Levitikus 14:1-57

14  En Jehovah het voortgegaan om met Moses te praat en gesê:  “Dít sal die wet van die melaatse+ word op die dag van die vasstelling van sy reiniging, wanneer hy na die priester toe gebring moet word.+  En die priester moet buite die kamp gaan, en die priester moet kyk; en as die melaatse genees is+ van die plaag van melaatsheid,  dan moet die priester bevel gee; en hy moet, om homself te reinig, twee lewende rein voëls+ en sederhout+ en karmosynrooi stof+ en hisop+ bring.  En die priester moet bevel gee, en die een voël moet in ’n erdehouer oor lopende water+ doodgemaak word.  Wat die lewende voël betref, hy moet dié en die sederhout en die karmosynrooi stof en die hisop neem, en hy moet dit en die lewende voël doop in die bloed van die voël wat oor die lopende water doodgemaak is.  Dan moet hy dit sewe keer+ spat+ op die een wat homself van die melaatsheid reinig, en hy moet hom rein verklaar,+ en hy moet die lewende voël oor die oop veld wegstuur.+  “En die een wat homself reinig, moet sy klere was+ en al sy hare afskeer en in water bad+ en sal rein wees, en daarna mag hy in die kamp inkom. En hy moet sewe dae lank buite sy tent bly.+  En op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer, van sy kop+ en sy ken en sy wenkbroue. Ja, hy moet al sy hare afskeer, en hy moet sy klere was en sy vlees in water bad; en hy sal rein wees. 10  “En op die agtste+ dag moet hy twee jong ramme sonder gebrek neem en een ooilam sonder gebrek,+ in haar eerste jaar, en drie tiendes van ’n efa fynmeel as ’n graanoffer,+ met olie bevogtig, en een log olie;+ 11  en die priester wat hom rein verklaar, moet die man wat homself reinig, en hierdie dinge, voor Jehovah by die ingang van die tent van samekoms stel. 12  En die priester moet die een jong ram neem en dit saam met die log+ olie as ’n skuldoffer+ bring, en hy moet dit as ’n beweegoffer+ voor Jehovah heen en weer beweeg. 13  En hy moet die jong ram op die plek slag+ waar die sondoffer en die brandoffer gereeld geslag word, op ’n heilige plek,+ want die skuldoffer behoort net soos die sondoffer aan die priester.+ Dit is iets hoogheiligs. 14  “En die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem, en die priester moet dit aan die regteroorlel smeer van die een wat homself reinig en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet.+ 15  En die priester moet van die log+ olie neem en dit in die priester se linkerpalm gooi. 16  En die priester moet sy regtervinger in die olie doop wat in sy linkerpalm is en moet met sy vinger van die olie sewe keer+ voor Jehovah spat. 17  En van die res van die olie wat in sy palm is, moet die priester aan die regteroorlel smeer van die een wat homself reinig en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet, bo-oor die bloed van die skuldoffer.+ 18  En wat oorbly van die olie wat in die priester se palm is, moet hy op die kop smeer van die een wat homself reinig, en die priester moet vir hom versoening doen+ voor Jehovah. 19  “En die priester moet die sondoffer+ offer en versoening doen vir die een wat homself van sy onreinheid reinig, en daarna moet hy die brandoffer slag. 20  En die priester moet die brandoffer en die graanoffer+ op die altaar offer, en die priester+ moet vir hom versoening doen;+ en hy sal rein wees.+ 21  “As hy egter arm is+ en nie die middele het nie,+ dan moet hy een jong ram as ’n skuldoffer, as ’n beweegoffer, neem om vir hom versoening te doen, en een tiende van ’n efa fynmeel met olie bevogtig as ’n graanoffer, en ’n log olie, 22  en twee tortelduiwe+ of twee jong duiwe, na gelang van sy middele, en die een moet dien as ’n sondoffer en die ander as ’n brandoffer. 23  En op die agtste dag+ moet hy hulle vir die vasstelling van sy reiniging+ na die priester toe bring by die ingang van die tent van samekoms+ voor Jehovah. 24  “En die priester moet die jong skuldofferram+ en die log olie neem, en die priester moet dit as ’n beweegoffer voor Jehovah heen en weer beweeg.+ 25  En hy moet die jong skuldofferram slag, en die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die regteroorlel smeer van die een wat homself reinig en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet.+ 26  En die priester moet van die olie in die priester se linkerpalm gooi.+ 27  En die priester moet met sy regtervinger van die olie wat in sy linkerpalm is, sewe keer voor Jehovah spat.+ 28  En die priester moet van die olie wat in sy palm is, aan die regteroorlel smeer van die een wat homself reinig en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet, bo-oor die plek van die bloed van die skuldoffer.+ 29  En wat oorbly van die olie wat in die priester se palm is, moet hy op die kop smeer+ van die een wat homself reinig, om vir hom versoening te doen voor Jehovah. 30  “En hy moet een van die tortelduiwe of van die jong duiwe waarvoor hy die middele het, offer,+ 31  een van dié waarvoor hy die middele het as ’n sondoffer+ en die ander as ’n brandoffer,+ saam met die graanoffer; en die priester moet voor Jehovah versoening doen+ vir die een wat homself reinig. 32  “Dit is die wet vir die een op wie die plaag van melaatsheid was, wat by die vasstelling van sy reiniging nie die middele het nie.” 33  En Jehovah het met Moses en Aäron gepraat en gesê: 34  “Wanneer julle in die land Kanaän kom,+ wat ek julle as ’n besitting gee,+ en ek die plaag van melaatsheid in ’n huis van die land van julle besitting laat kom,+ 35  dan moet hy aan wie die huis behoort, vir die priester kom vertel en sê: ‘Ek het iets wat soos ’n plaag lyk in die huis gesien.’ 36  En die priester moet bevele gee, en hulle moet die huis ontruim voordat die priester inkom om die plaag te sien, sodat hy nie alles wat in die huis is, onrein verklaar nie; en daarna moet die priester inkom om die huis te bekyk. 37  Wanneer hy die plaag gesien het, en as die plaag aan die mure van die huis is, met geelgroen of rooierige holtes, en dit dieper lyk as die muuroppervlak, 38  dan moet die priester uit die huis uitgaan na die ingang van die huis, en hy moet die huis sewe dae onder kwarantyn plaas.+ 39  “En die priester moet op die sewende dag terugkeer en kyk;+ en as die plaag aan die mure van die huis versprei het, 40  dan moet die priester bevele gee, en hulle moet die klippe uitbreek+ waaraan die plaag is, en hulle moet dit buite die stad op ’n onrein plek gooi. 41  En hy moet die huis binnekant rondom laat afkrap, en hulle moet die messelklei wat hulle afgekrap het, buite die stad op ’n onrein plek gooi. 42  En hulle moet ander klippe neem en dit in die plek van die vorige klippe insit; en hy moet ander messelklei laat neem, en hy moet die huis laat pleister. 43  “As die plaag egter terugkeer en in die huis uitbreek nadat die klippe uitgebreek is en nadat die huis afgekrap en gepleister is, 44  dan moet die priester+ inkom en kyk; en as die plaag in die huis versprei het, is dit kwaadaardige melaatsheid+ in die huis. Dit is onrein. 45  En hy moet die huis laat afbreek met sy klippe en sy balke en al die messelklei van die huis en moet dit buite die stad na ’n onrein plek laat uitdra.+ 46  Maar elkeen wat in die huis inkom al die dae dat dit onder kwarantyn is,+ sal tot die aand toe onrein wees;+ 47  en elkeen wat in die huis gaan lê, moet sy klere was,+ en elkeen wat in die huis eet, moet sy klere was. 48  “Maar as die priester tog kom en hy kyk, en die plaag het nie in die huis versprei nadat die huis gepleister is nie, dan moet die priester die huis rein verklaar, want die plaag is genees.+ 49  En om die huis van sonde te reinig, moet hy twee voëls+ en sederhout+ en karmosynrooi stof+ en hisop neem. 50  En hy moet die een voël in ’n erdehouer oor lopende water doodmaak.+ 51  En hy moet die sederhout en die hisop+ en die karmosynrooi stof en die lewende voël neem en dit doop in die bloed van die voël wat doodgemaak is en in die lopende water, en hy moet dit sewe keer+ na die huis toe spat.+ 52  En hy moet die huis van sonde reinig met die bloed van die voël en die lopende water en die lewende voël en die sederhout en die hisop en die karmosynrooi stof. 53  En hy moet die lewende voël buite die stad wegstuur, die oop veld in, en moet vir die huis versoening doen;+ en dit sal rein wees. 54  “Dit is die wet oor elke plaag van melaatsheid+ en oor die abnormale haarverlies+ 55  en oor die melaatsheid van die kledingstuk+ en in die huis, 56  en oor die uitslag en die roof en die vlek,+ 57  om instruksies te gee+ oor wanneer iets onrein is en wanneer iets rein is. Dit is die wet oor melaatsheid.”+

Voetnote