Lukas 12:1-59

12  Toe die skare intussen by soveel duisende bymekaargekom het dat hulle mekaar vertrap het, het hy begin deur eers vir sy dissipels te sê: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg+ van die Fariseërs, wat huigelary is.+  Maar daar is niks sorgvuldig weggesteek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.+  Wat julle in die duisternis sê, sal derhalwe in die lig gehoor word, en wat julle in binnekamers fluister, sal van die dakke af verkondig word.+  Verder sê ek vir julle, my vriende:+ Moenie dié vrees wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie.+  Maar ek sal vir julle aandui wie julle moet vrees: Vrees hom+ wat, nadat hy doodgemaak het, die gesag het om in Gehenʹna te werp.+ Ja, ek sê vir julle, vrees+ Hom.  Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie.+  Maar selfs die hare+ op julle kop is almal getel. Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies.+  “Ek sê dan vir julle: Elkeen wat voor die mense eenheid met my bely,+ met hom sal die Seun van die mens ook eenheid bely voor die engele van God.+  Maar hy wat my voor die mense verloën,+ sal voor die engele van God verloën word.+ 10  En elkeen wat ’n woord teen die Seun van die mens sê, dit sal hom vergewe word; maar hy wat teen die heilige gees laster, sal dit nie vergewe word nie.+ 11  Maar wanneer hulle julle voor openbare vergaderinge en regeringsamptenare en owerhede bring, moet julle julle nie kwel oor hoe of wat julle ter verdediging sal spreek of wat julle sal sê nie;+ 12  want die heilige gees+ sal julle in daardie selfde uur die dinge leer wat julle behoort te sê.”+ 13  Toe het een van die skare vir hom gesê: “Leermeester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” 14  Hy het vir hom gesê: “Mens, wie het my as regter+ of deler oor julle aangestel?” 15  Toe het hy vir hulle gesê: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug,+ want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.”+ 16  Daarop het hy vir hulle ’n illustrasie vertel en gesê: “Die land van ’n sekere ryk man het ’n goeie opbrengs gelewer. 17  Gevolglik het hy by homself begin redeneer en gesê: ‘Wat sal ek doen, noudat ek geen plek het om my oes te versamel nie?’ 18  Toe het hy gesê: ‘Ek sal dít doen:+ ek sal my voorraadskure afbreek en groteres bou, en daar sal ek al my graan en al my goeie dinge versamel;+ 19  en ek sal vir my siel sê:+ “Siel, jy het talle goeie dinge wat vir baie jare weggesit is; ontspan, eet, drink, wees vrolik.”’+ 20  Maar God het vir hom gesê: ‘Onredelike mens, vannag eis hulle jou siel van jou op.+ Wie gaan dan die dinge kry wat jy opgegaar het?’+ 21  So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie.”+ 22  Toe het hy vir sy dissipels gesê: “Daarom sê ek vir julle: Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra.+ 23  Want die siel is meer werd as voedsel en die liggaam as klere. 24  Let goed daarop dat die rawe+ nie saad saai of oes nie, en hulle het geen pakhuis of voorraadskuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle tog werd as voëls?+ 25  Wie van julle kan deur hom te kwel ’n el by sy lewensduur voeg?+ 26  As julle dan nie die geringste kan doen nie, waarom kwel+ julle julle dan oor die oorblywende dinge? 27  Let goed op hoe die lelies groei;+ hulle swoeg nie en hulle spin nie; maar ek sê vir julle: Nie eens Salomo in al sy heerlikheid was soos een van hulle geklee nie.+ 28  As God dan die plantegroei in die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, só klee, hoeveel te meer sal hy julle klee, julle kleingelowiges!+ 29  Hou dus op om te soek wat julle sal eet en wat julle sal drink, en hou op om in angstige spanning te verkeer;+ 30  want al hierdie dinge jaag die nasies van die wêreld gretig na, maar julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.+ 31  Maar soek voortdurend sy koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.+ 32  “Moenie vrees nie,+ klein kuddetjie,+ want julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee.+ 33  Verkoop+ die goed wat aan julle behoort en gee barmhartigheidsgawes.+ Maak vir julle beurse wat nie verslyt nie, ’n onuitputlike skat in die hemele,+ waar geen dief naby kom of mot verteer nie. 34  Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.+ 35  “Laat julle lendene+ omgord wees en julle lampe+ brand, 36  en wees julle soos mense wat op hulle heer wag+ wanneer hy van die huwelik terugkeer,+ sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak wanneer hy daar aankom en klop.+ 37  Gelukkig is daardie slawe wat die heer by sy aankoms wakend vind!+ Voorwaar, ek sê vir julle: Hy sal hom omgord+ en hulle aan tafel laat gaan en sal nader kom en hulle bedien.+ 38  En as hy in die tweede waak daar aankom, of selfs in die derde, en hulle so vind, gelukkig is hulle!+ 39  Maar weet dít, dat as die huisheer geweet het in watter uur die dief kom, hy sou bly waak het en nie sou toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie.+ 40  Ook julle moet julle gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle dit nie waarskynlik ag nie.”+ 41  Toe het Petrus gesê: “Here, vertel u hierdie illustrasie vir ons of ook vir almal?” 42  En die Here het gesê: “Wie is werklik die getroue bestuurder,+ die verstandige,+ wat sy heer oor sy liggaam van bediendes sal aanstel om hulle op die regte tyd hulle deel van die voedsel te bly gee?+ 43  Gelukkig is daardie slaaf as sy heer hom by sy aankoms daarmee besig vind!+ 44  Ek sê vir julle die waarheid: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel.+ 45  Maar as daardie slaaf ooit in sy hart sou sê: ‘My heer talm om te kom’,+ en sou begin om die diensknegte en die diensmeisies te slaan, en om te eet en te drink en dronk te word,+ 46  sal die heer van daardie slaaf kom op ’n dag dat hy hom nie verwag nie en in ’n uur wat hy nie weet nie,+ en hy sal hom met die grootste strengheid straf en hom ’n deel by die ontroues toewys.+ 47  Dan sal daardie slaaf wat die wil van sy heer verstaan het, maar nie gereedgemaak het of in ooreenstemming met sy wil gehandel het nie, met baie slae geslaan word.+ 48  Maar die een wat nie verstaan het nie+ en dus dinge gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word.+ Ja, van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word;+ en van die een aan wie mense beheer oor baie gegee het, sal hulle meer as gewoonlik eis.+ 49  “Ek het gekom om ’n vuur+ op die aarde te maak, en wat bly vir my oor om te wens as dit reeds aangesteek is? 50  Ja, ek het ’n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word ek totdat dit volbring is!+ 51  Dink julle ek het gekom om vrede op die aarde te gee? Nee, beslis nie, sê ek vir julle, maar eerder verdeeldheid.+ 52  Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.+ 53  Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen haar moeder, skoonmoeder teen haar skoondogter en skoondogter teen haar skoonmoeder.”+ 54  Toe het hy ook vir die skare gesê: “Wanneer julle ’n wolk in die westelike streke sien opkom, sê julle dadelik: ‘Daar kom ’n storm’, en dit gebeur ook so.+ 55  En wanneer julle sien dat ’n suidewind waai, sê julle: ‘Daar sal ’n hittegolf wees’, en dit gebeur. 56  Huigelaars, julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel, maar hoe is dit dat julle nie weet hoe om hierdie besondere tyd te beoordeel nie?+ 57  Waarom oordeel julle nie ook vir julleself wat regverdig is nie?+ 58  Wanneer jy byvoorbeeld met jou teenstander in ’n regsgeding na ’n heerser toe gaan, moet jy op pad moeite doen om die geskil met hom uit die weg te ruim, sodat hy jou nie miskien voor die regter sal sleep en die regter jou aan die geregsbeampte oorlewer en die geregsbeampte jou in die gevangenis gooi nie.+ 59  Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom totdat jy die laaste muntstukkie van baie min waarde terugbetaal het nie.”+

Voetnote