Markus 8:1-38

8  Toe daar in dié dae weer ’n groot skare was en hulle niks gehad het om te eet nie, het hy die dissipels na hom toe geroep en vir hulle gesê:+  “Ek voel innig jammer+ vir die skare, want dit is al drie dae dat hulle by my bly, en hulle het niks om te eet nie;  en as ek hulle na hulle huise wegstuur sonder dat hulle geëet het, sal hulle op die pad beswyk. Want party van hulle kom van ver af.”  Maar sy dissipels het hom geantwoord: “Waarvandaan sal iemand hierdie mense hier op ’n afgeleë plek met brode kan versadig?”+  Maar hy het hulle gevra: “Hoeveel brode het julle?” Hulle het gesê: “Sewe.”+  En hy het die skare opdrag gegee om op die grond te gaan sit, en hy het die sewe brode geneem, gedank,+ dit gebreek en dit vir sy dissipels begin gee om uit te deel, en hulle het dit aan die skare uitgedeel.+  Hulle het ook ’n paar vissies gehad; en nadat hy dit geseën het, het hy vir hulle gesê om dit ook uit te deel.+  En hulle het geëet en versadig geword, en hulle het die oorblywende brokstukke opgetel, sewe voorraadmandjies vol.+  Tog was daar omtrent vierduisend manne. Uiteindelik het hy hulle weggestuur.+ 10  En onmiddellik het hy saam met sy dissipels in die boot geklim en in die streke van Dalmanuʹta+ gekom. 11  Hier het die Fariseërs uitgekom en met hom begin redeneer, en hulle wou ’n teken uit die hemel van hom hê om hom op die proef te stel.+ 12  Toe het hy diep in sy gees gesug+ en gesê: “Waarom wil hierdie geslag ’n teken hê? Voorwaar, ek sê: Geen teken sal aan hierdie geslag gegee word nie.”+ 13  Daarop het hy hulle verlaat, weer in die boot geklim en na die oorkantste oewer gegaan. 14  En hulle het vergeet om brode saam te neem, en hulle het niks behalwe een brood by hulle in die boot gehad nie.+ 15  En hy het begin om hulle uitdruklik te beveel en te sê: “Hou julle oë oop, pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.”+ 16  Toe het hulle met mekaar begin argumenteer omdat hulle geen brode het nie.+ 17  Hy het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom argumenteer julle daaroor dat julle geen brode het nie?+ Begryp julle nog nie en verstaan julle nog nie die betekenis nie? Is julle hart stomp van begrip?+ 18  ‘Hoewel julle oë het, sien julle dan nie; en hoewel julle ore het, hoor julle dan nie?’+ En onthou julle nie, 19  toe ek die vyf brode+ vir die vyfduisend manne gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie?” Hulle het vir hom gesê: “Twaalf.”+ 20  “Hoeveel voorraadmandjies vol brokstukke het julle opgetel toe ek die sewe vir die vierduisend manne gebreek het?” En hulle het vir hom gesê: “Sewe.”+ 21  Daarop het hy vir hulle gesê: “Verstaan julle nog nie die betekenis nie?”+ 22  En hulle het by Betsaiʹda aangedoen. Hier het mense ’n blinde man na hom toe gebring, en hulle het hom gesoebat om hom aan te raak.+ 23  En hy het die blinde man by die hand geneem, hom tot buite die dorpie gebring en, nadat hy op sy oë gespoeg het,+ hom die hande opgelê en hom begin vra: “Sien jy iets?” 24  En die man het opgekyk en begin sê: “Ek sien mense, want ek bemerk iets wat soos bome lyk, maar hulle loop rond.” 25  Daarna het hy weer sy hande op die man se oë gelê, en die man het goed gesien, en hy is herstel en het alles helder gesien. 26  Toe het hy hom huis toe gestuur en gesê: “Maar moenie in die dorpie ingaan nie.”+ 27  Jesus en sy dissipels het toe na die dorpies van Sesareʹa-Filipʹpi vertrek, en op pad het hy sy dissipels begin uitvra en vir hulle gesê: “Wie sê die mense is ek?”+ 28  Hulle het vir hom gesê: “Johannes die Doper,+ en ander: Eliʹa,+ nog ander: Een van die profete.”+ 29  En hy het hulle gevra: “Maar julle, wie sê julle is ek?” Petrus het geantwoord en vir hom gesê: “U is die Christus.”+ 30  Daarop het hy hulle streng gelas om vir niemand van hom te vertel nie.+ 31  Ook het hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie lyding moet ondergaan en verwerp moet word deur die ouer manne en die hoofpriesters en die skrifgeleerdes en doodgemaak+ moet word en drie dae later moet opstaan.+ 32  Ja, hy het dié woord ronduit gespreek. Maar Petrus het hom opsy geneem en hom begin bestraf.+ 33  Hy het omgedraai, na sy dissipels gekyk en Petrus bestraf en gesê: “Gaan agter my, Satan, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.”+ 34  En hy het die skare saam met sy dissipels na hom toe geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg.+ 35  Want elkeen wat sy siel wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy siel ter wille van my en die goeie nuus verloor, sal dit red.+ 36  Van watter nut is dit tog vir ’n mens om die hele wêreld te wen en om sy siel in te boet?+ 37  Wat sal ’n mens tog in ruil vir sy siel gee?+ 38  Want elkeen wat hom in hierdie owerspelige en sondige geslag vir my en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens hom ook skaam+ wanneer hy in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele kom.”+

Voetnote