Markus 6:1-56
6 En hy het daarvandaan vertrek en in sy tuisgebied gekom, en sy dissipels het hom gevolg.+
2 Toe dit sabbat word, het hy in die sinagoge begin leer; en die meeste van dié wat geluister het, was verstom en het gesê: “Waar het hierdie man dié dinge gekry?+ En waarom is hierdie wysheid aan hierdie man gegee en word sulke kragtige werke deur sy hande verrig?
3 Is hy dan nie die timmerman,+ die seun van Maria+ en die broer van Jakobus+ en Josef en Judas en Simon+ nie? En is sy susters dan nie hier by ons nie?” Toe het hulle aanstoot aan hom begin neem.+
4 Maar Jesus het vir hulle gesê: “’n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy tuisgebied+ en onder sy familielede en in sy eie huis.”+
5 Hy kon dus geen kragtige werk daar doen nie, behalwe om ’n paar sieklikes die hande op te lê en hulle te genees.
6 Ja, hy was verwonderd oor hulle gebrek aan geloof. En hy het die dorpies daaromheen in ’n kring deurgegaan en geleer.+
7 En hy het die twaalf na hom toe geroep, en hy het hulle twee-twee begin uitstuur,+ en hy het hulle gesag oor die onrein geeste begin gee.+
8 Ook het hy hulle beveel om niks behalwe net ’n staf vir die reis saam te dra nie, geen brood, geen voedselsak,+ geen kopergeld in hulle gordelbeurse nie,+
9 maar om sandale aan te bind, en om nie twee onderkledingstukke te dra nie.+
10 Verder het hy vir hulle gesê: “Oral waar julle in ’n huis ingaan,+ bly daar totdat julle daarvandaan weggaan.+
11 En oral waar ’n plek julle nie ontvang nie of na julle nie luister nie, skud die stof wat onder julle voete is af wanneer julle daarvandaan uitgaan, as ’n getuienis vir hulle.”+
12 Toe het hulle vertrek en gepreek sodat mense berou kon hê;+
13 en hulle het baie demone uitgedryf+ en baie sieklike mense met olie gesalf+ en hulle genees.+
14 En koning Herodes het dit te hore gekom, want die naam van Jesus het algemeen bekend geword, en mense het gesê: “Johannes, die doper, is uit die dode opgewek, en daarom werk die kragtige werke in hom.”+
15 Maar ander het gesê: “Dit is Eliʹa.”+ Nog ander het gesê: “Dit is ’n profeet soos een van die profete.”+
16 Maar toe Herodes dit hoor, het hy begin sê: “Die Johannes wat ek onthoof het, dié is opgewek.”+
17 Want Herodes self het gestuur en Johannes gearresteer en hom in die gevangenis geboei weens Heroʹdias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het.+
18 Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie.”+
19 Maar Heroʹdias het ’n wrok teen hom gekoester+ en wou hom doodmaak, maar kon nie.+
20 Want Herodes het Johannes gevrees,+ omdat hy geweet het dat hy ’n regverdige en heilige man is;+ en hy het hom beskerm. En nadat hy hom aangehoor het,+ het hy glad nie geweet wat om te doen nie; tog het hy hom steeds met genoeë aangehoor.
21 Maar ’n geskikte dag+ het gekom toe Herodes op sy verjaarsdag+ vir sy hooggeplaaste manne en die militêre bevelvoerders en die hoëlui van Galileʹa ’n aandmaal gegee het.
22 En die dogter van dieselfde Heroʹdias het ingekom en gedans en Herodes en dié wat saam met hom aan tafel was,+ behaag. Die koning het vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”
23 Ja, hy het vir haar gesweer: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee,+ tot die helfte van my koninkryk.”+
24 En sy het uitgegaan en vir haar moeder gesê: “Wat moet ek vra?” Sy het gesê: “Die kop van Johannes, die doper.”+
25 Onmiddellik het sy haastig na die koning toe ingegaan en haar versoek gedoen en gesê: “Ek wil hê u moet dadelik vir my die kop van Johannes die Doper op ’n skottel gee.”
26 Hoewel die koning diep bedroef geword het, wou hy haar, weens die ede en dié wat aan tafel was, dit nogtans nie weier nie.+
27 Toe het die koning onmiddellik ’n lyfwag gestuur en hom beveel om sy kop te bring. En hy het weggegaan en hom in die gevangenis onthoof+
28 en sy kop op ’n skottel gebring, en hy het dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar moeder gegee.+
29 Toe sy dissipels daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in ’n gedenkgraf neergelê.+
30 En die apostels het voor Jesus bymekaargekom en vir hom alles vertel wat hulle gedoen en die mense geleer het.+
31 En hy het vir hulle gesê: “Kom julle alleen na ’n eensame plek+ en rus ’n bietjie.”+ Want daar was baie wat gekom en gegaan het, en hulle het nie eens vrye tyd gehad om te eet nie.+
32 Toe het hulle in die boot na ’n eensame plek vertrek om alleen te wees.+
33 Maar mense het hulle sien gaan en baie het dit te wete gekom, en hulle het uit al die stede te voet daarheen saamgestroom en voor hulle daar gekom.+
34 Wel, toe hy uitklim, het hy ’n groot skare gesien, maar hy is ontroer deur innige jammerte+ vir hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder.+ En hy het hulle baie dinge begin leer.+
35 Dit het toe al laat geword, en sy dissipels het na hom toe gekom en begin sê: “Die plek is afgeleë en dit is reeds laat.+
36 Stuur hulle weg, sodat hulle in die buitedistrikte en dorpies in die omtrek kan ingaan en vir hulle iets kan koop om te eet.”+
37 Hy het geantwoord en vir hulle gesê: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hierop het hulle vir hom gesê: “Moet ons brood vir tweehonderd denaʹrii gaan koop en vir die mense gee om te eet?”+
38 Hy het vir hulle gesê: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk!” Nadat hulle dit vasgestel het, het hulle gesê: “Vyf, en ook twee visse.”+
39 En hy het al die mense opdrag gegee om in groepe+ op die groen gras te gaan sit.+
40 En hulle het in groepe van honderd en van vyftig gaan sit.+
41 Toe het hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en ’n seën gevra,+ en hy het die brode gebreek+ en dit vir die dissipels begin gee, sodat hulle dit aan die mense kon voorsit; en hy het die twee visse onder almal verdeel.
42 Toe het hulle almal geëet en versadig geword;+
43 en hulle het die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol, benewens die visse.
44 En dié wat van die brode geëet het, was vyfduisend manne.+
45 En hy het sy dissipels dadelik gedwing om in die boot te klim en vooruit te gaan na die oorkantste oewer, in die rigting van Betsaiʹda, terwyl hy die skare weggestuur het.+
46 Maar nadat hy van hulle afskeid geneem het, het hy weggegaan na ’n berg om te bid.+
47 En toe dit aand geword het, was die boot in die middel van die see, maar hy was alleen op die land.+
48 En toe hy sien dat hulle swaar+ roei, want die wind was teen hulle, het hy omstreeks die vierde nagwaak op die see na hulle toe aangeloop gekom; maar hy wou by hulle verbygaan.
49 Toe hulle hom op die see sien loop, het hulle gedink: “Dit is ’n verskyning!” en hulle het hard uitgeroep.+
50 Want hulle almal het hom gesien en was verontrus. Maar hy het onmiddellik met hulle gepraat, en hy het vir hulle gesê: “Skep moed, dit is ek; moenie vrees nie.”+
51 En hy het by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was hieroor baie verbaas by hulleself,+
52 want hulle het nie die betekenis van die brode begryp nie, maar hulle hart het stomp van begrip gebly.+
53 En toe hulle aan die oorkant land bereik, het hulle in Genneʹsaret gekom en daar naby vasgeanker.+
54 Maar die oomblik toe hulle uit die boot klim, het mense hom herken,
55 en hulle het in daardie hele streek rondgehardloop en die siekes op draagbeddens begin dra na waar hulle gehoor het hy is.
56 En oral waar hy in dorpies of stede of buitedistrikte ingegaan het,+ het hulle die siekes op die markpleine neergesit, en hulle het hom gesmeek dat hulle maar net aan die fraiings+ van sy bokleed mag raak.+ En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.+