Die eerste boek van Kronieke 12:1-40

  • Ondersteuners van Dawid se koningskap (1-40)

12  Die volgende manne het na Dawid toe gekom in Siklag+ toe hy vir Saul, die seun van Kis, weggekruip het,+ en hulle was deel van die groep magtige vegters wat hom in die oorlog gehelp het.+  Hulle was gewapen met die boog, en hulle kon met die regterhand en die linkerhand+ klippe met ’n slingervel gooi+ en pyle met ’n boog skiet. Hulle was van die broers van Saul uit Benjamin.+  Ahiëser, die hoof, en sy broer Joas, die seuns van Semaʹä, die Gibeatiet,+ Jeʹsiël en Pelet, die seuns van Asmaʹwet,+ Beʹraga, Jehu, die Anatotiet,  Jismaʹja, die Gibeoniet,+ ’n magtige vegter onder die dertig+ en leier van die dertig, asook Jeremia, Jahaʹsiël, Johaʹnan, Joʹsabad, die Gederatiet,  Eluʹsai, Jeʹrimot, Bealʹja, Semarʹja, Sefatʹja, die Harifiet,  Elkaʹna, Jissiʹa, Asaʹreël, Joëser en Jasoʹbeam, die Koragiete,+  en Joëla en Sebadʹja, die seuns van Jeroʹham, uit Gedor.  Party van die Gadiete het by Dawid aangesluit. Hulle het na hom toe gegaan by sy skuilplek in die wildernis.+ Hulle was magtige vegters, soldate wat opgelei is om oorlog te voer, en elkeen het ’n groot skild en spies gehad. Hulle gesigte was soos die gesigte van leeus en hulle was so vinnig soos die wildsbokke op die berge.  Eser was die hoof, Obadʹja die tweede, Eliʹab die derde, 10  Mismanʹna die vierde, Jeremia die vyfde, 11  Attai die sesde, Eʹliël die sewende, 12  Johaʹnan die agtste, Elsaʹbad die negende, 13  Jeremia die tiende en Magbanʹnai die elfde. 14  Hulle was Gadiete,+ hoofde van die leërmag. Die swakste was gelyk aan 100 soldate, en die sterkste was gelyk aan 1 000 soldate.+ 15  Hulle het deur die Jordaanrivier getrek in die eerste maand toe die rivier oorstroom het, en hulle het al die inwoners van die valleie na die ooste en na die weste uitgedryf. 16  Sommige van die manne van Benjamin en Juda het ook na Dawid toe gekom by sy skuilplek.+ 17  Toe het Dawid na hulle toe uitgegaan en vir hulle gesê: “As julle in vrede na my toe gekom het om my te help, sal ek lojaal aan julle wees. Maar as julle gekom het om my aan my vyande te verraai, terwyl ek niks verkeerds gedoen het nie, dan sal die God van ons voorvaders dit sien en julle straf.”+ 18  Toe het die gees oor Amaʹsai gekom,+ die hoof van die dertig, en hy het gesê: “Ons behoort aan u, o Dawid, en ons is aan u kant, o seun van Isai.+Vrede, vrede vir u, en vrede vir elkeen wat u help,want u God help u.”+ Toe het Dawid hulle by hom laat aansluit en hulle as hoofde oor die soldate aangestel. 19  Party uit die stam van Manasʹse het ook na Dawid toe oorgeloop toe hy saam met die Filistyne gegaan het om teen Saul oorlog te voer. Maar hy het die Filistyne nie gehelp nie, want die leiers van die Filistyne+ het die saak bespreek en besluit om hom weg te stuur. Hulle het gesê: “Hy sal oorloop na sy heer Saul, en dit sal ons ons lewens kos.”+ 20  Toe hy na Siklag gegaan het,+ het Adnag, Joʹsabad, Jediʹael, Miʹgael, Joʹsabad, Eliʹhu en Silʹletai na Dawid oorgeloop. Hulle was hoofde van die duisende van Manasʹse.+ 21  Hulle het Dawid gehelp om teen die rowerbende te veg, want hulle was almal sterk, dapper manne,+ en hulle het hoofde in die leërmag geword. 22  Elke dag het mense na Dawid toe gekom+ om hom te help, en sy kamp het so groot geword soos die kamp van God.+ 23  Dít was die getalle van die hoofde van die gewapende soldate wat na Dawid in Heʹbron gekom het+ om die koningskap van Saul aan hom te gee, net soos Jehovah beveel het.+ 24  Daar was 6 800 gewapende soldate van Juda wat groot skilde en spiese gehad het. 25  Daar was 7 100 sterk, dapper Simeoniete in die leërmag. 26  Van die Leviete: 4 600. 27  Jojaʹda+ was die leier van die seuns van Aäron,+ en daar was 3 700 by hom, 28  sowel as Sadok,+ ’n sterk en dapper jong man en 22 hoofde van Sadok se vaderhuis. 29  Van die Benjaminiete, die broers van Saul,+ was daar 3 000. Die meeste van hulle het voorheen die huis van Saul ondersteun. 30  Van die vaderhuise van die Efraimiete was daar 20 800 sterk, dapper, beroemde manne. 31  Van die halwe stam van Manasʹse was daar 18 000 wat by naam aangewys is om Dawid koning te gaan maak. 32  Van die stam van Isʹsaskar was daar 200 hoofmanne wat verstaan het in watter tye hulle lewe en wat geweet het wat Israel moet doen, en al hulle broers was onder hulle bevel. 33  Van Seʹbulon was daar 50 000 wat in die leërmag kon dien. Hulle was gewapen en gereed om in gevegsformasie oorlog te voer, en hulle het Dawid heelhartig ondersteun.* 34  Van Nafʹtali was daar 1 000 hoofde, en daar was 37 000 met groot skilde en spiese saam met hulle. 35  Van die Daniete was daar 28 600 wat gereed was om in gevegsformasie oorlog te voer. 36  En van Aser was daar 40 000 wat in die leërmag kon dien en wat gereed was om in gevegsformasie oorlog te voer. 37  Van die ander kant van die Jordaanrivier,+ van die Rubeniete, die Gadiete en die halwe stam van Manasʹse, was daar 120 000 soldate met allerhande wapens. 38  Hulle was almal vegters wat in gevegsformasie oorlog kon voer. Hulle het na Heʹbron gekom en was vasbeslote om Dawid koning oor die hele Israel te maak. Die res van Israel was ook vasbeslote* om Dawid koning te maak.+ 39  En hulle het drie dae lank daar by Dawid gebly en geëet en gedrink, want hulle broers het voorbereidings vir hulle getref. 40  En dié wat naby hulle gewoon het en selfs dié van Isʹsaskar, Seʹbulon en Nafʹtali het baie kos gebring op donkies, kamele, muile en beeste – meel, koeke van saamgeperste vye, rosynekoeke, wyn, olie, beeste en skape – want daar was groot vreugde in Israel.

Voetnote

Of “niemand wat by Dawid aangesluit het, was dubbelhartig nie”.
Lett. “een van hart”.