Johannes 19:1-42

19  Toe het Pilatus Jesus geneem en hom gegesel.+  En die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit en hom met ’n purper bokleed geklee;+  en hulle het begin om tot by hom te kom en te sê: “Goeiedag, Koning van die Jode!” Ook het hulle hom in die gesig geklap.+  En Pilatus het weer buitentoe gegaan en vir hulle gesê: “Kyk! Ek bring hom buitentoe na julle sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”+  Gevolglik het Jesus buitentoe gekom terwyl hy die doringkroon en die purper bokleed gedra het. En hy het vir hulle gesê: “Kyk! Die mens!”  Maar toe die hoofpriesters en die beamptes hom sien, het hulle geskreeu en gesê: “Hang hom aan die paal! Hang hom aan die paal!”+ Pilatus het vir hulle gesê: “Neem julle hom en hang hom aan die paal, want ek vind geen skuld in hom nie.”+  Die Jode het hom geantwoord: “Ons het ’n wet,+ en volgens die wet behoort hy te sterf, omdat hy homself God se seun gemaak het.”+  Toe Pilatus dan hierdie woord hoor, het hy nog meer bevrees geword;  en hy het weer in die goewerneur se paleis ingegaan en vir Jesus gesê: “Waar kom jy vandaan?” Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie.+ 10  Pilatus het derhalwe vir hom gesê: “Praat jy nie met my nie?+ Weet jy nie dat ek gesag het om jou vry te laat en dat ek gesag het om jou aan die paal te hang nie?” 11  Jesus het hom geantwoord: “U sou hoegenaamd geen gesag teen my hê as dit nie van bo aan u gegee was nie.+ Daarom het die man wat my aan u oorgelewer het, groter sonde.” 12  Om dié rede het Pilatus ’n manier bly soek om hom vry te laat. Maar die Jode het geskreeu en gesê: “As u hierdie man vrylaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself ’n koning maak, praat teen die keiser.”+ 13  Daarom het Pilatus, nadat hy hierdie woorde gehoor het, Jesus buitentoe gebring, en hy het op ’n regterstoel gaan sit op ’n plek wat Die Klipplaveisel genoem word, maar in Hebreeus Gabʹbata. 14  En dit was die voorbereiding+ van die pasga; dit was omtrent die sesde uur. En hy het vir die Jode gesê: “Kyk! Julle koning!” 15  Hulle het egter geskreeu: “Neem hom weg! Neem hom weg! Hang hom aan die paal!” Pilatus het vir hulle gesê: “Moet ek julle koning aan die paal hang?” Die hoofpriesters het geantwoord: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”+ 16  Toe het hy hom aan hulle oorgelewer om aan die paal gehang te word.+ Daarop het hulle Jesus onder bewaking geneem. 17  En terwyl hy self die folterpaal gedra het,+ het hy uitgegaan+ na die sogenaamde Skedelplek, wat in Hebreeus Golʹgota genoem word;+ 18  en daar het hulle hom aan die paal gehang,+ en twee ander manne saam met hom, een aan hierdie en een aan daardie kant, maar Jesus in die middel.+ 19  Pilatus het ook ’n opskrif geskryf en dit aan die folterpaal gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus die Nasarener, die Koning van die Jode.”+ 20  Baie van die Jode het dus hierdie opskrif gelees,+ omdat die plek waar Jesus aan die paal gehang is, naby die stad was; en dit was in Hebreeus, in Latyn en in Grieks geskryf. 21  Die hoofpriesters van die Jode het egter vir Pilatus begin sê: “Moenie ‘Die Koning van die Jode’ skryf nie, maar dat hy gesê het: ‘Ek is Koning van die Jode.’” 22  Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” 23  En toe die soldate Jesus aan die paal gehang het, het hulle sy boklere geneem en vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel, en die onderkleed. Maar die onderkleed was sonder ’n naat, van bo af in sy volle lengte aaneen geweef.+ 24  Daarom het hulle vir mekaar gesê: “Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons daarvoor loot om te bepaal wie s’n dit sal wees.” Dit was sodat die Skrifgedeelte vervul sou word: “Hulle het my boklere onder mekaar verdeel, en oor my klere het hulle die lot gewerp.”+ En die soldate het hierdie dinge werklik gedoen. 25  Maar by die folterpaal van Jesus het sy moeder+ en die suster van sy moeder gestaan; Maria,+ die vrou van Klopas, en Maria Magdaleʹna.+ 26  En toe Jesus sy moeder en die dissipel wat hy liefgehad het,+ daar sien staan, het hy vir sy moeder gesê: “Vrou, kyk! U seun!” 27  Daarna het hy vir die dissipel gesê: “Kyk! Jou moeder!” En van daardie uur af het die dissipel haar na sy eie huis geneem. 28  Hierna het Jesus, met die wete dat alles al volbring is en sodat die Skrifgedeelte vervul sou word, gesê: “Ek is dors.”+ 29  ’n Houer vol suur wyn het daar gestaan. Daarom het hulle ’n spons vol van die suur wyn op ’n hisopstingel gesit en dit na sy mond gebring.+ 30  En toe Jesus die suur wyn ontvang het, het hy gesê: “Dit is volbring!”+ en hy het sy kop gebuig en sy gees oorgegee.+ 31  Toe het die Jode, omdat dit die Voorbereiding+ was, Pilatus versoek om hulle bene te laat breek en die liggame te laat wegneem, sodat die liggame nie op die Sabbat aan die folterpale sou bly nie+ (want die dag van daardie Sabbat was groot).+ 32  Die soldate het dus gekom en die bene van die eerste man gebreek en dié van die ander man wat saam met hom aan ’n paal gehang is. 33  Maar toe hulle by Jesus kom, het hulle nie sy bene gebreek nie, aangesien hulle gesien het dat hy reeds dood is. 34  Nogtans het een van die soldate sy sy met ’n spies gesteek,+ en onmiddellik het bloed en water uitgekom. 35  En hy wat dit gesien het, het getuig, en sy getuienis is waar, en dié man weet dat hy ware dinge vertel, sodat julle ook kan glo.+ 36  Trouens, hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrifgedeelte vervul sou word: “Geen been van hom sal verbrysel word nie.”+ 37  En ’n ander Skrifgedeelte sê weer: “Hulle sal die Een aanskou wat hulle deurboor het.”+ 38  En ná hierdie dinge het Josef van Arimateʹa, wat ’n dissipel van Jesus was, maar in die geheim weens sy vrees vir die Jode,+ Pilatus versoek om die liggaam van Jesus te kan wegneem; en Pilatus het hom toestemming gegee.+ Daarom het hy gekom en sy liggaam weggeneem.+ 39  Ook Nikodeʹmus, die man wat die eerste keer in die nag na hom toe gekom het, het gekom en ’n rol mirre en aalwyn gebring, omtrent honderd pond.+ 40  Toe het hulle die liggaam van Jesus geneem en dit saam met die speserye met verbande toegedraai,+ net soos die Jode die gebruik het om vir ’n begrafnis voor te berei. 41  Terloops, by die plek waar hy aan die paal gehang is, was daar ’n tuin, en in die tuin ’n nuwe gedenkgraf,+ waarin niemand nog ooit neergelê is nie. 42  Daar het hulle Jesus toe weens die voorbereiding+ van die Jode neergelê, omdat die gedenkgraf naby was.

Voetnote