Jeremia 4:1-31
4 “As jy wou terugkeer, o Israel”, is die woord van Jehovah, “mag jy tot my terugkeer.+ En as jy jou walglike dinge ter wille van my verwyder,+ dan sal jy nie as ’n vlugteling gaan nie.
2 En as jy beslis sweer:+ ‘So waar as Jehovah lewe in waarheid,+ in geregtigheid en in regverdigheid!’+ dan sal die nasies hulleself in hom seën en in hom oor hulleself roem.”+
3 Want só het Jehovah vir die manne van Juda en vir Jerusalem gesê: “Ploeg vir julle bewerkbare grond en moenie tussen dorings bly saai nie.+
4 Laat julle vir Jehovah besny, en verwyder die voorhuid van julle hart,+ o manne van Juda en inwoners van Jerusalem, sodat my woede weens die slegtheid van julle handelinge nie net soos ’n vuur uitgaan en beslis brand sonder dat iemand dit blus nie.”+
5 VERTEL dit in Juda en verkondig dit selfs in Jerusalem+ en sê dit en blaas ’n horing deur die hele land.+ Roep hard uit en sê: “Kom bymekaar en laat ons in die versterkte stede ingaan.+
6 Rig ’n baken op in die rigting van Sion. Maak voorsiening vir skuiling. Moenie bly staan nie.” Want ek bring rampspoed uit die noorde,+ ja, ’n groot ineenstorting.
7 Hy het opgekom soos ’n leeu uit sy bos,+ en die een wat die nasies verdelg, het uitgetrek;+ hy het uit sy plek uitgegaan om jou land ’n voorwerp van verbasing te maak. Jou stede sal in puin val, sodat daar geen inwoner sal wees nie.+
8 Daarom, omgord julle met saklinne.+ Slaan op julle bors en weeklaag,+ want die brandende toorn van Jehovah het nie van ons gewyk nie.+
9 “En op dié dag”, is die woord van Jehovah, “sal die hart van die koning vergaan,+ asook die hart van die vorste; en die priesters sal beslis verstom staan en die profete sal verbaas wees.”+
10 En ek het gesê: “Ag, o Soewereine Heer Jehovah! Waarlik, u het hierdie volk en Jerusalem heeltemal bedrieg+ deur te sê: ‘Julle sal vrede hê’,+ en die swaard het tot aan die siel gereik.”
11 In dié tyd sal daar vir hierdie volk en vir Jerusalem gesê word: “Daar is ’n verskroeiende wind van die gebaande weë deur die wildernis+ op pad na die dogter van my volk;+ dit is nie om uit te wan of om te suiwer nie.
12 Die wind in sy volle krag kom daarvandaan na my toe. Nou sal ek ook die oordele oor hulle uitspreek.+
13 Kyk! Soos reënwolke sal hy opkom, en sy strydwaens is soos ’n stormwind.+ Sy perde is vinniger as arende.+ Wee ons, want ons is geplunder!
14 Was jou hart skoon van louter slegtheid, o Jerusalem, sodat jy gered kan word.+ Hoe lank sal jou verkeerde gedagtes in jou vertoef?+
15 Want ’n stem vertel uit Dan+ en verkondig iets skadeliks uit die bergstreek van Eʹfraim.+
16 VERMELD dit, ja, aan die nasies. Verkondig dit teen Jerusalem.”
“Wagters kom uit ’n ver land,+ en hulle sal hulle stem laat hoor teen die stede van Juda.
17 Soos bewakers van die oop veld is hulle aan alle kante teen die stad,+ omdat dit teen my in opstand gekom het”,+ is die woord van Jehovah.
18 “Jou weg en jou handelinge—dit sal jou vergeld word.+ Dit is die rampspoed oor jou, want dit is bitter; want dit het tot aan jou hart gereik.”
19 O my ingewande, my ingewande! Ek ervaar hewige pyn aan die wande van my hart.+ My hart is onstuimig in my.+ Ek kan nie stilbly nie, want my siel het die geluid van die horing gehoor, die alarmsein van oorlog.+
20 Ineenstorting op ineenstorting is uitgeroep, want die hele land is geplunder.+ Skielik is my tente geplunder,+ in ’n oomblik my tentdoeke.
21 Hoe lank sal ek die baken nog sien, die geluid van die horing nog hoor?+
22 Want my volk is dwaas.+ Aan my het hulle hulle nie gesteur nie.+ Hulle is onwyse kinders; en hulle het geen begrip nie.+ Wys is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie.+
23 Ek het die land gesien, en kyk! dit was leeg en woes;+ en tot in die hemel, en sy lig was nie meer nie.+
24 Ek het die berge gesien, en kyk! hulle het gebewe, en al die heuwels is geskud.+
25 Ek het gesien, en kyk! daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het gevlug.+
26 Ek het gesien, en kyk! die boord was ’n wildernis, en al die stede daarvan was afgebreek.+ Dit was weens Jehovah, weens sy brandende toorn.
27 Want só het Jehovah gesê: “’n Verlate woesteny sal die hele land word,+ en sal ek nie ’n algehele uitroeiing bewerkstellig nie?+
28 Hieroor sal die land treur,+ en die hemel daar bo sal beslis donker word.+ Dit is omdat ek gespreek het, ek dit oorweeg het, en ek het nie spyt gevoel nie, en ook sal ek nie daarvan afsien nie.+
29 Weens die geluid van die ruiters en boogskutters vlug die hele stad.+ Hulle het in die ruigtes ingegaan, en op die rotse het hulle geklim.+ Elke stad is verlaat, en geen mens woon daarin nie.”
30 Wat sal jy doen noudat jy geplunder is, aangesien jy jou altyd in skarlaken geklee het, jou met goue sierade versier het, jou oë met swart verf vergroot het?+ Tevergeefs het jy jou mooi gemaak.+ Dié wat jou wellustig begeer het, het jou verwerp; hulle bly jou siel soek.+
31 Want ek het ’n stem soos dié van ’n siek vrou gehoor, die benoudheid soos dié van ’n vrou wat aan haar eerste kind geboorte gee,+ die stem van die dogter van Sion wat na asem bly snak. Sy hou aan om haar palms uit te strek:+ “Wee my tog, want my siel is moeg vir die moordenaars!”+