Rigters 15:1-20
15 En na ’n ruk, in die dae van die koringoes, het Simson sy vrou met ’n boklam+ besoek. Toe het hy gesê: “Ek sal na my vrou in die binnekamer ingaan.”+ En haar vader het hom nie toegelaat om in te gaan nie.
2 Maar haar vader het gesê: “Ek het in werklikheid by myself gesê: ‘Jy sal haar ongetwyfeld haat.’+ Ek het haar derhalwe aan jou strooijonker gegee.+ Is haar jonger suster nie beter as sy nie? Laat sy asseblief joune word in die plek van die ander een.”
3 Simson het egter vir hulle gesê: “Hierdie keer sal ek vry van skuld teenoor die Filistyne wees as ek tot hulle nadeel met hulle handel.”+
4 En Simson het weggegaan en driehonderd jakkalse+ gevang en fakkels geneem en stert aan stert gedraai en een fakkel tussen twee sterte gesit, reg in die middel.
5 Daarop het hy die fakkels aan die brand gesteek en hulle in die Filistyne se landerye met ongesnyde graan ingestuur. So het hy alles van gerf tot ongesnyde graan en die wingerde en die olyfboorde aan die brand gesteek.+
6 En die Filistyne het begin sê: “Wie het dit gedoen?” Toe het hulle gesê: “Simson, die skoonseun van die Timniet, omdat hy sy vrou geneem en haar toe aan sy strooijonker gegee het.”+ Daarop het die Filistyne opgetrek en haar en haar vader met vuur verbrand.+
7 Toe het Simson vir hulle gesê: “As julle só maak, is daar vir my geen ander uitweg as om my op julle te wreek nie,+ en daarna sal ek ophou.”
8 En hy het hulle doodgemaak en met ’n groot slagting bene op dye gehoop, waarna hy afgegaan en in ’n kloof van die Etamrots begin woon het.+
9 Later het die Filistyne+ opgetrek en in Juda+ kamp opgeslaan en in Legi+ rondgetrek.
10 Toe het die manne van Juda gesê: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” waarop hulle gesê het: “Ons het opgetrek om Simson vas te bind, om aan hom te doen net soos hy aan ons gedoen het.”
11 Daarom het drieduisend man van Juda na die kloof van die Etamrots afgegaan+ en vir Simson gesê: “Weet jy nie dat die Filistyne oor ons heers nie?+ Wat beteken dít wat jy ons aangedoen het dan?” Toe het hy vir hulle gesê: “Net soos hulle aan my gedoen het, so het ek aan hulle gedoen.”+
12 Maar hulle het vir hom gesê: “Ons het afgekom om jou vas te bind, om jou in die hand van die Filistyne te gee.” Daarop het Simson vir hulle gesê: “Sweer vir my dat julle my nie sal aanval nie.”
13 En hulle het vir hom gesê: “Nee, maar ons sal jou net vasbind, en ons sal jou in hulle hand gee; maar ons sal jou geensins doodmaak nie.”
Daarop het hulle hom met twee nuwe toue gebind+ en hom uit die rots opgebring.
14 Wat hom betref, hy het tot by Legi gekom, en wat die Filistyne betref, hulle het uitgelate geskreeu toe hulle hom tegemoetkom.+ En Jehovah se gees+ het oor hom werksaam geword, en die toue wat aan sy arms was, het soos linnedrade geword wat met vuur verskroei is,+ sodat sy boeie van sy hande afgesmelt het.
15 Hy het toe ’n vogtige eselskakebeen gevind en sy hand uitgesteek en dit geneem en duisend man daarmee doodgeslaan.+
16 Toe het Simson gesê:
“Met ’n eselskakebeen—een hoop, twee hope!
Met ’n eselskakebeen het ek duisend man doodgeslaan.”+
17 En toe hy klaar gepraat het, het hy onmiddellik die kakebeen uit sy hand gegooi en dié plek Ramat-Legi+ genoem.
18 Toe het hy baie dors geword, en hy het Jehovah begin aanroep en gesê: “U het hierdie groot redding in die hand van u kneg gegee,+ en sal ek nou van dors sterf en moet ek in die hand van die onbesnedenes val?”+
19 Daarop het God ’n vyselvormige holte wat in Legi was, oopgekloof, en daar het water+ begin uitkom, en hy het gedrink, waarna sy gees+ teruggekeer en hy herlewe het.+ Daarom het hy dit En-Hakkoʹre genoem, wat tot vandag toe in Legi is.
20 En hy het Israel in die dae van die Filistyne twintig jaar lank gerig.+