Josua 22:1-34

22  In dié tyd het Josua die Rubeniete en die Gadiete en die halwe stam van Manasʹse+ geroep  en vir hulle gesê: “Wat julle betref, julle het alles onderhou wat Moses, die kneg van Jehovah, julle beveel het,+ en julle was gehoorsaam aan my stem in alles wat ek julle beveel het.+  Julle het hierdie baie dae+ tot vandag toe nie julle broers verlaat nie, en julle het die verpligting van die gebod van Jehovah julle God nagekom.+  En nou het Jehovah julle God julle broers rus gegee, net soos hy hulle beloof het.+ Draai dan nou om en gaan na julle tente in die land van julle besitting, wat Moses, die kneg van Jehovah, julle aan die oorkant van die Jordaan gegee het.+  Gee net baie noukeurig daarop ag om die gebod en die wet te onderhou+ wat Moses, die kneg van Jehovah, julle beveel het, deur Jehovah julle God lief te hê+ en deur in al sy weë te wandel+ en deur sy gebooie te onderhou+ en deur hom aan te kleef+ en deur hom met julle hele hart+ en met julle hele siel+ te dien.”+  Daarop het Josua hulle geseën+ en hulle weggestuur sodat hulle na hulle tente kon gaan.  En aan die halwe stam van Manasʹse het Moses in Basan ’n deel geskenk,+ en aan die ander helfte daarvan het Josua ’n deel geskenk saam met hulle broers aan die kant van die Jordaan na die weste.+ Toe Josua hulle na hulle tente wegstuur, het hy hulle ook geseën.  En hy het vir hulle gesê: “Keer terug na julle tente met groot rykdom en met geweldig baie vee, met silwer en goud en koper en yster en ’n baie groot hoeveelheid klere.+ Neem saam met julle broers julle deel van die buit+ van julle vyande.”  Daarna het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasʹse teruggekeer en weggetrek van die ander kinders van Israel af, uit Silo, wat in die land Kanaän is, om na die land Giʹlead+ te gaan, na die land van hulle besitting waarin hulle hulle gevestig het op Jehovah se bevel deur middel van Moses.+ 10  Toe hulle by die Jordaanstreke kom wat in die land Kanaän is, het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasʹse daar by die Jordaan ’n altaar gebou, ’n baie opvallende altaar.+ 11  Later het die ander kinders van Israel gehoor+ dat daar gesê word: “Kyk! Die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasʹse het ’n altaar gebou aan die grens van die land Kanaän in die Jordaanstreke aan die kant wat aan die kinders van Israel behoort.” 12  Toe die kinders van Israel dit te hore kom, het die hele vergadering van die kinders van Israel+ in Silo+ bymekaargekom om vir militêre optrede teen hulle op te trek.+ 13  Toe het die kinders van Israel vir Piʹnehas,+ die seun van Eleaʹsar, die priester, na die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasʹse in die land Giʹlead gestuur,+ 14  en tien owerstes saam met hom, een owerste van elke vaderhuis van al die stamme van Israel, en hulle was elkeen ’n hoof van die huis van hulle vaders van die duisende van Israel.+ 15  Na verloop van tyd het hulle by die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasʹse in die land Giʹlead gekom en met hulle begin praat+ en gesê: 16  “Só het die hele vergadering van Jehovah+ gesê: ‘Wat is hierdie daad van ontrouheid+ wat julle teen die God van Israel gepleeg het, dat julle julle vandag daarvan afkeer+ om Jehovah te volg deurdat julle vir julle ’n altaar bou,+ om vandag teen Jehovah in opstand te kom? 17  Was die oortreding van Peor+ vir ons te klein, waarvan ons ons tot vandag toe nie gereinig het nie, hoewel die plaag oor die vergadering van Jehovah gekom het?+ 18  En julle—julle wil julle vandag daarvan afkeer om Jehovah te volg; en as júlle vandag teen Jehovah in opstand kom, sal hy môre teen die hele vergadering van Israel verontwaardig wees.+ 19  As die land van julle besitting nou inderdaad onrein is,+ trek dan oor na die land van Jehovah se besitting+ waar die tabernakel van Jehovah woon,+ en vestig julle onder ons; en moenie teen Jehovah in opstand kom nie en moenie van ons opstandelinge maak deurdat julle vir julle ’n altaar bou benewens die altaar van Jehovah ons God nie.+ 20  Was dit nie Agan,+ die seun van Serag, wat ’n daad van ontrouheid gepleeg het ten opsigte van dit wat aan vernietiging oorgegee is nie, en was dit nie oor die hele vergadering van Israel dat daar verontwaardiging gekom het nie?+ En hy was nie die enigste man wat in sy oortreding gesterf het nie.’”+ 21  Hierop het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasʹse geantwoord+ en met die hoofde van die duisende van Israel gepraat:+ 22  “Die Goddelike Wese,+ God,+ Jehovah, die Goddelike Wese, God, Jehovah,+ hy weet,+ en Israel self sal ook weet.+ As dit uit opstandigheid is+ en as dit uit ontrouheid teen Jehovah is,+ red ons dan nie vandag nie. 23  As dit was om vir ons ’n altaar te bou om ons daarvan af te keer om Jehovah te volg, en as dit was om brandoffers en graanoffers daarop te bring,+ en as dit was om gemeenskapsoffers daarop te bring, sal Jehovah self dit uitvors;+ 24  of as dit nie eerder uit angstige besorgdheid vir iets anders was dat ons dit gedoen het nie en gesê het: ‘Op ’n toekomstige dag sal julle seuns vir ons seuns sê: “Wat het julle te doen met Jehovah, die God van Israel? 25  En daar is ’n grens wat Jehovah tussen ons en julle, die kinders van Ruben en die kinders van Gad, gestel het, naamlik die Jordaan. Julle het geen deel aan Jehovah nie.”+ En julle seuns sal ons seuns beslis laat ophou om Jehovah te vrees.’+ 26  “Ons het derhalwe gesê: ‘Laat ons asseblief ten behoewe van onsself optree deur die altaar te bou, nie vir brandoffer of vir offerande nie, 27  maar dat dit ’n getuie kan wees tussen ons+ en julle en ons geslagte ná ons dat ons die diens van Jehovah voor hom sal verrig met ons brandoffers en ons offerandes en ons gemeenskapsoffers,+ sodat julle seuns nie op ’n toekomstige dag vir ons seuns sal sê: “Julle het geen deel aan Jehovah nie.”’ 28  Toe het ons gesê: ‘En as hulle dit op ’n toekomstige dag vir ons en vir ons geslagte sê, dan sal ons sê: “Sien die afbeelding van Jehovah se altaar wat ons vaders gemaak het, nie vir brandoffer of vir offerande nie, maar dit is ’n getuie tussen ons en julle.”’ 29  Dit is vir ons ondenkbaar om uit ons eie teen Jehovah in opstand te kom en om ons vandag daarvan af te keer om Jehovah te volg+ deur ’n altaar vir brandoffer, graanoffer en offerande te bou benewens die altaar van Jehovah ons God wat voor sy tabernakel staan!”+ 30  En toe Piʹnehas,+ die priester, en die owerstes van die vergadering+ en die hoofde van die duisende van Israel wat saam met hom was, die woorde hoor wat die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasʹse gespreek het, was dit goed in hulle oë. 31  Toe het Piʹnehas, die seun van Eleaʹsar, die priester, vir die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasʹse gesê: “Vandag weet ons dat Jehovah in ons midde is,+ want julle het nie hierdie daad van ontrouheid teen Jehovah gepleeg nie. Nou het julle die kinders van Israel uit die hand van Jehovah verlos.”+ 32  Daarop het Piʹnehas, die seun van Eleaʹsar, die priester, en die owerstes teruggekeer+ van die kinders van Ruben en die kinders van Gad in die land Giʹlead na die land Kanaän, na die ander kinders van Israel en vir hulle berig gebring.+ 33  En die woord was goed in die oë van die kinders van Israel; en die kinders van Israel het God geloof,+ en hulle het nie daarvan gepraat om vir krygsdiens teen hulle op te trek om die land te verwoes waarin die kinders van Ruben en die kinders van Gad woon nie. 34  En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het die altaar ’n naam gegee, want “dit is ’n getuie tussen ons dat Jehovah die ware God is”.+

Voetnote