Matteus 16:1-28

16  Hier het die Fariseërs+ en Sadduseërs na hom toe gekom, en om hom te versoek, het hulle hom gevra om vir hulle ’n teken uit die hemel te toon.+  Hy het geantwoord en vir hulle gesê: “[[Wanneer dit aand word, sê julle gewoonlik: ‘Dit gaan mooi weer wees, want die lug is vuurrooi’;  en in die oggend: ‘Dit gaan vandag winteragtige, reënerige weer wees, want die lug is vuurrooi, maar somber.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te vertolk, maar die tekens van die tye kan julle nie vertolk nie.]]+  ’n Goddelose en owerspelige geslag hou aan om ’n teken te soek, maar dit sal geen teken gegee word nie,+ behalwe die teken van Jona.”+ Daarop het hy weggegaan en hulle agtergelaat.+  En die dissipels het na die oorkant gegaan en het vergeet om brode saam te neem.+  Jesus het vir hulle gesê: “Hou julle oë oop en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.”+  Toe het hulle onder mekaar begin redeneer en gesê: “Ons het geen brode saamgeneem nie.”  Jesus het dit geweet en gesê: “Waarom redeneer julle so onder mekaar omdat julle geen brode het nie, kleingelowiges?+  Verstaan julle nog nie waaroor dit gaan nie, of onthou julle nie die vyf brode in die geval van die vyfduisend en hoeveel mandjies julle opgetel het nie?+ 10  Of die sewe brode in die geval van die vierduisend en hoeveel voorraadmandjies julle opgetel het nie?+ 11  Hoe is dit dat julle nie begryp dat ek nie met julle oor brode gepraat het nie? Maar wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.”+ 12  Toe het hulle begryp dat hy nie gesê het dat hulle op hulle hoede moet wees vir die suurdeeg van die brode nie, maar vir die leer+ van die Fariseërs en Sadduseërs. 13  En toe Jesus in die streke van Sesareʹa-Filipʹpi gekom het, het hy sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die Seun van die mens?”+ 14  Hulle het gesê: “Party sê Johannes die Doper,+ ander Eliʹa,+ nog ander Jeremia of een van die profete.” 15  Hy het vir hulle gesê: “Maar julle, wie sê julle is ek?”+ 16  Simon Petrus het geantwoord en gesê: “U is die Christus,+ die Seun van die lewende God.”+ 17  Jesus het geantwoord en vir hom gesê: “Gelukkig is jy, Simon, seun van Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.+ 18  Ook sê ek vir jou: Jy is Petrus,+ en op hierdie rots+ sal ek my gemeente bou, en die poorte van Haʹdes+ sal dit nie oorweldig nie.+ 19  Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee, en wat jy ook al op die aarde bind, sal wees wat in die hemele gebind is, en wat jy ook al op die aarde ontbind, sal wees wat in die hemele ontbind is.”+ 20  Toe het hy die dissipels streng gelas om vir niemand te sê dat hy die Christus is nie.+ 21  Van daardie tyd af het Jesus Christus vir sy dissipels begin toon dat hy na Jerusalem moet gaan en baie dinge van die ouer manne en hoofpriesters en skrifgeleerdes moet ly en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word.+ 22  Hierop het Petrus hom opsy geneem en hom begin bestraf en gesê: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.”+ 23  Maar hy het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan agter my, Satan!+ Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie,+ maar dié van mense.” 24  Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend+ volg. 25  Want elkeen wat sy siel wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy siel ter wille van my verloor, sal dit vind.+ 26  Want van watter nut sal dit vir ’n mens wees as hy die hele wêreld wen, maar sy siel inboet?+ Of wat sal ’n mens in ruil+ vir sy siel gee? 27  Want die Seun van die mens is bestem om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal hy elkeen volgens sy gedrag vergeld.+ 28  Voorwaar, ek sê vir julle dat party van dié wat hier staan, glad nie die dood sal smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”+

Voetnote