Die eerste boek van Kronieke 13:1-14

  • Ark uit Kirjat-Jearim gebring (1-14)

    • Ussa doodgemaak (9, 10)

13  Dawid het met die hoofde oor 1 000, die hoofde oor 100 en met al die leiers vergader.+  Toe het Dawid vir die hele gemeente van Israel gesê: “As julle saamstem en as Jehovah ons God dit goedvind, laat ons ’n boodskap stuur aan die res van ons broers in al die streke van Israel en aan die priesters en aan die Leviete in hulle stede+ met weivelde om te vra dat hulle na ons toe moet kom.  En laat ons die Ark+ van ons God terugbring.” Want in Saul se tyd het hulle dit verwaarloos.+  Die hele gemeente het ingestem, want hulle het gedink dat dit ’n goeie voorstel is.  Daarom het Dawid die hele Israel van die rivier* van Egipte af tot by Lebo-Hamat*+ bymekaar laat kom om die Ark van die ware God uit Kirʹjat-Jeaʹrim te bring.+  Dawid en die hele Israel het gegaan na Baʹäla,+ dit wil sê Kirʹjat-Jeaʹrim, wat aan Juda behoort, om die Ark van die ware God, Jehovah, wat op sy troon bo* die gerubs sit, te gaan haal.+ Dit is voor hierdie Ark dat God se naam aangeroep word.  Maar hulle het die Ark van die ware God op ’n nuwe wa gesit+ en dit van Abinaʹdab se huis af gebring. Ussa en Agjo het die wa gelei.+  Dawid en die hele Israel het die geleentheid met al hulle mag voor God gevier met liedere, harpe, ander snaarinstrumente, tamboeryne,+ simbale+ en trompette.+  Maar toe hulle by die dorsvloer van Kidon kom, het Ussa sy hand uitgesteek en die Ark gegryp, want die beeste het dit amper laat afval. 10  Toe het Jehovah woedend geword vir Ussa, en Hy het hom doodgemaak omdat hy sy hand na die Ark uitgesteek het,+ en hy het daar voor God gesterf.+ 11  En Dawid het kwaad* geword omdat Jehovah dadelik teen Ussa opgetree het, en daardie plek word tot vandag toe Peres-Ussa* genoem. 12  Op daardie dag het Dawid vir die ware God bang geword en gesê: “Hoe sal ek die Ark van die ware God nou na my toe bring?”+ 13  Dawid het nie die Ark na hom toe gebring in die Stad van Dawid nie, maar hy het dit na die huis van Obed-Edom, die Gittiet, laat neem. 14  Die Ark van die ware God het drie maande lank in die huis van Obed-Edom gebly, en Jehovah het die huisgesin van Obed-Edom en alles wat hy gehad het, bly seën.+

Voetnote

Of “van Sihor”.
Of “die ingang van Hamat”.
Of moontlik “tussen”.
Of “ontsteld”.
Beteken “deurbraak teen Ussa”.