Genesis 39:1-23
39 Wat Josef betref, hy is na Egipte afgebring,+ en Poʹtifar,+ ’n hofbeampte van Farao, die hoof van die lyfwag, ’n Egiptenaar, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete+ wat hom daarheen afgebring het.
2 Maar Jehovah was met Josef, sodat hy ’n suksesvolle man geword het,+ en hy was oor die huis van sy heer, die Egiptenaar.
3 En sy heer het gesien dat Jehovah met hom is en dat Jehovah alles wat hy doen, in sy hand laat slaag.
4 En Josef het guns in sy oë bly vind en hom voortdurend bedien, sodat hy hom oor sy huis aangestel het,+ en alles wat syne was, het hy in sy hand gegee.
5 En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat syne was, het Jehovah die huis van die Egiptenaar danksy Josef bly seën, en Jehovah se seën was op alles wat hy in die huis en in die veld gehad het.+
6 Uiteindelik het hy alles wat syne was, in Josef se hand gelaat;+ en hy het glad nie geweet wat by hom is nie, behalwe die brood wat hy eet. En Josef het mooi van gestalte en mooi in voorkoms geword.
7 En ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë+ na Josef begin opslaan en gesê: “Kom lê by my.”+
8 Maar hy het geweier+ en vir sy heer se vrou gesê: “Kyk, my heer weet nie wat by my in die huis is nie, en alles wat hy het, het hy in my hand gegee.+
9 Daar is niemand in hierdie huis groter as ek nie, en hy het niks van my teruggehou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is.+ Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?”+
10 Terwyl sy dan dag na dag met Josef gepraat het, het hy nooit na haar geluister om langs haar te gaan lê om by haar te vertoef nie.+
11 Maar op ’n dag het hy, soos op ander dae, in die huis ingegaan om sy sake te behartig, en nie een van die manne van die huis was daar in die huis nie.+
12 Toe het sy hom aan sy kleed gegryp+ en gesê: “Kom lê by my!”+ Maar hy het sy kleed in haar hand gelaat en gevlug en na buite gegaan.+
13 En toe sy sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly het om na buite te vlug,
14 het sy na die manne van haar huis begin roep en vir hulle gesê: “Kyk! Hy het ’n man, ’n Hebreër, na ons toe gebring om ons ’n voorwerp van bespotting te maak. Hy het na my toe gekom om by my te lê, maar ek het so hard soos ek kon begin skreeu.+
15 En toe hy hoor dat ek my stem verhef en begin skreeu, het hy sy kleed langs my gelaat en gevlug en na buite gegaan.”
16 Daarna het sy sy kleed langs haar laat lê totdat sy heer by sy huis gekom het.+
17 Toe het sy volgens hierdie woorde met hom gespreek en gesê: “Die Hebreeuse kneg wat jy na ons toe gebring het, het na my toe gekom om my ’n voorwerp van bespotting te maak.
18 Maar toe ek my stem verhef en begin skreeu, het hy sy kleed langs my gelaat en na buite gevlug.”+
19 Gevolglik het sy heer se toorn ontvlam die oomblik toe hy die woorde van sy vrou hoor wat sy met hom gespreek het deur te sê: “So en so het jou kneg aan my gedoen.”+
20 Toe het Josef se heer hom geneem en hom oorgelewer aan die gevangenis, die plek waar die gevangenes van die koning aangehou is, en hy het daar in die gevangenis gebly.+
21 Jehovah was egter voortdurend met Josef en het steeds liefderyke goedhartigheid teenoor hom bewys en gegee dat hy guns in die oë van die hoofbeampte van die gevangenis vind.+
22 Daarom het die hoofbeampte van die gevangenis al die gevangenes wat in die gevangenis was, in Josef se hand gegee; en alles wat hulle daar gedoen het, het hý laat doen.+
23 Die hoofbeampte van die gevangenis het na absoluut niks omgesien wat in sy hand was nie, want Jehovah was met Josef, en wat hy gedoen het, het Jehovah laat slaag.+