Josua 4:1-24

4  En toe die hele nasie die deurtog deur die Jordaan voltooi het,+ het Jehovah vir Josua gesê:  “Neem vir julle twaalf manne uit die volk, een man uit elke stam,+  en beveel hulle en sê: ‘Neem vir julle hier uit die middel van die Jordaan, van die plek waar die priesters se voete bewegingloos gestaan het,+ twaalf klippe,+ en julle moet hulle saam met julle oordra en hulle neersit op die verblyfplek+ waar julle vannag sal oorbly.’”  Toe het Josua twaalf manne+ geroep wat hy uit die kinders van Israel aangestel het, een man uit elke stam;  en Josua het vir hulle gesê: “Gaan voor die ark van Jehovah julle God uit na die middel van die Jordaan, en tel vir julle elkeen ’n klip op sy skouer, volgens die getal stamme van die kinders van Israel,  sodat dit as ’n teken onder julle kan dien.+ As julle seuns in die toekoms vra en sê: ‘Waarom het julle hierdie klippe?’+  dan moet julle vir hulle sê: ‘Omdat die waters van die Jordaan voor die ark van Jehovah se verbond afgesny is.+ Toe dit deur die Jordaan getrek het, is die waters van die Jordaan afgesny, en hierdie klippe moet tot onbepaalde tyd as ’n gedenkteken vir die kinders van Israel dien.’”+  Toe het die kinders van Israel dit gedoen, net soos Josua beveel het, en hulle het twaalf klippe uit die middel van die Jordaan geneem, net soos Jehovah vir Josua gesê het, om met die getal stamme van die kinders van Israel ooreen te stem;+ en hulle het hulle saam met hulle na die verblyfplek+ oorgeneem en hulle daar neergesit.  Daar was ook twaalf klippe wat Josua in die middel van die Jordaan opgerig het op die plek waar die voete gestaan het+ van die priesters wat die verbondsark gedra het, en hulle is tot vandag toe nog daar. 10  En die priesters wat die Ark gedra het, het in die middel+ van die Jordaan gestaan totdat alles uitgevoer was wat Jehovah Josua beveel het om vir die volk te sê, volgens alles wat Moses Josua beveel het.+ Die hele tyd het die volk hulle gehaas+ en deurgetrek. 11  En onmiddellik nadat die hele volk die deurtog voltooi het, het die ark+ van Jehovah deurgetrek, en die priesters, voor die volk. 12  En die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasʹse+ het in slagorde+ voor die oë van die kinders van Israel deurgetrek, net soos Moses vir hulle gesê het.+ 13  Omtrent veertigduisend wat vir die leër toegerus was, het voor Jehovah deurgetrek vir die oorlog, na die woestynvlaktes van Jeʹrigo. 14  Daardie dag het Jehovah Josua groot gemaak in die oë van die hele Israel,+ en hulle het hom begin vrees net soos hulle Moses al die dae van sy lewe gevrees het.+ 15  Toe het Jehovah vir Josua gesê: 16  “Beveel die priesters wat die ark van die getuienis dra+ dat hulle uit die Jordaan moet opklim.” 17  Toe het Josua die priesters beveel en gesê: “Klim op uit die Jordaan.” 18  En toe die priesters wat die ark+ van die verbond van Jehovah dra, uit die middel van die Jordaan opklim en die priesters hulle voetsole+ op die droë grond uitlig, het die waters van die Jordaan na hulle plek begin terugkeer en soos voorheen al sy oewers oorstroom.+ 19  En die volk het op die tiende van die eerste maand uit die Jordaan opgeklim en by Gilgal+ aan die oostelike grens van Jeʹrigo kamp opgeslaan. 20  Wat die twaalf klippe betref wat hulle uit die Jordaan geneem het, Josua het hulle in Gilgal opgerig.+ 21  En hy het vir die kinders van Israel gesê: “Wanneer julle seuns hulle vaders in die toekoms vra en sê: ‘Wat beteken hierdie klippe?’+ 22  dan moet julle dit aan julle seuns bekend maak en sê: ‘Dit was op die droë grond dat Israel deur hierdie Jordaan getrek het,+ 23  toe Jehovah julle God die waters van die Jordaan voor hulle laat opdroog het totdat hulle deurgetrek het, net soos Jehovah julle God met die Rooi See gedoen het toe hy dit voor ons laat opdroog het totdat ons deurgetrek het;+ 24  sodat al die volke van die aarde Jehovah se hand kan ken,+ dat dit sterk is;+ sodat julle Jehovah julle God inderdaad altyd mag vrees.’”+

Voetnote