie hoop en hierdie pilaar sal verbytrek teen my met kwade bedoelings nie.+ 53  Mag die god van Abraham+ en die god van Nahor+ tussen ons oordeel, die god van hulle vader.” Maar Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.+ 54  Daarna het Jakob ’n offerande op die berg gebring en sy broers genooi om brood te eet.+ Gevolglik het hulle brood geëet en die nag op die berg deurgebring. 55  Laban het egter die oggend vroeg opgestaan en sy kinders en sy dogters gesoen+ en hulle geseën.+ Toe het Laban vertrek om na sy plek terug te keer.+

Voetnote