Die eerste boek van Samuel 25:1-44
25 Ná verloop van tyd het Samuel+ gesterf. Die hele Israel het bymekaargekom om oor hom te treur en hom by sy huis in Rama+ te begrawe. Toe het Dawid na die wildernis Paran gegaan.
2 In Maon+ was daar ’n baie ryk man wat vee in Karmel*+ gehad het. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad, en hy was besig om sy skape in Karmel te skeer.
3 Die man se naam was Nabal,+ en sy vrou se naam was Abiʹgail.+ Die vrou was verstandig en pragtig, maar haar man, ’n Kalebiet,+ was wreed en onbeskof.+
4 Dawid het in die wildernis gehoor dat Nabal sy skape skeer.
5 Toe het Dawid tien jong manne na hom toe gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na Nabal toe in Karmel, en vra hom namens my hoe dit met hom gaan.
6 Dan moet julle sê: ‘Mag u lank lewe en mag dit met u goed gaan,* en mag dit goed gaan met u huisgesin en met alles wat u het.
7 Ek het gehoor dat u die skape skeer. Toe u herders saam met ons was, het ons niks slegs aan hulle gedoen nie,+ en die hele tyd dat hulle in Karmel was, was daar niks van hulle gesteel nie.
8 Vra u jong manne, en hulle sal vir u sê. Wees asseblief goed vir my jong manne, want ons het op ’n vreugdevolle tyd* gekom. Gee asseblief vir u knegte en vir u seun Dawid wat u ook al kan.’”+
9 Toe het Dawid se jong manne na Nabal gegaan en Dawid se boodskap aan hom oorgedra. Daarna
10 het Nabal vir Dawid se knegte gesê: “Wie is Dawid, en wie is die seun van Isai? Deesdae hardloop baie knegte van hulle meesters af weg.+
11 Moet ek my brood en my water en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, sommer net weggee aan manne wat van wie weet waar kom?”
12 Daarna het Dawid se jong manne na hom toe teruggegaan en vir hom alles vertel.
13 Dawid het onmiddellik vir sy manne gesê: “Maak vas julle swaarde!”+ Toe het hulle almal hulle swaarde vasgebind, en Dawid het ook sy swaard vasgebind. Ongeveer 400 manne het saam met Dawid gegaan, terwyl 200 by die bagasie gebly het.
14 Intussen het een van die knegte vir Abiʹgail, Nabal se vrou, gesê: “Dawid het boodskappers uit die wildernis gestuur om ons meester die beste toe te wens, maar hy het hulle uitgeskel.+
15 Daardie manne was baie goed vir ons. Hulle het niks slegs aan ons gedoen nie, en toe ons saam met hulle in die veld was, was niks gesteel nie.+
16 Die hele tyd dat ons by hulle was en die kleinvee opgepas het, was hulle dag en nag soos ’n beskermende muur om ons.
17 U moet iets doen, anders sal dit die ondergang van ons meester en sy hele huis beteken,+ en hy is so ’n slegte man+ dat niemand met hom kan praat nie.”
18 Abiʹgail+ het toe gou 200 brode, twee groot kruike wyn, vyf skape wat geslag is, vyf sea* geroosterde graan, 100 rosynekoeke en 200 koeke van saamgeperste vye geneem en dit op die donkies gelaai.+
19 Toe het sy vir haar knegte gesê: “Gaan voor my uit, dan kom ek agter julle aan.” Maar sy het niks vir haar man, Nabal, gesê nie.
20 Terwyl sy op ’n donkie teen die berg afgery het, kon Dawid en sy manne haar nie sien aankom nie. Toe het hulle mekaar skielik teëgekom.
21 Dawid het vroeër gesê: “Ek het verniet hierdie man se besittings in die wildernis beskerm. Nie ’n enkele ding wat aan hom behoort, is gesteel nie,+ en tog kry ek stank vir dank.+
22 Mag God die vyande van Dawid* swaar straf* as ek toelaat dat ’n enkele man* wat aan Nabal behoort, tot die oggend toe bly lewe.”
23 Toe Abiʹgail Dawid sien, het sy vinnig van die donkie afgeklim en voor Dawid gekniel en met haar gesig na die grond toe neergebuig.
24 Terwyl sy by sy voete op haar knieë was, het sy gesê: “My heer, mag die skuld op my wees. Laat u slavin met u praat, en luister na die woorde van u slavin.
25 Asseblief, my heer, moet u nie steur aan hierdie slegte Nabal+ nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam is nie verniet Nabal* nie, want hy is verstandeloos. Maar ek, u slavin, het nie die jong manne gesien wat my heer gestuur het nie.
26 So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat u lewe, my heer, Jehovah het gekeer+ dat u bloedskuldig word+ en dat u self wraak neem.* Mag u vyande en dié wat daarop uit is om iets slegs aan u te doen, net soos Nabal word.
27 Gee asseblief hierdie geskenk*+ wat u slavin vir my heer gebring het vir die jong manne wat u volg.+
28 Vergewe asseblief die oortreding van u slavin, want Jehovah sal u koningshuis vir seker laat voortduur,+ want u voer die oorloë van Jehovah,+ en al u dae is daar niks slegs by u gevind nie.+
29 As iemand u wil agternasit en u lewe wil neem, sal u lewe veilig in die sak van die lewe by Jehovah u God toegebind wees. Maar die lewens van u vyande sal weggeslinger word soos klippe uit ’n slingervel.
30 En wanneer Jehovah al die goeie dinge doen wat hy aan my heer belowe het en u as leier oor Israel aanstel,+
31 sal u nie skuldig of spyt voel* omdat u sonder rede iemand doodgemaak het* of self wraak geneem* het nie.+ Dink aan u slavin wanneer Jehovah u beloon.”
32 Toe het Dawid vir Abiʹgail gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag na my toe gestuur het!
33 Ek dank God vir jou verstandigheid! Mag jy geseën word omdat jy vandag gekeer het dat ek bloedskuldig word+ en dat ek self wraak neem.*
34 Ek sê vir jou, so waar as wat Jehovah, die God van Israel, lewe, wat gekeer het dat ek iets slegs aan jou doen:+ As jy nie vinnig na my toe gekom het nie,+ sou daar teen môreoggend nie ’n enkele man* wat aan Nabal behoort, oorgebly het nie.”+
35 Toe het Dawid aanvaar wat sy vir hom gebring het, en hy het vir haar gesê: “Gaan in vrede na jou huis toe. Ek het na jou stem geluister, en ek sal doen wat jy gevra het.”
36 Later het Abiʹgail teruggegaan na Nabal toe, wat soos ’n koning feesgevier het in sy huis. Hy* was in ’n goeie bui en hy was smoordronk. Sy het tot die oggend toe absoluut niks vir hom gesê nie.
37 Die volgende oggend, toe Nabal weer nugter was, het sy vrou hom vertel wat gebeur het. Sy hart het soos ’n dooie man s’n geword, en hy het onbeweeglik daar gelê soos ’n klip.
38 Ongeveer tien dae later het Jehovah ’n einde aan Nabal se lewe gemaak.
39 Toe Dawid hoor dat Nabal gesterf het, het hy gesê: “Mag Jehovah geprys word, want hy het my regsaak verdedig+ toe Nabal my verneder het,+ en hy het gekeer dat ek iets slegs doen,+ en Jehovah het Nabal gestraf vir sy eie slegtheid!”* Toe het Dawid boodskappers na Abiʹgail toe gestuur om haar te vra om met hom te trou.
40 Dawid se knegte het dus na Abiʹgail toe gegaan in Karmel en vir haar gesê: “Dawid het ons na u toe gestuur omdat hy wil hê dat u sy vrou moet word.”
41 Sy het onmiddellik met haar gesig na die grond toe neergebuig en gesê: “Ek is bereid om ’n slavin te wees om die voete+ van my heer se knegte te was.”
42 Toe het Abiʹgail+ gou gereedgemaak en op haar donkie gery, en vyf van haar diensmeisies het agter haar geloop. Sy het saam met Dawid se boodskappers gegaan en sy vrou geword.
43 Dawid was ook getroud met Ahiʹnoam+ uit Jisʹreël.+ Hulle albei was dus sy vrouens.+
44 Maar Saul het sy dogter Migal,+ Dawid se vrou, gegee aan Palti,+ die seun van Lajis, wat van Gallim was.
Voetnote
^ ’n Stad in Juda; nie die berg Karmel nie.
^ Of “mag u vrede hê”.
^ Lett. “’n goeie dag”.
^ Of moontlik “Mag God Dawid”.
^ Lett. “so aan die vyande van Dawid doen en daarby voeg”.
^ Lett. “enigiemand wat teen ’n muur urineer”. ’n Hebreeuse uitdrukking van minagting wat na mans verwys.
^ Beteken “verstandeloos; dom”.
^ Of “redding bring”.
^ Lett. “seën”.
^ Of “sal u geen rede hê om te wankel of te struikel”.
^ Of “sonder rede bloed vergiet het”.
^ Of “redding gebring”.
^ Of “redding bring”.
^ Lett. “niemand wat teen ’n muur urineer”. ’n Hebreeuse uitdrukking van minagting wat na mans verwys.
^ Lett. “Nabal se hart”.
^ Lett. “Jehovah het Nabal se slegtheid op sy eie kop laat terugkom”.