Lukas 2:1-52

2  En in daardie dae het ’n verordening+ van keiser Augustus uitgegaan dat die hele bewoonde aarde geregistreer moet word  (hierdie eerste registrasie het plaasgevind toe Quiriʹnius goewerneur van Sirië was);  en al die mense het op reis gegaan om geregistreer te word,+ elkeen na sy eie stad.  Josef het natuurlik ook van Galileʹa af opgegaan, uit die stad Naʹsaret, na Judeʹa, na die stad van Dawid, wat Betlehem+ genoem word, omdat hy ’n lid van die huis en familie van Dawid was,+  om geregistreer te word saam met Maria,+ wat soos beloof is, aan hom in die huwelik gegee is+ en toe ver gevorderd in swangerskap was.+  Terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy geboorte moes gee.  En sy het geboorte gegee aan haar seun, die eersgeborene,+ en sy het hom met doeke toegedraai en hom in ’n krip neergelê,+ want daar was geen plek vir hulle in die gastekamer nie.  Daar was ook in daardie selfde landstreek herders wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het.  En skielik het Jehovah se engel+ by hulle gestaan, en Jehovah se heerlikheid+ het rondom hulle geglim, en hulle het baie bevrees geword. 10  Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie vrees nie, want kyk! ek maak aan julle goeie nuus bekend van groot vreugde wat die hele volk sal hê,+ 11  want daar is vandag vir julle in die stad van Dawid+ ’n Redder+ gebore, wat Christus die Here is.+ 12  En dít is vir julle ’n teken: Julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.” 13  En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leër,+ wat God geloof+ en gesê het: 14  “Heerlikheid aan God in die hoogtes+ daar bo, en op aarde vrede+ onder mense van welwillendheid.”+ 15  En toe die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, het die herders vir mekaar begin sê: “Laat ons dan tot in Betlehem gaan en hierdie ding sien wat plaasgevind het, wat Jehovah+ aan ons bekend gemaak het.” 16  En hulle het hulle gehaas en Maria sowel as Josef gevind, en die kindjie wat in die krip lê. 17  Toe hulle hom sien, het hulle die woord bekend gemaak wat oor die jong kindjie tot hulle gespreek is. 18  En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is, 19  maar Maria het al hierdie woorde begin bewaar, terwyl sy in haar hart gevolgtrekkings gemaak het.+ 20  Toe het die herders teruggegaan, en hulle het God verheerlik en geloof oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos dit aan hulle vertel is. 21  En toe agt dae+ vervul is dat hy besny+ moes word, is hy ook die naam Jesus+ gegee, die naam wat deur die engel genoem is voordat hy in die moederskoot ontvang is.+ 22  En toe die dae van hulle reiniging+ volgens die wet van Moses vervul is, het hulle hom na Jerusalem opgebring om hom voor Jehovah te stel, 23  net soos daar in Jehovah se wet geskrywe staan: “Alles wat manlik is en ’n moederskoot open, moet heilig vir Jehovah genoem word”,+ 24  en om ’n offerande te bring volgens wat in die wet van Jehovah gesê word: “’n Paar tortelduiwe of twee jong duiwe.”+ 25  En kyk! daar was ’n man in Jerusalem met die naam Siʹmeon, en hierdie man was regverdig en godvresend en het gewag op Israel se vertroosting,+ en heilige gees was op hom. 26  Daarbenewens is dit van God deur die heilige gees aan hom geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus+ van Jehovah gesien het nie. 27  En onder die krag van die gees+ het hy in die tempel ingekom; en toe die ouers die jong kindjie Jesus inbring om vir hom volgens die algemene gebruik van die wet te doen,+ 28  het hy hom in sy arms geneem en God geloof en gesê: 29  “Nou laat u, Soewereine Heer, u slaaf in vrede gaan+ volgens u verklaring; 30  want my oë het u middel tot redding gesien+ 31  wat u voor die oë van al die volke gereedgemaak het,+ 32  ’n lig+ om die sluier+ te verwyder van die nasies+ en ’n heerlikheid van u volk Israel.” 33  En sy vader en moeder het hulle bly verwonder oor die dinge wat van hom gesê word. 34  Ook het Siʹmeon hulle geseën, maar vir sy moeder Maria gesê: “Kyk! Hy is bestem tot die val+ en die heropstanding van baie in Israel+ en tot ’n teken wat weerspreek sal word+ 35  (ja, jou siel sal met ’n lang swaard deurboor word),+ sodat die redenasies van baie harte blootgelê kan word.”+ 36  En daar was Anna, ’n profetes, Faʹnuel se dogter, uit die stam Aser (hierdie vrou was op ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met ’n eggenoot saamgelewe, 37  en sy was toe ’n weduwee+ van vier-en-tagtig jaar), wat nooit van die tempel afwesig was nie en nag en dag+ met vaste en smekinge heilige diens verrig het. 38  En in daardie selfde uur het sy nader gekom en begin om dank aan God te betuig en met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het,+ oor die kind te praat. 39  En toe hulle alles volgens die wet+ van Jehovah nagekom het, het hulle teruggegaan na Galileʹa, na hulle eie stad, Naʹsaret.+ 40  En die jong kindjie het gegroei en sterk geword+ en is met wysheid vervul, en God se guns+ het op hom gebly. 41  En sy ouers was gewoond om van jaar tot jaar vir die pasgafees na Jerusalem te gaan.+ 42  En toe hy twaalf jaar oud geword het, het hulle volgens die feesgebruik+ opgegaan 43  en die dae voltooi. Maar toe hulle terugkeer, het die seun Jesus in Jerusalem agtergebly, en sy ouers het dit nie opgemerk nie. 44  In die veronderstelling dat hy onder die reisgeselskap is, het hulle ’n dagreis ver+ gegaan en hom toe onder die familielede en bekendes begin soek. 45  Maar toe hulle hom nie vind nie, het hulle na Jerusalem teruggekeer en naarstig na hom gesoek. 46  Wel, ná drie dae het hulle hom in die tempel gevind,+ waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het. 47  Maar almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde.+ 48  En toe hulle hom sien, was hulle verstom, en sy moeder het vir hom gesê: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.” 49  Maar hy het vir hulle gesê: “Waarom moes julle na my gaan soek? Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?”+ 50  Hulle het egter nie die woord begryp wat hy tot hulle gespreek het nie.+ 51  En hy het saam met hulle afgegaan en in Naʹsaret gekom, en hy het aan hulle onderdanig gebly.+ Ook het sy moeder al hierdie woorde sorgvuldig in haar hart bewaar.+ 52  En Jesus het deurentyd toegeneem in wysheid+ en in grootte en in guns by God en die mense.+

Voetnote