Genesis 47:1-31
47 Toe het Josef gekom en aan Farao berig gebring en gesê:+ “My vader en my broers en hulle kleinvee en hulle beeste en alles wat hulle het, het uit die land Kanaän gekom, en kyk, hulle is in die land Gosen.”+
2 En uit die hele getal van sy broers het hy vyf manne geneem, sodat hy hulle aan Farao kon voorstel.+
3 Toe het Farao vir sy broers gesê: “Watter soort werk doen julle?”+ En hulle het vir Farao gesê: “U knegte is skaapwagters,+ ons sowel as ons voorvaders.”+
4 Daarna het hulle vir Farao gesê: “Ons het as vreemdelinge in die land kom woon,+ want daar is geen weiding vir die kleinvee wat u knegte het nie,+ want die hongersnood is swaar in die land Kanaän.+ Laat u knegte dan nou asseblief in die land Gosen woon.”+
5 Daarop het Farao vir Josef gesê: “Jou vader en jou broers het hier na jou toe gekom.
6 Egipteland is tot jou beskikking.+ Laat jou vader en jou broers in die allerbeste deel van die land woon.+ Laat hulle in die land Gosen woon,+ en as jy weet dat daar moedige manne onder hulle is,+ moet jy hulle as veeopsigters aanstel oor wat myne is.”+
7 Toe het Josef sy vader Jakob ingebring en hom aan Farao voorgestel, en Jakob het Farao geseën.+
8 Farao het toe vir Jakob gesê: “Hoeveel is die dae van jou lewensjare?”
9 En Jakob het vir Farao gesê: “Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd-en-dertig jaar.+ Min en rampspoedig was die dae van my lewensjare,+ en dit het nie die dae van die lewensjare van my vaders in die dae van hulle vreemdelingskap bereik nie.”+
10 Daarna het Jakob Farao geseën en van Farao af weggegaan.+
11 So het Josef sy vader en sy broers laat woon en het hy hulle ’n besitting in Egipteland gegee, in die allerbeste deel van die land, in die land Ramses,+ net soos Farao beveel het.
12 En Josef het aangehou om sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader van brood te voorsien,+ ooreenkomstig die getal van die kindertjies.+
13 En daar was geen brood in die hele land nie, want die hongersnood was baie swaar;+ en Egipteland en die land Kanaän het uitgeput geraak as gevolg van die hongersnood.+
14 En Josef het voortgegaan om al die geld bymekaar te maak wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, vir die graan wat mense gekoop het;+ en Josef het die geld in Farao se huis bly inbring.
15 Na verloop van tyd was die geld van Egipteland en die land Kanaän op, en al die Egiptenaars het na Josef toe begin kom en gesê: “Gee vir ons brood!+ En waarom moet ons voor u sterf omdat die geld opgeraak het?”+
16 Toe het Josef gesê: “Gee julle vee en ek sal vir julle brood gee in ruil vir julle vee, as die geld opgeraak het.”
17 En hulle het hulle vee na Josef toe begin bring; en Josef het aangehou om vir hulle brood te gee in ruil vir hulle perde en die vee van die skaapkuddes en die vee van die beeskuddes en die esels,+ en hy het hulle gedurende daardie jaar van brood voorsien in ruil vir al hulle vee.
18 Geleidelik het daardie jaar ten einde geloop, en hulle het die volgende jaar na hom toe begin kom en vir hom gesê: “Ons sal dit nie vir my heer wegsteek nie, maar die geld en die kuddes mak diere is aan my heer oorbetaal.+ Voor my heer bly daar niks oor nie, behalwe ons liggaam en ons grond.+
19 Waarom moet ons voor u oë sterf,+ ons sowel as ons grond? Koop ons en ons grond vir brood,+ en ons met ons grond sal Farao se slawe word; en gee vir ons saad dat ons kan lewe en nie sterf nie en dat ons grond nie woes word nie.”+
20 So het Josef al die grond van die Egiptenaars vir Farao gekoop,+ want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, want die hongersnood het hulle stewig in sy greep gekry; en die grond het Farao s’n geword.
21 Wat die volk betref, hy het hulle na stede verskuif, van die een end van die gebied van Egipte tot die ander end daarvan.+
22 Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie,+ want die rantsoene van die priesters het van Farao af gekom en hulle het hulle rantsoene geëet wat Farao hulle gegee het.+ Daarom het hulle nie hulle grond verkoop nie.+
23 Toe het Josef vir die volk gesê: “Kyk, ek het julle en julle grond vandag vir Farao gekoop. Hier is saad vir julle, en julle moet die grond daarmee besaai.+
24 Wanneer dit opbrengs gelewer het,+ moet julle ’n vyfde aan Farao gee,+ maar vier dele sal julle s’n word as saad vir die land en as voedsel vir julle en vir dié wat in julle huise is en vir julle kindertjies om te eet.”+
25 Gevolglik het hulle gesê: “U het ons lewe bewaar.+ Laat ons guns in die oë van my heer vind, en ons sal Farao se slawe word.”+
26 En Josef het dit tot vandag toe as ’n verordening vasgestel met betrekking tot die grondeiendom van Egipte, dat ’n vyfde aan Farao moet behoort. Net die grond van die priesters as ’n afsonderlike groep het nie Farao s’n geword nie.+
27 En Israel het in Egipteland, in die land Gosen,+ gewoon; en hulle het hulle daarin gevestig en was vrugbaar en het talryk geword.+
28 En Jakob het nog sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat Jakob se dae, die jare van sy lewe, honderd-sewe-en-veertig jaar was.+
29 Geleidelik het die dae nader gekom vir Israel om te sterf.+ Daarom het hy sy seun Josef geroep en vir hom gesê: “As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan asseblief jou hand onder my dy,+ en jy moet liefderyke goedhartigheid en trou teenoor my bewys.+ (Moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie.)+
30 En ek sal met my vaders ontslaap,+ en jy moet my uit Egipte neem en my in hulle graf begrawe.”+ Toe het hy gesê: “Ek sal doen ooreenkomstig u woord.”
31 Toe het hy gesê: “Sweer vir my.” En hy het vir hom gesweer.+ Daarop het Israel hom oor die koppenent van die slaapbank neergebuig.+