Die eerste boek van Konings 12:1-33

  • Rehabeam se harde antwoord (1-15)

  • Tien stamme kom in opstand (16-19)

  • Jerobeam word koning van Israel (20)

  • Rehabeam moenie teen Israel veg nie (21-24)

  • Jerobeam se kalfaanbidding (25-33)

12  Rehaʹbeam het na Sigem gegaan, want die hele Israel het in Sigem bymekaargekom+ om hom koning te maak.+  Jeroʹbeam, die seun van Nebat, het daarvan gehoor (hy was nog in Egipte, want hy het vir koning Salomo gevlug en het in Egipte gewoon).+  Toe het hulle hom laat roep. Daarna het Jeroʹbeam en die hele gemeente van Israel na Rehaʹbeam gegaan en gesê:  “U pa het ons juk swaar gemaak.+ Maar as u die swaar werklas van u pa en die swaar* juk wat hy op ons geplaas het, ligter maak, sal ons u dien.”  Hy het toe vir hulle gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.” Toe het die volk van hom af weggegaan.+  Koning Rehaʹbeam het die ouer mans* wat sy pa, Salomo, gedurende sy leeftyd gedien het, geraadpleeg en vir hulle gevra: “Wat sal julle sê? Hoe moet ek hierdie volk antwoord?”  Hulle het hom geantwoord: “As u vandag ’n kneg van hierdie volk word en doen wat hulle vra en vir hulle die antwoord gee wat hulle wil hê, sal hulle altyd u knegte wees.”  Maar hy het die raad van die ouer mans* verwerp, en hy het die jong mans geraadpleeg wat saam met hom grootgeword het en wat nou sy dienaars was.+  Hy het vir hulle gevra: “Wat sal julle sê? Hoe moet ons hierdie volk antwoord wat vir my gesê het dat ek die juk wat my pa op hulle geplaas het, ligter moet maak?” 10  Die jong mans wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “Vir hierdie volk wat vir u gesê het: ‘U pa het ons juk swaar gemaak, maar u moet dit vir ons ligter maak,’ moet u die volgende sê: ‘My pinkie sal dikker as my pa se heupe wees. 11  My pa het ’n swaar juk op julle geplaas, maar ek sal julle juk nog swaarder maak. My pa het julle met die sweep gestraf, maar ek sal julle met die gésel* straf.’” 12  Jeroʹbeam en die hele volk het op die derde dag na Rehaʹbeam toe gegaan, want die koning het gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.”+ 13  Maar die koning het die volk ’n harde antwoord gegee en het die raad verwerp wat die ouer mans* hom gegee het. 14  Hy het die raad van die jong mans gevolg en vir die volk gesê: “My pa het julle juk swaar gemaak, maar ek sal julle juk nog swaarder maak. My pa het julle met die sweep gestraf, maar ek sal julle met die gésel* straf.” 15  Die koning het nie na die volk geluister nie, want Jehovah het dinge so laat verloop.+ Dit was sodat die woorde vervul kon word wat Jehovah deur middel van Ahiʹa,+ die Siloniet, vir Jeroʹbeam, die seun van Nebat, gesê het. 16  Toe al die Israeliete sien dat die koning nie na hulle geluister het nie, het hulle vir die koning gesê: “Wat het ons met Dawid te doen? Ons het geen erfdeel saam met die seun van Isai nie. Gaan na julle gode toe, o Israel. Sorg nou vir jou eie huis, o Dawid!” Toe het die Israeliete na hulle huise* gegaan.+ 17  Maar Rehaʹbeam het nog steeds oor die Israeliete regeer wat in die stede van Juda gewoon het.+ 18  Koning Rehaʹbeam het Adoʹram,+ wat oor die mense was wat opgeroep is om vir die koning te werk, toe na die Israeliete gestuur, maar hulle het hom met klippe doodgegooi. Koning Rehaʹbeam het net betyds op sy strydwa geklim om na Jerusalem te vlug.+ 19  En die Israeliete het met hulle opstand+ teen die huis van Dawid volgehou tot vandag toe. 20  Toe Israel hoor dat Jeroʹbeam teruggekeer het, het hulle bymekaargekom en hom laat roep en hom koning oor Israel gemaak.+ Net die stam van Juda het die huis van Dawid gevolg.+ 21  Toe Rehaʹbeam in Jerusalem aankom, het hy onmiddellik die hele huis van Juda en die stam van Benjamin bymekaargeroep – 180 000 opgeleide* soldate – om teen die huis van Israel te veg, sodat Rehaʹbeam, die seun van Salomo, die koningskap kon terugkry.+ 22  Toe het die ware God vir Semaʹja,+ die man van die ware God, gesê: 23  “Sê vir Rehaʹbeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en vir die hele huis van Juda en Benjamin en die res van die volk: 24  ‘Dít is wat Jehovah sê: “Julle moenie teen julle Israelitiese broers gaan veg nie. Julle moet almal teruggaan huis toe, want ek het dit laat gebeur.”’”+ Toe het hulle die woord van Jehovah gehoorsaam en huis toe gegaan, soos Jehovah vir hulle gesê het. 25  Daarna het Jeroʹbeam in Sigem+ in die bergstreek van Eʹfraim gaan woon en dit opgebou.* Hy het daarvandaan weggetrek en Pnuel+ opgebou.* 26  Jeroʹbeam het in sy hart gesê: “Nou sal die koninkryk na die huis van Dawid terugkeer.+ 27  As hierdie volk aanhou om op te gaan om by die huis van Jehovah in Jerusalem offerandes te offer,+ sal die hart van hierdie volk terugkeer na hulle heer, koning Rehaʹbeam van Juda. Ja, hulle sal my doodmaak en terugkeer na koning Rehaʹbeam van Juda.” 28  Nadat die koning by sy raadgewers raad gevra het, het hy twee goue kalwers+ gemaak en vir die volk gesê: “Dit is vir julle te veel om na Jerusalem op te gaan. Hier is julle God, wat julle uit Egipte uitgelei het,+ o Israel.” 29  Toe het hy die een in Bet-El+ gesit, en die ander een in Dan.+ 30  En dit het die volk laat sondig.+ Hulle het selfs tot by Dan gegaan om die een wat daar was, te aanbid. 31  En hy het huise van aanbidding op die offerhoogtes gemaak en mense van die volk, wat nie Leviete was nie, as priesters aangestel.+ 32  Jeroʹbeam het ’n fees ingestel wat op die 15de dag van die agtste maand gehou is, en wat soortgelyk was aan die fees in Juda.+ Op die altaar wat hy in Bet-El+ gemaak het, het hy offers geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het. En hy het priesters in Bet-El aangestel vir die offerhoogtes wat hy gemaak het. 33  En op die 15de dag van die agtste maand, in die maand wat hy self gekies het, het hy offers begin bring op die altaar wat hy in Bet-El gemaak het. En hy het ’n fees vir die Israeliete ingestel en na die altaar opgegaan om offerandes te offer en offerrook te laat opgaan.

Voetnote

Of “onderdrukkende”.
Of “die ouermanne”.
Of “die ouermanne”.
Of “die ouermanne”.
Lett. “tente”.
Lett. “uitgesoekte”.
Of “versterk”.
Of “versterk”.