Numeri 22:1-41
22 Toe het die kinders van Israel weggetrek en in die woestynvlaktes van Moab kamp opgeslaan,+ aan die oorkant van die Jordaan van Jeʹrigo.
2 En Balak,+ die seun van Sippor, het alles gesien wat Israel aan die Amoriete gedoen het.
3 En Moab het baie bang geword vir die volk, omdat hulle baie was; en Moab het ’n ontsettende vrees vir die kinders van Israel begin voel.+
4 En Moab het vir die ouer manne van Miʹdian gesê:+ “Nou sal hierdie gemeente ons hele omgewing oplek, soos die bul die groenigheid van die veld oplek.”
En Balak,+ die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab.
5 Hy het toe boodskappers gestuur na Biʹleam,+ die seun van Beor, in Petor,+ wat by die Rivier+ van die land van die kinders van sy volk lê, om hom te roep en te sê: “Kyk! ’n Volk het uit Egipte gekom. Kyk! Hulle het die aarde oordek so ver as wat ’n mens kan sien,+ en hulle woon reg teenoor my.
6 Kom dan nou asseblief tog; vervloek+ tog hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek hulle kan verslaan en hulle uit die land kan verdryf; want ek weet goed dat die een wat jy seën, ’n geseënde is en die een wat jy vervloek, vervloek is.”+
7 Toe het die ouer manne van Moab en die ouer manne van Miʹdian met die waarsêersloon+ in hulle hande gereis en na Biʹleam gegaan+ en Balak se woorde aan hom meegedeel.
8 Daarop het hy vir hulle gesê: “Bly vannag hier oor, en ek sal julle beslis antwoord bring net soos Jehovah vir my sal sê.”+ Gevolglik het die vorste van Moab by Biʹleam gebly.
9 Toe het God na Biʹleam gekom en gesê:+ “Wie is hierdie manne by jou?”
10 En Biʹleam het vir die ware God gesê: “Balak,+ die seun van Sippor, die koning van Moab, het na my gestuur en gesê:
11 ‘Kyk! Die volk wat uit Egipte uittrek, en hulle oordek die aarde so ver as die oog reik.+ Kom tog nou, vervloek hulle tog vir my.+ Miskien sal ek teen hulle kan veg en sal ek hulle verdryf.’”
12 Maar God het vir Biʹleam gesê: “Jy mag nie saam met hulle gaan nie. Jy mag die volk nie vervloek nie,+ want hulle is geseënd.”+
13 Daarna het Biʹleam die oggend opgestaan en vir die vorste van Balak gesê: “Gaan na julle land, want Jehovah het geweier om my saam met julle te laat gaan.”
14 Toe het die vorste van Moab opgestaan en by Balak gekom en gesê: “Biʹleam het geweier om saam met ons te kom.”+
15 Balak het egter weer ander vorste gestuur, groter in getal en meer geëerd as die voriges.
16 En hulle het by Biʹleam gekom en vir hom gesê: “Só het Balak, die seun van Sippor, gesê: ‘Laat jou asseblief nie terughou om na my toe te kom nie.
17 Want ek sal jou vir seker grootliks eer,+ en alles wat jy vir my sê, sal ek doen.+ Kom dus asseblief tog. Vervloek tog hierdie volk vir my.’”
18 Maar Biʹleam het geantwoord en vir die knegte van Balak gesê: “Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek sal die bevel van Jehovah my God nie kan oortree om iets kleins of groots te doen nie.+
19 Bly julle dan nou asseblief ook vannag hier sodat ek kan weet wat Jehovah verder vir my sal sê.”+
20 Toe het God in die nag na Biʹleam gekom en vir hom gesê: “As die manne gekom het om jou te roep, staan op, gaan saam met hulle. Maar net die woord wat ek vir jou sê, dit mag jy sê.”+
21 Daarna het Biʹleam die oggend opgestaan en sy eselin opgesaal en saam met die vorste van Moab gegaan.+
22 En die toorn van God het ontvlam omdat hy gegaan het; en Jehovah se engel het in die pad gaan staan om hom teë te staan.+ En hy het op sy eselin gery, en twee van sy dienaars was by hom.
23 En die eselin het Jehovah se engel in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand;+ en die eselin het uit die pad probeer draai sodat sy die veld kon ingaan, maar Biʹleam het die eselin begin slaan om haar na die pad te laat draai.
24 En Jehovah se engel het in die smal pad tussen die wingerde bly staan, met ’n klipmuur aan hierdie kant en ’n klipmuur aan die ander kant.
25 En die eselin het steeds Jehovah se engel gesien en haarself teen die muur begin druk en so Biʹleam se voet teen die muur gedruk; en hy het haar weer geslaan.
26 Jehovah se engel het toe weer verbygegaan en in ’n nou plek bly staan, waar daar geen pad was om regs of links uit te draai nie.
27 Toe die eselin Jehovah se engel sien, het sy onder Biʹleam gaan lê; sodat Biʹleam se toorn ontvlam het,+ en hy het die eselin met sy staf bly slaan.
28 Uiteindelik het Jehovah die mond van die eselin geopen,+ en sy het vir Biʹleam gesê: “Wat het ek aan jou gedoen, dat jy my nou al drie keer geslaan het?”+
29 Hierop het Biʹleam vir die eselin gesê: “Omdat jy my sleg behandel het. Was daar maar ’n swaard in my hand, dan sou ek jou nou doodgemaak het!”+
30 Toe het die eselin vir Biʹleam gesê: “Is ek nie jou eselin waarop jy jou hele lewe lank tot vandag toe gery het nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te maak?”+ Waarop hy gesê het: “Nee!”
31 En Jehovah het Biʹleam se oë geopen,+ sodat hy Jehovah se engel in die pad sien staan het met sy ontblote swaard in sy hand. Dadelik het hy laag gebuig en hom op sy gesig neergewerp.
32 Toe het Jehovah se engel vir hom gesê: “Waarom het jy jou eselin nou al drie keer geslaan? Kyk! Ek—ek het uitgekom om teenstand te bied, omdat jou weg lynreg in stryd met my wil is.+
33 En die eselin het my gesien en nou al drie keer voor my probeer uitdraai.+ Gestel sy het nie voor my uitgedraai nie! Dan sou ek jou nou reeds doodgemaak het,+ maar haar sou ek laat lewe het.”
34 Hierop het Biʹleam vir Jehovah se engel gesê: “Ek het gesondig,+ want ek het nie geweet dat u in die pad gestaan het om my te ontmoet nie. As dit dan nou sleg is in u oë, laat my teruggaan.”
35 Maar Jehovah se engel het vir Biʹleam gesê: “Gaan saam met die manne;+ en jy mag niks anders sê as die woord wat ek vir jou sê nie.”+ En Biʹleam het saam met die vorste van Balak verder gegaan.
36 Toe Balak hoor dat Biʹleam gekom het, het hy hom dadelik tegemoetgegaan by die stad van Moab, wat aan die oewer van die Arnon lê, wat aan die rand van die gebied is.+
37 Toe het Balak vir Biʹleam gesê: “Het ek nie vir seker na jou gestuur om jou te laat roep nie? Waarom het jy nie na my toe gekom nie? Is ek waarlikwaar nie in staat om jou te eer nie?”+
38 Hierop het Biʹleam vir Balak gesê: “Kyk, ek het nou na u toe gekom. Sal ek hoegenaamd iets kan sê?+ Die woord wat God in my mond lê, dit sal ek spreek.”+
39 Toe het Biʹleam saam met Balak gegaan, en hulle het by Kirjat-Husot gekom.
40 En Balak het beeste en skape geoffer+ en daarvan aan Biʹleam gestuur en aan die vorste wat by hom was.
41 En in die oggend het Balak Biʹleam geneem en hom na Bamot-Baäl+ laat opklim, sodat hy daarvandaan die hele volk kon sien.+