Lukas 8:1-56

8  Kort daarna het hy van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak.+ En die twaalf was saam met hom,  asook sekere vroue+ wat van bose geeste en siektes genees was: Maria, wat Magdaleʹna genoem word, uit wie sewe demone uitgekom het,+  en Johanna,+ die vrou van Gusa, Herodes se gevolmagtigde, en Susanna en baie ander vroue, wat hulle met hulle besittings bedien het.  En toe ’n groot skare versamel het by dié wat uit die een stad na die ander na hom toe gegaan het, het hy deur middel van ’n illustrasie gepraat:+  “’n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai. Wel, terwyl hy gesaai het, het ’n deel daarvan langs die pad geval en is dit vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.+  ’n Ander deel het op die rots geval, en nadat dit uitgespruit het, het dit verdroog omdat dit nie vogtigheid gehad het nie.+  ’n Ander deel het tussen die dorings geval, en die dorings wat daarmee saam gegroei het, het dit verstik.+  ’n Ander deel het op die goeie grond geval, en nadat dit uitgespruit het, het dit honderdvoudig vrug voortgebring.”+ Terwyl hy hierdie dinge gesê het, het hy begin uitroep: “Laat hom wat ore het om te luister, luister.”+  Maar sy dissipels het hom begin vra wat hierdie illustrasie tog kon beteken.+ 10  Hy het gesê: “Aan julle word dit gegee om die heilige geheime van die koninkryk van God te verstaan, maar vir die res is dit in illustrasies,+ sodat hulle, hoewel hulle kyk, tevergeefs sal kyk en, hoewel hulle hoor, nie die betekenis sal verstaan nie.+ 11  Die illustrasie+ beteken dan nou die volgende: Die saad is die woord van God.+ 12  Dié langs die pad is hulle wat gehoor het;+ dan kom die Duiwel+ en neem die woord uit hulle hart weg sodat hulle nie sal glo en gered word nie.+ 13  Dié op die rots is hulle wat die woord met vreugde ontvang wanneer hulle dit hoor, maar hulle het geen wortel nie; hulle glo ’n tyd lank, maar in ’n tyd van beproewing val hulle weg.+ 14  Wat dié betref wat tussen die dorings geval het, dit is hulle wat gehoor het, maar omdat hulle deur sorge en rykdom en genietinge+ van hierdie lewe meegesleep word, word hulle heeltemal verstik en bring hulle niks tot volmaaktheid nie.+ 15  Wat dié op die goeie grond betref, dit is hulle wat die woord, nadat hulle dit met ’n edel en goeie hart gehoor het,+ vashou en met volharding vrug dra.+ 16  “Niemand wat ’n lamp opgesteek het, bedek dit met ’n houer of sit dit onder ’n bed nie, maar hy sit dit op ’n lampstaander, sodat dié wat binnekom, die lig kan sien.+ 17  Want daar is niks wat weggesteek is+ wat nie openbaar sal word nie, en ook niks wat sorgvuldig verborge is wat nooit bekend sal word en nooit aan die lig sal kom nie.+ 18  Skenk dus aandag aan hoe julle luister; want elkeen wat het, aan hom sal meer gegee word,+ maar elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word selfs wat hy dink hy het.”+ 19  En sy moeder en broers+ het na hom toe gekom, maar weens die skare kon hulle nie tot by hom kom nie.+ 20  Daar is egter vir hom vertel: “U moeder en u broers staan buite en wil u sien.”+ 21  Hy het geantwoord en vir hulle gesê: “My moeder en my broers is dié wat die woord van God hoor en dit doen.”+ 22  In die loop van een van die dae het hy en sy dissipels in ’n boot geklim, en hy het vir hulle gesê: “Laat ons oorvaar na die oorkant van die meer.” Toe het hulle weggeseil.+ 23  Maar terwyl hulle geseil het, het hy aan die slaap geraak. En ’n groot windstorm het op die meer losgebars, en hulle het vol water begin word en in gevaar gekom.+ 24  Uiteindelik het hulle na hom toe gegaan en hom wakker gemaak en gesê: “Onderrigter, Onderrigter, ons staan op die punt om te vergaan!”+ Hy het opgestaan en die wind en die gewoed van die water bestraf,+ en dit het bedaar, en daar het ’n kalmte gekom. 25  Toe het hy vir hulle gesê: “Waar is julle geloof?” Maar hulle was vreesbevange en verwonderd en het vir mekaar gesê: “Wie is hy tog, want hy beveel selfs die winde en die water, en dit gehoorsaam hom?”+ 26  En hulle het vasgemeer in die land van die Geraseners, wat teenoor Galileʹa lê.+ 27  Maar toe hy op die land uitklim, het ’n sekere man uit die stad hom tegemoetgekom, wat van demone besete was. En hy het ’n geruime tyd al nie klere gedra nie, en hy het nie by die huis gewoon nie, maar tussen die grafte.+ 28  Toe hy Jesus sien, het hy hard uitgeroep en voor hom neergeval, en hy het met ’n harde stem gesê: “Wat het ek met u te doen,+ Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek smeek u, moet my nie pynig nie.”+ 29  (Want hy het die onrein gees beveel om uit die man uit te kom. Want dié het hom al ’n lang tyd vasgehou,+ en hy is herhaaldelik onder bewaking met kettings en voetboeie gebind, maar hy het die boeie uitmekaar geruk en is deur die demoon na die eensame plekke gedryf.) 30  Jesus het hom gevra: “Wat is jou naam?” Hy het gesê: “Legioen”, want baie demone het in hom ingevaar.+ 31  En hulle het hom bly soebat+ om hulle nie te beveel om in die afgrond+ in te gaan nie. 32  En ’n aansienlike trop varke+ het daar op die berg gewei; toe het hulle hom gesoebat om hulle toe te laat om in dié in te vaar.+ En hy het hulle toestemming gegee. 33  Toe het die demone uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar, en die trop het oor die krans gestorm, die meer in, en verdrink.+ 34  Maar toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitedistrikte vertel.+ 35  Daarop het mense uitgekom om te sien wat gebeur het, en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die demone uitgekom het, geklee en by sy volle verstand, waar hy by die voete van Jesus sit; en hulle het bevrees geword.+ 36  Dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die demoonbesetene genees is.+ 37  Toe het die hele menigte van die omliggende gebied van die Geraseners hom gevra om van hulle af weg te gaan, want groot vrees het hulle beetgepak.+ Toe het hy in die boot geklim en weggegaan. 38  Die man uit wie die demone uitgegaan het, het egter aangehou smeek om by hom te kan bly; maar hy het die man weggestuur en gesê:+ 39  “Gaan terug huis toe, en hou aan om te vertel wat God vir jou gedoen het.”+ Daarop het hy weggegaan en deur die hele stad verkondig wat Jesus vir hom gedoen het.+ 40  Toe Jesus terugkom, het die skare hom vriendelik ontvang, want hulle almal het hom verwag.+ 41  Maar kyk! ’n man met die naam Jaïrus het gekom, en hierdie man was ’n presiderende beampte van die sinagoge. En hy het voor die voete van Jesus neergeval en hom begin soebat om in sy huis in te kom,+ 42  want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê.+ Terwyl hy gegaan het, het die skare om hom saamgedrom.+ 43  En ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing+ gely het en by niemand genesing kon vind nie,+ 44  het van agter af nader gekom en aan die fraiings+ van sy bokleed geraak,+ en haar bloedvloeiing het oombliklik opgehou.+ 45  Toe het Jesus gesê: “Wie het aan my geraak?”+ Toe hulle dit almal ontken, het Petrus gesê: “Onderrigter, die skare omring u en dring dig teen u aan.”+ 46  Tog het Jesus gesê: “Iemand het aan my geraak, want ek het gemerk dat krag+ van my uitgegaan het.”+ 47  Toe die vrou sien dat sy nie ongemerk gebly het nie, het sy bewend gekom en voor hom neergeval en voor al die mense onthul waarom sy aan hom geraak het en hoe sy oombliklik gesond geword het.+ 48  Maar hy het vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak;+ gaan in vrede.”+ 49  Terwyl hy nog gepraat het, het ’n sekere verteenwoordiger van die presiderende beampte van die sinagoge gekom en gesê: “U dogter het gesterf; moenie die leermeester langer lastig val nie.”+ 50  Toe Jesus dit hoor, het hy hom geantwoord: “Moenie vrees nie, lê net geloof aan die dag,+ en sy sal gered word.” 51  Toe hy by die huis kom, het hy niemand toegelaat om saam met hom in te gaan nie, behalwe Petrus en Johannes en Jakobus en die meisie se vader en moeder.+ 52  Maar die mense het almal gehuil en hulleself in droefheid oor haar geslaan. Toe het hy gesê: “HOU op huil,+ want sy het nie gesterf nie, maar slaap.”+ 53  Hierop het hulle hom begin uitlag, want hulle het geweet dat sy gesterf het.+ 54  Maar hy het haar by die hand geneem en geroep en gesê: “Meisie, staan op!”+ 55  En haar gees+ het teruggekeer, en sy het oombliklik opgestaan,+ en hy het beveel dat sy iets gegee moet word om te eet.+ 56  Wel, haar ouers was buite hulleself; maar hy het hulle opdrag gegee om vir niemand te vertel wat gebeur het nie.+

Voetnote