Die eerste boek van Kronieke 21:1-30

  • Dawid tel volk (1-6)

  • Straf van Jehovah (7-17)

  • Dawid bou ’n altaar (18-30)

21  Toe het Satan* teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.+  Dawid het toe vir Joab+ en die hoofde van die volk gesê: “Gaan tel Israel, van Berseʹba tot Dan,+ en kom sê vir my hoeveel mense daar is.”  Maar Joab het gesê: “Mag Jehovah sy volk 100 keer groter maak! Is hulle nie almal u knegte nie, my heer die koning? Hoekom wil my heer dit doen? Hoekom wil u skuld oor Israel bring?”  Maar die koning het geweier om na Joab te luister, en daarom het Joab gegaan en deur die hele Israel gereis. Daarna het hy na Jerusalem teruggegaan.+  Joab het toe vir Dawid die getal gegee van almal wat geregistreer is. In Israel was daar 1 100 000 manne met swaarde, en in Juda was daar 470 000 manne met swaarde.+  Maar Levi en Benjamin is nie geregistreer nie,+ want die koning se opdrag was vir Joab afskuwelik.+  En hierdie saak was sleg in die oë van die ware God, en daarom het hy Israel gestraf.  Toe het Dawid vir die ware God gesê: “Ek het ’n baie groot sonde gepleeg.+ Vergewe nou asseblief u kneg se oortreding,+ want ek het baie onverstandig opgetree.”+  Jehovah het toe vir Gad,+ Dawid se siener, gesê: 10  “Gaan sê vir Dawid: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Ek gee jou drie opsies. Kies die een wat ek oor jou moet bring.”’” 11  Toe het Gad na Dawid gegaan en vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Ek gee jou ’n keuse: 12  Moet daar drie jaar lank hongersnood+ wees of moet jy drie maande lank deur jou vyande verslaan word terwyl die swaard van jou vyande jou inhaal+ of moet die swaard van Jehovah – ’n vreeslike siekte+ – drie dae lank oor die land kom, waartydens Jehovah se engel vernietiging+ in die hele gebied van Israel bring?’ Dink nou mooi na oor watter antwoord ek vir die Een moet gee wat my gestuur het.” 13  Toe het Dawid vir Gad gesê: “Ek weet nie watter kant toe nie. Laat my asseblief in Jehovah se hande val, want hy is baie genadig,+ maar moenie dat ek in mense se hande val nie.”+ 14  Toe het Jehovah Israel met ’n vreeslike siekte+ getref, en 70 000 mense van Israel het gesterf.+ 15  Die ware God het ook ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes, maar toe Jehovah sien dat die engel dit begin doen, het hy jammer gevoel vir sy volk,*+ en hy het vir die engel wat verwoesting gebring het, gesê: “Dit is genoeg!+ Laat jou hand sak.” Jehovah se engel was naby die dorsvloer van Ornan,+ die Jebusiet.+ 16  Toe Dawid opkyk, het hy Jehovah se engel tussen die aarde en die hemel sien staan met ’n swaard+ in sy hand wat na Jerusalem uitgestrek was. Dawid en die ouermanne, wat saklinne+ aangehad het, het dadelik neergeval met hulle gesigte na die grond toe.+ 17  Dawid het vir die ware God gevra: “Was dit nie ek wat gesê het dat die volk getel moet word nie? Ek is die een wat gesondig het, en ek is die een wat verkeerd opgetree het.+ Maar wat het hierdie skape gedoen? O Jehovah my God, laat u hand asseblief teen my en die huis van my vader kom, maar moenie hierdie plaag oor u volk bring nie.”+ 18  Jehovah se engel het toe vir Gad+ gesê om vir Dawid te sê dat hy na die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, moet gaan en daar vir Jehovah ’n altaar moet oprig.+ 19  Dawid het soontoe gegaan, net soos Jehovah vir hom deur middel van Gad gesê het. 20  Intussen het Ornan omgedraai en die engel gesien. En sy vier seuns wat by hom was, het weggekruip. Ornan was besig om koring te dors. 21  Toe Ornan Dawid sien aankom, het hy dadelik van die dorsvloer af uitgegaan en voor Dawid neergebuig met sy gesig na die grond toe. 22  Dawid het vir Ornan gesê: “Verkoop* die stuk grond aan my waarop die dorsvloer is, sodat ek vir Jehovah ’n altaar daarop kan bou. Verkoop dit aan my vir die volle waarde daarvan, sodat die plaag onder die mense kan ophou.”+ 23  Maar Ornan het vir Dawid gesê: “Neem dit vir u, en doen wat u goeddink, my heer die koning. Hier is die beeste vir brandoffers, die dorsslee+ wat as hout gebruik kan word en koring vir ’n graanoffer. Ek gee dit alles.” 24  Maar koning Dawid het vir Ornan gesê: “Nee, ek moet dit vir die volle bedrag koop, want ek sal nie jou goed neem en dit vir Jehovah gee of brandoffers offer wat my niks kos nie.”+ 25  Dawid het toe vir Ornan 600 sikkels* goud vir die stuk grond gegee. 26  En Dawid het daar vir Jehovah ’n altaar gebou+ en brandoffers en vrede-offers* geoffer. Hy het Jehovah aangeroep, wat hom toe geantwoord het met vuur+ uit die hemel, wat die offers op die altaar verbrand het. 27  Toe het Jehovah die engel+ beveel om sy swaard in sy skede terug te sit. 28  Toe Dawid sien dat Jehovah hom op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, geantwoord het, het hy aangehou om offerandes daar te offer. 29  Op daardie tyd was die tabernakel van Jehovah wat Moses in die wildernis gemaak het en die brandofferaltaar op die offerhoogte in Giʹbeon.+ 30  Maar Dawid kon nie daarheen gaan om God vir leiding te vra nie, want hy was baie bang vir die swaard van Jehovah se engel.

Voetnote

Of moontlik “’n teenstander”.
Of “het hy spyt gevoel oor die rampspoed”.
Lett. “Gee”.
’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.
Of “gemeenskapsoffers”.