Markus 12:1-44

12  Ook het hy deur illustrasies met hulle begin praat: “’n Man het ’n wingerd geplant+ en ’n heining daarom gesit en ’n kuip vir die wynpers gegrawe en ’n toring opgerig,+ en hy het dit aan landbouers verhuur+ en na die buiteland gereis.+  En op die regte tyd het hy ’n slaaf na die landbouers toe gestuur, sodat hy van die wingerd se vrug van die landbouers kon kry.+  Maar hulle het hom geneem, hom geslaan en hom met leë hande weggestuur.+  En weer het hy ’n ander slaaf na hulle toe gestuur; en hom het hulle oor die kop geslaan en oneer aangedoen.+  En hy het ’n ander een gestuur, en hom het hulle doodgemaak; en baie ander, van wie hulle party geslaan en party doodgemaak het.  Nog één het hy gehad, ’n geliefde seun.+ Hy het hom laaste na hulle toe gestuur en gesê: ‘Hulle sal my seun respekteer.’+  Maar daardie landbouers het onder mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam.+ Kom, laat ons hom doodmaak, en die erfenis sal ons s’n wees.’+  Toe het hulle hom geneem en hom doodgemaak+ en hom buite die wingerd uitgegooi.+  Wat sal die eienaar van die wingerd doen? Hy sal kom en die landbouers doodmaak en die wingerd+ vir ander gee.+ 10  Het julle nooit hierdie Skrifgedeelte gelees nie: ‘Die steen+ wat die bouers verwerp het, dié het die hoofhoeksteen geword.+ 11  Jehovah het dit teweeggebring, en dit is wonderlik in ons oë’?”+ 12  Daarop het hulle ’n manier begin soek om hom gevange te neem, maar hulle het die skare gevrees, want hulle het begryp dat hy die illustrasie met hulle in gedagte vertel het. En hulle het hom verlaat en weggegaan.+ 13  Daarna het hulle sommige van die Fariseërs en van die partyaanhangers van Herodes+ na hom toe gestuur om hom in sy woorde te verstrik.+ 14  By hulle aankoms het hulle vir hom gesê: “Leermeester, ons weet dat u waaragtig is en u aan niemand steur nie, want u sien nie mense se uiterlike aan nie, maar dat u die weg van God in ooreenstemming met die waarheid leer:+ Is dit geoorloof om hoofbelasting aan die keiser te betaal of nie? 15  Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie?”+ Hy het hulle huigelary bespeur en vir hulle gesê: “Waarom stel julle my op die proef? Bring vir my ’n denaʹrius om na te kyk.”+ 16  Hulle het een gebring. En hy het vir hulle gesê: “Wie se beeld en opskrif is dit?” Hulle het vir hom gesê: “Die keiser s’n.”+ 17  Jesus het toe gesê: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort,+ maar aan God wat aan God behoort.”+ En hulle het hulle oor hom begin verwonder.+ 18  En daar het Sadduseërs, wat sê dat daar geen opstanding is nie, na hom toe gekom, en hulle het hom gevra:+ 19  “Leermeester, Moses het vir ons geskryf dat as iemand se broer sterf en ’n vrou agterlaat maar nie ’n kind nalaat nie, sy broer+ die vrou moet neem en by haar ’n nageslag vir sy broer moet verwek.+ 20  Daar was sewe broers; en die eerste het ’n vrou geneem, maar toe hy sterf, het hy geen nageslag nagelaat nie.+ 21  En die tweede het haar geneem, maar gesterf sonder om ’n nageslag na te laat; en die derde net so. 22  En die sewe het geen nageslag nagelaat nie. Laaste van almal het die vrou ook gesterf.+ 23  Wie van hulle se vrou sal sy in die opstanding wees?+ Want al sewe het haar as vrou gehad.” 24  Jesus het vir hulle gesê: “Is dit nie waarom julle julle vergis nie, omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie?+ 25  Want wanneer hulle uit die dode opstaan, trou manne nie en word vroue ook nie in die huwelik gegee nie, maar is hulle soos engele in die hemele.+ 26  Maar wat die dooies betref, dat hulle opgewek word, het julle nie in die boek van Moses, in die verslag oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ nie?+ 27  Hy is ’n God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes. Julle vergis julle grootliks.”+ 28  En een van die skrifgeleerdes wat nader gekom en hulle hoor redeneer het, en wat geweet het dat hy hulle goed geantwoord het, het hom gevra: “Wat is die heel eerste gebod?”+ 29  Jesus het geantwoord: “Die eerste is: ‘Hoor, o Israel, Jehovah ons God is een Jehovah,+ 30  en jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’+ 31  Die tweede is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’+ Daar is geen ander gebod groter as dié nie.” 32  Die skrifgeleerde het vir hom gesê: “Leermeester, u het tereg in ooreenstemming met die waarheid gesê: ‘Hy is Een, en daar is geen ander as Hy nie’;+ 33  en om hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele begrip en met jou hele krag en om jou naaste lief te hê soos jouself, is baie meer werd as al die heelbrandoffers en offerandes.”+ 34  Hierop het Jesus, wat onderskei het dat hy intelligent geantwoord het, vir hom gesê: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.” Maar niemand het meer die moed gehad om hom iets te vra nie.+ 35  Maar terwyl Jesus in die tempel geleer het, het hy geantwoord en begin sê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus Dawid se seun is?+ 36  Deur die heilige gees+ het Dawid self gesê: ‘Jehovah het vir my Here gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande onder jou voete stel.”’+ 37  Dawid self noem hom ‘Here’, maar hoe kom dit dat hy sy seun is?”+ En die groot skare het met genoeë na hom geluister.+ 38  En in sy lering het hy verder gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes+ wat in lang klere wil rondloop en begroetinge op die markpleine wil hê, 39  asook die voorste sitplekke in die sinagoges en die vernaamste plekke by aandmaaltye.+ 40  Dit is hulle wat die huise van die weduwees verslind+ en vir die skyn lang gebede doen; hulle sal ’n swaarder oordeel ontvang.”+ 41  En hy het gaan sit waar hy die skatkiste+ kon sien en begin toekyk hoe die skare geld in die skatkiste gooi; en talle ryk mense het baie muntstukke ingegooi.+ 42  En ’n arm weduwee het gekom en twee muntstukkies ingegooi wat baie min waarde het.+ 43  Toe het hy sy dissipels na hom toe geroep en vir hulle gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer ingegooi het as almal wat geld in die skatkiste gegooi het;+ 44  want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”+

Voetnote