Matteus 14:1-36

14  In dié tyd het Herodes, die distriksheerser, die berig oor Jesus gehoor+  en vir sy knegte gesê: “Dit is Johannes die Doper. Hy is uit die dode opgewek, en daarom werk die kragtige werke in hom.”+  Want Herodes het Johannes gearresteer en hom geboei en hom in die gevangenis gesit weens Heroʹdias, die vrou van sy broer Filippus.+  Want Johannes het vir hom gesê: “Dit is u nie geoorloof om haar te hê nie.”+  Al wou hy hom doodmaak, het hy egter die skare gevrees, omdat hulle hom as ’n profeet beskou het.+  Maar toe Herodes se verjaarsdag+ gevier is, het die dogter van Heroʹdias by die geleentheid gedans en Herodes só behaag  dat hy met ’n eed beloof het om haar te gee net wat sy vra.+  Toe het sy, soos voorgesê deur haar moeder, gesê: “Gee vir my hier die kop van Johannes die Doper op ’n skottel.”+  Al was die koning bedroef, het hy ter wille van sy ede en van dié wat saam met hom aan tafel was, beveel dat dit gegee moet word;+ 10  en hy het gestuur en Johannes in die gevangenis laat onthoof. 11  En sy kop is op ’n skottel gebring en aan die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder gebring.+ 12  Uiteindelik het sy dissipels gekom en die lyk verwyder en hom begrawe+ en vir Jesus kom vertel. 13  Toe Jesus dit hoor, het hy per boot daarvandaan weggegaan na ’n eensame plek om alleen te wees;+ maar die skare het dit te hore gekom en hom van die stede af te voet gevolg. 14  En toe hy te voorskyn kom, het hy ’n groot skare gesien; en hy het vir hulle innig jammer gevoel,+ en hy het hulle siekes genees.+ 15  Maar toe dit aand word, het sy dissipels na hom toe gekom en gesê: “Die plek is eensaam en die uur is reeds ver gevorderd; stuur die skare weg, sodat hulle in die dorpies kan ingaan en vir hulle iets kan koop om te eet.”+ 16  Jesus het egter vir hulle gesê: “Hulle hoef nie weg te gaan nie: gee julle vir hulle iets om te eet.”+ 17  Hulle het vir hom gesê: “Ons het niks hier nie, behalwe vyf brode en twee visse.”+ 18  Hy het gesê: “BRING dit hier na my toe.” 19  Toe het hy die skare beveel om op die gras te gaan sit, en hy het die vyf brode en twee visse geneem, na die hemel opgekyk en ’n seën gevra,+ en nadat hy die brode gebreek het, het hy dit aan die dissipels uitgedeel, en die dissipels weer aan die skare.+ 20  Toe het almal geëet en versadig geword, en hulle het die oorblywende brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol.+ 21  Tog was dié wat geëet het omtrent vyfduisend manne, buiten die vroue en jong kinders.+ 22  Toe het hy sy dissipels dadelik gedwing om in die boot te klim en voor hom uit na die oorkant te gaan, terwyl hy die skare weggestuur het.+ 23  Uiteindelik het hy, nadat hy die skare weggestuur het, alleen teen die berg opgegaan om te bid.+ Hoewel dit laat geword het, was hy alleen daar. 24  Die boot was toe al honderde meters van die land af en het swaar gekry weens die golwe,+ want die wind was teen hulle. 25  Maar in die vierde nagwaak het hy oor die see na hulle toe aangeloop gekom.+ 26  Toe die dissipels hom op die see sien loop, was hulle verontrus en het hulle gesê: “Dit is ’n verskyning!”+ En hulle het uitgeroep in hulle vrees. 27  Maar Jesus het hulle dadelik aangespreek met die woorde: “Skep moed, dit is ek;+ moenie vrees nie.” 28  Petrus het geantwoord en vir hom gesê: “Here, as dit u is, beveel my om oor die waters na u toe te kom.” 29  Hy het gesê: “Kom!” Daarop het Petrus van die boot afgeklim,+ oor die waters geloop en na Jesus toe gegaan. 30  Maar toe hy na die windstorm kyk, het hy bang geword, en toe hy begin sink, het hy uitgeroep: “Here, red my!” 31  Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”+ 32  En nadat hulle in die boot geklim het, het die windstorm gaan lê. 33  Toe het dié in die boot aan hom hulde bewys en gesê: “U is werklik God se Seun.”+ 34  En hulle het die oorkant bereik en in Genneʹsaret aan land gegaan.+ 35  Toe die manne van daardie plek hom herken, het hulle in daardie hele omliggende gebied uitgestuur, en die mense het al die siekes na hom toe gebring.+ 36  En hulle het hom gesoebat dat hulle maar net aan die fraiings van sy bokleed mag raak;+ en almal wat daaraan geraak het, het heeltemal gesond geword.

Voetnote