Genesis 50:1-26
50 Toe het Josef op die gesig van sy vader geval+ en oor hom in trane uitgebars en hom gesoen.+
2 Daarna het Josef sy knegte, die geneeshere, beveel om sy vader te balsem.+ Toe het die geneeshere Israel gebalsem,
3 en hulle het ’n volle veertig dae vir hom gebruik, want hulle gebruik gewoonlik soveel dae vir die balseming, en die Egiptenaars het sewentig dae lank oor hom gehuil.+
4 Uiteindelik was die dae van die gehuil oor hom verby, en Josef het met Farao se huis gepraat en gesê: “As ek nou guns in julle oë gevind het,+ praat dan asseblief ten aanhore van Farao en sê:
5 ‘My vader het my laat sweer+ en gesê: “Kyk! Ek is sterwend.+ In my graf wat ek vir my in die land Kanaän uitgegrawe het,+ daar moet jy my begrawe.”+ En laat my nou asseblief optrek en my vader begrawe, waarna ek bereid is om terug te kom.’”
6 Gevolglik het Farao gesê: “Trek op en begrawe jou vader net soos hy jou laat sweer het.”+
7 Toe het Josef opgetrek om sy vader te begrawe, en saam met hom het al Farao se knegte opgetrek, die ouer manne+ van sy huis en al die ouer manne van Egipteland,
8 en Josef se hele huis en sy broers en die huis van sy vader.+ Net hulle kindertjies en hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die land Gosen agtergelaat.
9 Ook het strydwaens+ sowel as ruiters saam met hom opgetrek, en die kamp was baie talryk.
10 Toe het hulle by die dorsvloer+ van Atad gekom, wat in die Jordaanstreek+ is, en daar het hulle ’n baie groot en swaar weeklag gehou, en hy het die rouplegtigheid vir sy vader sewe dae laat duur.+
11 En die inwoners van die land, die Kanaäniete, het die rouplegtigheid op die dorsvloer van Atad gesien, en hulle het uitgeroep: “Dit is ’n swaar rou vir die Egiptenaars!” Daarom is dit Aʹbel-Misraʹim genoem, wat in die Jordaanstreek lê.+
12 En sy seuns het vir hom gedoen presies soos hy hulle beveel het.+
13 Sy seuns het hom dus na die land Kanaän geneem en hom begrawe in die grot van die veld van Magpeʹla, teenoor Mamre,+ die veld wat Abraham van Efron, die Hetiet, gekoop het om ’n graf te besit.
14 Daarna het Josef, nadat hy sy vader begrawe het, na Egipte teruggekeer, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te begrawe.
15 Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood is, het hulle begin sê: “Miskien is Josef ons vyandiggesind+ en sal hy ons vir seker vergeld vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het.”+
16 Daarom het hulle ’n bevel aan Josef oorgedra met dié woorde: “U vader het voor sy dood die bevel gegee en gesê:
17 ‘Só moet julle vir Josef sê: “Ek smeek jou, vergewe+ asseblief die opstandigheid van jou broers en hulle sonde, deurdat hulle jou kwaad aangedoen het.”’+ En vergewe nou asseblief die opstandigheid van die knegte van u vader se God.”+ En Josef het in trane uitgebars toe hulle met hom praat.
18 Daarna het sy broers ook gekom en voor hom neergeval en gesê: “Kyk, ons is u slawe!”+
19 Toe het Josef vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want is ek in die plek van God?+
20 Wat julle betref, julle het kwaad teen my in gedagte gehad. God het dit ten goede in gedagte gehad met die doel om soos vandag op te tree om baie mense in die lewe te hou.+
21 Moet dan nou nie bang wees nie. Ek sal aanhou om julle en julle kindertjies van voedsel te voorsien.”+ So het hy hulle vertroos en gerusstellend met hulle gepraat.
22 En Josef het in Egipte gewoon, hy en die huis van sy vader; en Josef het honderd-en-tien jaar lank gelewe.
23 En Josef het Eʹfraim se kinders van die derde geslag gesien,+ ook die kinders van Magir,+ Manasʹse se seun. Hulle is op Josef se knieë gebore.+
24 Eindelik het Josef vir sy broers gesê: “Ek is sterwend; maar God sal ongetwyfeld sy aandag op julle rig,+ en hy sal julle beslis uit hierdie land laat optrek na die land wat hy aan Abraham, aan Isak en aan Jakob met ’n eed beloof het.”+
25 Josef het die seuns van Israel derhalwe laat sweer en gesê: “God sal ongetwyfeld sy aandag op julle rig. Dan moet julle my beendere hiervandaan opneem.”+
26 Daarna het Josef op die ouderdom van honderd-en-tien jaar gesterf; en hulle het hom laat balsem,+ en hy is in Egipte in ’n doodskis gesit.