Die tweede boek van Konings 1:1-18

  • Elia voorspel Ahasia se dood (1-18)

1  Ná Agab se dood het Moab+ teen Israel in opstand gekom.  In daardie tyd het Ahaʹsia in Samariʹa deur die traliewerk van sy dakvertrek geval en hom beseer. Hy het toe boodskappers uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan raadpleeg Baäl-Sebub, die god van Ekron,+ om uit te vind of ek van hierdie besering sal herstel.”+  Maar die engel van Jehovah het vir Eliʹa,*+ die Tisbiet, gesê: “Staan op, gaan na die boodskappers van die koning van Samariʹa en vra vir hulle: ‘Is dit omdat daar nie ’n God in Israel is nie dat julle Baäl-Sebub, die god van Ekron, gaan raadpleeg?+  Daarom sê Jehovah: “Jy sal nie opstaan van die bed waarop jy lê nie. Jy sal beslis sterf.”’” Toe het Eliʹa weggegaan.  Toe die boodskappers na hom toe terugkom, het hy onmiddellik vir hulle gevra: “Hoekom het julle teruggekom?”  Hulle het geantwoord: “’n Man het na ons toe gekom en vir ons gesê: ‘Gaan terug na die koning wat julle gestuur het en sê vir hom: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Is dit omdat daar nie ’n God in Israel is nie dat julle Baäl-Sebub, die god van Ekron, gaan raadpleeg? Daarom sal jy nie opstaan van die bed waarop jy lê nie. Jy sal beslis sterf.’”’”+  Hy het vir hulle gevra: “Hoe het die man gelyk wat na julle toe gekom het en hierdie dinge vir julle gesê het?”  En hulle het vir hom gesê: “Dit was ’n man met ’n harige kleed+ en ’n leerlyfband om sy middel.”+ Hy het dadelik gesê: “Dit was Eliʹa, die Tisbiet.”  Die koning het toe ’n hoof oor 50 soldate met sy 50 soldate na hom toe gestuur. Hy het na Eliʹa toe opgeklim, wat op die top van die berg gesit het, en vir hom gesê: “Man van die ware God,+ die koning sê: ‘Kom af.’” 10  Maar Eliʹa het vir die hoof oor die 50 gesê: “As ek ’n man van God is, laat vuur uit die hemel kom+ en jou en jou 50 soldate verteer.” En vuur het uit die hemel gekom en hom en sy 50 soldate verteer. 11  Toe het die koning nog ’n hoof oor 50 soldate met sy 50 soldate na hom toe gestuur. Hy het vir hom gaan sê: “Man van die ware God, dít is wat die koning sê: ‘Kom dadelik af.’” 12  Maar Eliʹa het vir hulle gesê: “As ek ’n man van die ware God is, laat vuur uit die hemel kom en jou en jou 50 soldate verteer.” En vuur van God het uit die hemel gekom en hom en sy 50 soldate verteer. 13  Toe het die koning ’n derde hoof oor 50 soldate met sy 50 soldate gestuur. Maar die derde hoof oor 50 het opgeklim en voor Eliʹa gekniel en hom om genade gesmeek en vir hom gesê: “Man van die ware God, laat my lewe en die lewe van hierdie 50 knegte van u asseblief kosbaar wees in u oë. 14  Vuur uit die hemel het die twee vorige hoofde oor 50 en hulle groepe van 50 verteer, maar laat my lewe nou kosbaar wees in u oë.” 15  Toe het die engel van Jehovah vir Eliʹa gesê: “Gaan saam met hom af. Moenie vir hom bang wees nie.” En hy het opgestaan en saam met hom na die koning toe afgegaan. 16  Eliʹa het toe vir die koning gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Jy het boodskappers gestuur om Baäl-Sebub, die god van Ekron,+ te raadpleeg. Is dit omdat daar nie ’n God in Israel is nie?+ Hoekom het jy hom nie geraadpleeg nie? Daarom sal jy nie opstaan van die bed waarop jy lê nie. Jy sal beslis sterf.’” 17  En hy het gesterf, net soos Jehovah deur middel van Eliʹa gesê het. En omdat hy nie ’n seun gehad het nie, het Joram*+ in sy plek koning geword in die tweede jaar van Joram,+ die seun van Joʹsafat, die koning van Juda. 18  Die res van die geskiedenis van Ahaʹsia+ en wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel.

Voetnote

Beteken “my God is Jehovah”.
D.w.s. Ahasia se broer.