Genesis 41:1-57

41  En na verloop van twee volle jare het Farao gedroom,+ en kyk, hy het by die Nylrivier gestaan.  En kyk, uit die Nylrivier het sewe koeie opgekom wat mooi van voorkoms en vet van vleis was, en hulle het in die Nylgras gaan wei.+  En ná hulle het daar sewe ander koeie uit die Nylrivier opgekom, lelik van voorkoms en maer van vleis,+ en hulle het langs die koeie op die oewer van die Nylrivier gaan staan.  Toe het die koeie wat lelik van voorkoms en maer van vleis was, die sewe koeie wat mooi van voorkoms en vet was, begin opeet.+ Daarna het Farao wakker geword.+  Hy het egter weer aan die slaap geraak en ’n tweede keer gedroom. En kyk, sewe graanare het aan een stingel opgekom, vet en goed.+  En ná hulle het daar sewe graanare uitgespruit,+ dun en deur die oostewind verskroei.+  En die dun graanare het die sewe vet en vol graanare begin insluk.+ Daarna het Farao wakker geword, en kyk, dit was ’n droom.  En dié oggend het sy gees onrustig geraak.+ Daarom het hy gestuur en al die towerpriesters van Egipte+ en al die wyse manne+ van die land laat roep, en Farao het vir hulle sy drome vertel.+ Maar daar was niemand wat dit vir Farao kon uitlê nie.  Toe het die hoof van die skinkers met Farao gepraat+ en gesê: “Vandag maak ek melding van my sondes.+ 10  Farao was toornig op sy knegte.+ Daarom het hy my in die tronk van die huis van die hoof van die lyfwag gesit,+ my sowel as die hoof van die bakkers. 11  Daarna het ons al twee in die een nag ’n droom gedroom, ek sowel as hy. Ons het elkeen sy droom met sy eie uitlegging gedroom.+ 12  En saam met ons was daar ’n jong man, ’n Hebreër,+ ’n kneg van die hoof van die lyfwag.+ Toe ons dit vir hom vertel,+ het hy ons drome vir ons uitgelê. Hy het vir elkeen die uitlegging volgens sy droom gegee. 13  En net soos hy dit vir ons uitgelê het, so het dit gebeur. My het hy in my amp herstel,+ maar hom het hy opgehang.”+ 14  En Farao het gestuur en Josef laat roep,+ sodat hulle hom gou uit die kerker kon bring.+ Hy het derhalwe geskeer+ en ander mantels aangetrek+ en na Farao toe gegaan. 15  Toe het Farao vir Josef gesê: “Ek het ’n droom gedroom, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En ek het gehoor dat daar van jou gesê word dat jy ’n droom net hoef te hoor om dit uit te lê.”+ 16  Hierop het Josef Farao geantwoord en gesê: “Ek hoef nie in aanmerking geneem te word nie! God sal welsyn vir Farao aankondig.”+ 17  En Farao het vir Josef gesê: “In my droom het ek op die oewer van die Nylrivier gestaan. 18  En kyk, uit die Nylrivier het sewe koeie opgekom wat vet van vleis en mooi van gestalte was, en hulle het in die Nylgras begin wei.+ 19  En ná hulle het daar sewe ander koeie opgekom, skraal en baie lelik van gestalte en maer van vleis.+ So sleg soos hulle het ek in die hele Egipteland nog nie gesien nie. 20  En die maer en slegte koeie het die eerste sewe vet koeie begin opeet.+ 21  En dié het in hulle maag gekom, en tog kon daar nie gemerk word dat hulle in hulle maag gekom het nie, aangesien hulle voorkoms net so sleg was soos in die begin.+ Toe het ek wakker geword. 22  “Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe graanare het aan een stingel opgekom, vol en goed.+ 23  En ná hulle het daar sewe graanare uitgespruit, verskrompeld, dun, deur die oostewind verskroei.+ 24  En die dun graanare het die sewe goeie graanare begin insluk.+ En ek het dit aan die towerpriesters meegedeel,+ maar niemand kon my inlig nie.”+ 25  Toe het Josef vir Farao gesê: “Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat die ware God doen, het hy vir Farao vertel.+ 26  Die sewe goeie koeie is sewe jaar. Die sewe goeie graanare is eweneens sewe jaar. Die droom is een en dieselfde. 27  En die sewe maer en slegte koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jaar; en die sewe leë graanare, deur die oostewind verskroei,+ sal sewe jaar van hongersnood wees.+ 28  Dít is wat ek vir Farao gesê het: Wat die ware God doen, het hy Farao laat sien.+ 29  “Kyk, daar kom sewe jaar van groot oorvloed in die hele Egipteland. 30  Maar daarna sal daar beslis sewe jaar van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed in Egipteland sal beslis vergeet word, en die hongersnood sal die land eenvoudig verteer.+ 31  En die oorvloed wat eens in die land was, sal nie gemerk word as gevolg van hierdie hongersnood wat daarop volg nie, want dit sal beslis baie swaar wees. 32  En die feit dat die droom twee keer vir Farao herhaal is, beteken dat die saak deur die ware God stewig bevestig is,+ en die ware God sal dit gou doen.+ 33  “Laat Farao dan nou ’n verstandige en wyse man soek en hom oor Egipteland aanstel.+ 34  Laat Farao optree en opsieners oor die land aanstel,+ en gedurende die sewe jaar van oorvloed moet hy ’n vyfde van Egipteland hef.+ 35  En laat hulle al die voedsel van hierdie komende goeie jare bymekaarmaak, en laat hulle onder Farao se hand graan ophoop as voedsel in die stede,+ en hulle moet dit bewaar. 36  En die voedsel moet dien as ’n voorraad vir die sewe jaar van hongersnood wat in Egipteland sal ontstaan,+ sodat die land nie deur die hongersnood uitgeroei word nie.”+ 37  Wel, die saak was goed in die oë van Farao en van al sy knegte.+ 38  Toe het Farao vir sy knegte gesê: “Kan ’n ander man gevind word soos hierdie een in wie die gees van God is?”+ 39  Daarna het Farao vir Josef gesê: “Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het,+ is daar niemand so verstandig en wys soos jy nie.+ 40  Jy sal persoonlik oor my huis wees,+ en my hele volk sal jou onvoorwaardelik gehoorsaam.+ Net wat die troon betref, sal ek groter wees as jy.”+ 41  En Farao het verder vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou oor die hele Egipteland aan.”+ 42  Daarop het Farao sy seëlring+ van sy hand afgehaal en dit aan Josef se hand gesit en hom klere van fyn linne laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang.+ 43  Wat meer is, hy het hom laat ry in die tweede erewa wat hy gehad het,+ sodat hulle voor hom sou uitroep: “Awrék!” en so is hy oor die hele Egipteland aangestel. 44  En Farao het verder vir Josef gesê: “Ek is Farao, maar sonder jou magtiging mag niemand sy hand of sy voet in die hele Egipteland oplig nie.”+ 45  Daarna het Farao Josef Saʹfenat-Paneʹag genoem en aan hom Aʹsenat,+ die dogter van Potifeʹra, die priester van On,+ as vrou gegee. En Josef het oor Egipteland begin uittrek.+ 46  En Josef was dertig jaar oud+ toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het. Toe het Josef van Farao af weggegaan en die hele Egipteland deurkruis. 47  En gedurende die sewe jaar van oorvloed het die land hande vol voortgebring.+ 48  En hy het aangehou om al die voedsel van die sewe jaar wat oor Egipteland gekom het, bymekaar te maak, en hy het die voedsel in die stede gesit.+ Die voedsel van die land wat rondom ’n stad was, het hy daarin gesit.+ 49  En Josef het ’n baie groot hoeveelheid graan bly ophoop,+ soos die sand van die see, totdat hulle uiteindelik opgehou het om dit te tel, want dit was ontelbaar.+ 50  En voordat die jaar van die hongersnood aangebreek het, is daar vir Josef twee seuns gebore,+ wat Aʹsenat, die dogter van Potifeʹra, die priester van On, vir hom gebaar het. 51  Toe het Josef die eersgeborene Manasʹse+ genoem, want, soos hy dit gestel het: “God het my al my moeite en die hele huis van my vader laat vergeet.”+ 52  En die tweede het hy Eʹfraim+ genoem, want, soos hy dit gestel het: “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.”+ 53  En die sewe jaar van oorvloed wat in Egipteland geheers het, het geleidelik ten einde geloop,+ 54  en daarna het die sewe jaar van hongersnood begin kom, net soos Josef gesê het.+ En die hongersnood het in al die lande ontstaan, maar in die hele Egipteland is daar brood gevind.+ 55  Uiteindelik het die hele Egipteland begin honger ly en het die volk tot Farao om brood begin roep.+ Toe het Farao vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe. Wat hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”+ 56  En die hongersnood het oor die hele oppervlak van die aarde geheers.+ Toe het Josef al die graanskure wat in hulle midde was, begin oopmaak en aan die Egiptenaars verkoop,+ aangesien die hongersnood Egipteland stewig in sy greep gekry het. 57  Wat meer is, mense van die hele aarde het na Egipte gekom om van Josef te koop, want die hongersnood het die hele aarde stewig in sy greep gehad.+

Voetnote