Genesis 45:1-28
45 Hierop kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie.+ Daarom het hy uitgeroep: “LAAT almal van my af weggaan!” En niemand anders het by hom gestaan terwyl Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie.+
2 En hy het sy stem met gehuil begin verhef,+ sodat die Egiptenaars dit gehoor het en Farao se huis dit gehoor het.
3 Uiteindelik het Josef vir sy broers gesê: “Ek is Josef. Lewe my vader nog?” Maar sy broers kon hom glad nie antwoord nie, want hulle was ontsteld weens hom.+
4 Toe het Josef vir sy broers gesê: “Kom asseblief nader na my toe.” Daarop het hulle nader gekom na hom toe.
Toe het hy gesê: “Ek is julle broer Josef, vir wie julle na Egipte verkoop het.+
5 Maar moet nou nie bedroef voel nie+ en moenie vir julleself kwaad wees omdat julle my hierheen verkoop het nie; want vir die bewaring van lewe het God my voor julle uit gestuur.+
6 Want dit is die tweede jaar van die hongersnood op die aarde,+ en daar is nog vyf jaar waarin daar geen ploegtyd of oes sal wees nie.+
7 Gevolglik het God my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel+ op die aarde te plaas en om julle deur ’n groot ontkoming in die lewe te hou.
8 Dit was dan nou nie julle wat my hierheen gestuur het nie,+ maar dit was die ware God, sodat hy my kon aanstel as ’n vader+ vir Farao en as ’n heer vir sy hele huis en as heerser oor die hele Egipteland.
9 “Trek gou op na my vader toe, en julle moet vir hom sê: ‘Só het u seun Josef gesê: “God het my aangestel as heer oor die hele Egipte.+ Kom af na my toe. Moenie talm nie.
10 En u moet in die land Gosen woon,+ en u moet naby my bly, u en u kinders en u kindskinders en u beeste en u kleinvee en alles wat u het.
11 En ek sal u daar van voedsel voorsien, want daar is nog vyf jaar van hongersnood;+ sodat u en u huis en alles wat u het, nie in armoede verval nie.”’
12 En kyk, julle oë en die oë van my broer Benjamin sien dat dit my mond is wat met julle praat.+
13 Julle moet my vader dus vertel van al my heerlikheid in Egipte en alles wat julle gesien het; en julle moet gou maak en my vader hierheen afbring.”
14 Toe het hy sy broer Benjamin om die hals geval en begin huil, en Benjamin het aan sy hals gehuil.+
15 En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals gehuil,+ en daarna het sy broers met hom gepraat.
16 En die nuus is in die huis van Farao gehoor deurdat daar gesê is: “Josef se broers het gekom!” En dit was goed in die oë van Farao en van sy knegte.+
17 Toe het Farao vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: ‘Doen dít: Laai julle pakdiere en gaan na die land Kanaän,+
18 en neem julle vader en julle huisgesinne en kom hier na my toe, sodat ek julle die goeie van Egipteland kan gee; en eet die vet deel van die land.+
19 En jý word beveel:+ “Doen dít: NEEM vir julle waens+ uit Egipteland vir julle kindertjies en julle vrouens, en julle moet julle vader op een tel en hierheen kom.+
20 En moenie dat julle oog jammer voel oor julle toerusting nie,+ want die goeie van die hele Egipteland is julle s’n.”’”+
21 Toe het die seuns van Israel dit gedoen, en Josef het vir hulle waens gegee volgens Farao se bevele en vir hulle padkos gegee+ vir die reis.
22 Vir elkeen van hulle het hy afsonderlik ’n nuwe mantel gegee,+ maar vir Benjamin het hy driehonderd silwerstukke en vyf nuwe mantels gegee.+
23 En vir sy vader het hy die volgende gestuur: tien esels wat goeie dinge van Egipte gedra het en tien eselinne wat graan en brood en voedsel vir sy vader vir die reis gedra het.
24 So het hy sy broers weggestuur, en hulle het gegaan. Hy het egter vir hulle gesê: “Moenie op mekaar vertoornd word op die pad nie.”+
25 En hulle het uit Egipte begin optrek en eindelik in die land Kanaän by hulle vader Jakob gekom.
26 Toe het hulle aan hom berig gebring en gesê: “Josef lewe nog, en hy is heerser oor die hele Egipteland!”+ Maar sy hart het lam geword, want hy het hulle nie geglo nie.+
27 Toe hulle al Josef se woorde vir hom vertel wat hy met hulle gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van hulle vader Jakob begin herlewe.+
28 Toe het Israel uitgeroep: “Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ag, laat ek gaan en hom sien voordat ek sterf!”+