Markus 3:1-35

3  Hy het weer eens in ’n sinagoge ingegaan, en dáár was ’n man met ’n verdorde hand.+  En hulle het hom fyn dopgehou om te sien of hy die man op die sabbat sou genees, sodat hulle hom kon beskuldig.+  En hy het vir die man met die verdorde hand gesê: “Staan op en kom na die middel toe.”  Daarna het hy vir hulle gesê: “Is dit op die sabbat geoorloof om ’n goeie daad te doen of om ’n slegte daad te doen, om ’n siel te red of dood te maak?”+ Maar hulle het stilgebly.  En nadat hy hulle rondom hom met verontwaardiging aangekyk het, diep bedroef oor die ongevoeligheid van hulle hart,+ het hy vir die man gesê: “Steek jou hand uit.” En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel.+  Daarop het die Fariseërs uitgegaan en onmiddellik met die partyaanhangers van Herodes+ teen hom begin raad hou om hom dood te maak.+  Maar Jesus het met sy dissipels daarvandaan weggegaan na die see; en ’n groot menigte uit Galileʹa en uit Judeʹa het hom gevolg.+  Selfs uit Jerusalem en uit Idumeʹa en van oorkant die Jordaan en rondom Tirus+ en Sidon het ’n groot menigte na hom toe gekom toe hulle hoor wat hy alles doen.  En hy het vir sy dissipels gesê dat ’n bootjie voortdurend tot sy beskikking moet wees sodat die skare nie teen hom sou aandring nie. 10  Want hy het talle genees, met die gevolg dat almal wat ernstige kwale gehad het, op hom toegesak het om aan hom te raak.+ 11  Selfs die onrein geeste+ het hulle, elke keer as hulle hom gesien het, voor hom neergewerp en uitgeroep en gesê: “U is die Seun van God.”+ 12  Maar hy het hulle herhaaldelik streng gelas om hom nie bekend te maak nie.+ 13  En hy het ’n berg bestyg en dié wat hy wou hê, na hom toe geroep,+ en hulle het na hom toe gegaan.+ 14  En hy het ’n groep van twaalf gevorm, wat hy ook “apostels” genoem het, sodat hulle by hom kon bly en sodat hy hulle kon uitstuur om te preek+ 15  en om gesag te hê om die demone uit te dryf.+ 16  En die groep van twaalf wat hy gevorm het, het bestaan uit Simon, aan wie hy ook die bynaam Petrus+ gegee het, 17  en Jakobus, die seun van Sebedeʹus, en Johannes, die broer van Jakobus+ (hy het hulle ook die bynaam Boanerʹges gegee, wat Seuns van die Donder beteken), 18  en Andreʹas en Filippus en Bartolomeʹus en Matteʹus en Tomas en Jakobus, die seun van Alfeʹus, en Taddeʹus en Simon die Kananeʹër 19  en Judas Iskaʹriot, wat hom later verraai het.+ En hy het in ’n huis ingegaan. 20  Weer eens het die skare byeengekom, sodat hulle nie eens iets kon eet nie.+ 21  Maar toe sy familielede+ hiervan hoor, het hulle uitgegaan om hom in die hande te kry, want hulle het gesê: “Hy het van sy verstand af geraak.”+ 22  En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy het Beëlʹsebub, en deur middel van die heerser van die demone dryf hy die demone uit.”+ 23  Nadat hy hulle na hom toe geroep het, het hy dus deur illustrasies vir hulle begin sê: “Hoe kan Satan Satan uitdryf? 24  As ’n koninkryk teen homself verdeeld raak, kan daardie koninkryk immers nie bly staan nie;+ 25  en as ’n huis teen homself verdeeld raak, sal daardie huis immers nie kan bly staan nie.+ 26  En as Satan teen homself opgestaan en verdeeld geraak het, kan hy nie bly staan nie, maar kom hy tot ’n einde.+ 27  Trouens, niemand wat in die huis van ’n sterk man ingekom het, kan sy losgoed plunder+ tensy hy die sterk man eers vasbind nie, en dan sal hy sy huis plunder.+ 28  Voorwaar, ek sê vir julle dat alles die mensekinders vergewe sal word, ongeag watter sondes en lasteringe hulle op lasterlike wyse begaan.+ 29  Maar wie teen die heilige gees laster, het tot in ewigheid geen vergifnis nie, maar is skuldig aan ewige sonde.”+ 30  Dít omdat hulle gesê het: “Hy het ’n onrein gees.”+ 31  En sy moeder en sy broers+ het gekom, en terwyl hulle buite gestaan het, het hulle na hom toe gestuur om hom te roep.+ 32  En ’n skare het rondom hom gesit; toe het hulle vir hom gesê: “Kyk! U moeder en u broers daar buite soek u.”+ 33  Maar hy het geantwoord en vir hulle gesê: “Wie is my moeder en my broers?”+ 34  En nadat hy sy blik laat rondgaan het oor dié wat in ’n kring om hom sit, het hy gesê: “Kyk, my moeder en my broers!+ 35  Elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en suster en moeder.”+

Voetnote