Die tweede boek van Konings 10:1-36

  • Jehu maak almal in huis van Agab dood (1-17)

    • Jonadab sluit by Jehu aan (15-17)

  • Jehu maak aanbidders van Baäl dood (18-27)

  • Oorsig van Jehu se bewind (28-36)

10  Agab+ het 70 seuns in Samariʹa gehad. Daarom het Jehu briewe geskryf en dit na Samariʹa gestuur, aan die leiers van Jisʹreël, die ouermanne+ en die oppassers van Agab se kinders.* Dit het gesê:  “Julle het die seuns van julle heer daar by julle, sowel as strydwaens, perde, ’n versterkte stad en wapens. Wanneer julle hierdie brief kry,  moet julle die beste en bekwaamste* seun van julle heer kies en hom op die troon van sy vader sit. Dan moet julle veg vir die huis van julle heer.”  Maar hulle het baie bang geword en gesê: “As twee konings nie voor hom staande kon bly nie,+ hoe sal ons dan staande kan bly?”  Toe het die opsiener van die paleis, die goewerneur van die stad, die ouermanne en die oppassers hierdie boodskap aan Jehu gestuur: “Ons is u knegte, en ons sal alles doen wat u vir ons sê. Ons sal niemand koning maak nie. Doen wat ook al goed is in u oë.”  Daarna het hy ’n tweede brief aan hulle geskryf en gesê: “As julle aan my behoort en aan my gehoorsaam wil wees, moet julle die koppe van die seuns van julle heer môre hierdie tyd na my toe bring in Jisʹreël.” En die 70 seuns van die koning was by die vooraanstaande manne van die stad wat hulle grootgemaak het.  Toe hulle die brief kry, het hulle die seuns van die koning geneem en hulle doodgemaak, 70 manne,+ en hulle het hulle koppe in mandjies gesit en dit na hom in Jisʹreël gestuur.  Die boodskapper het ingegaan en vir hom gesê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring.” En hy het gesê: “Sit dit in twee hope by die ingang van die stadspoort tot die oggend toe.”  Hy het in die oggend uitgegaan en voor die hele volk gaan staan en gesê: “Julle is onskuldig.* Ek het teen my heer saamgesweer, en ek het hom doodgemaak.+ Maar wie het al hierdie manne doodgemaak? 10  Wees verseker dat nie een van Jehovah se woorde wat Jehovah teen die huis van Agab gespreek het, onvervuld sal bly* nie.+ Jehovah het gedoen wat hy deur middel van sy kneg Eliʹa gesê het.”+ 11  En Jehu het almal doodgemaak wat van die huis van Agab in Jisʹreël oorgebly het, sowel as al sy vooraanstaande manne, sy vriende en sy priesters,+ totdat daar niemand van sy huis oorgebly het nie.+ 12  Toe het hy na Samariʹa gegaan. En hy het by die bindhuis* van die herders verbygegaan. 13  Daar het Jehu die broers van koning Ahaʹsia+ van Juda teëgekom en vir hulle gevra: “Wie is julle?” Hulle het geantwoord: “Ons is die broers van Ahaʹsia, en ons is op pad om te gaan vra of dit goed gaan met die seuns van die koning en die seuns van die koningin-moeder.”* 14  Hy het onmiddellik gesê: “Vang hulle!” Toe het hulle hulle gevang en by die reënput van die bindhuis doodgemaak, 42 manne. Hy het nie een van hulle laat oorbly nie.+ 15  Toe hy verder gaan, het hy Joʹnadab,+ die seun van Regab,+ teëgekom wat op pad was na hom toe. Toe hy hom groet,* het hy vir hom gevra: “Is jy met jou hele hart lojaal aan my, net soos ek met my hele hart lojaal is aan jou?” Joʹnadab het geantwoord: “Ja, ek is.” “As dit die geval is, gee my jou hand.” Hy het hom sy hand gegee, en Jehu het hom gehelp om op sy strydwa te klim. 16  Toe het hy gesê: “Kom saam met my. Dan sal jy sien dat ek geen teenstand teen Jehovah duld nie.”*+ En Jehu het hom op sy strydwa laat ry. 17  Toe Jehu in Samariʹa aankom, het hy almal doodgemaak wat van die huis van Agab in Samariʹa oorgebly het.+ Hy het hulle uitgeroei, net soos Jehovah vir Eliʹa gesê het.+ 18  Daarna het Jehu die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Agab het Baäl aanbid.+ Maar dit sal niks wees in vergelyking met hoe Jehu hom sal aanbid nie. 19  Roep dus al die profete van Baäl,+ al sy aanbidders en al sy priesters+ na my toe. Maak seker dat almal kom, want ek wil ’n groot offerande aan Baäl offer. Elkeen wat nie daar is nie, sal doodgemaak word.” Maar Jehu het slinks opgetree om die aanbidders van Baäl te vernietig. 20  Jehu het verder gesê: “Kondig* ’n heilige vergadering vir Baäl aan.” Toe het hulle dit gedoen. 21  Daarna het Jehu ’n boodskap deur die hele Israel gestuur, en al die aanbidders van Baäl het gekom. Daar was nie een wat nie gekom het nie. Hulle het in die tempel van Baäl+ ingegaan, en die tempel van Baäl was vol van hoek tot kant. 22  Hy het vir die een wat oor die klerekamer was, gesê: “Bring klere uit vir al die aanbidders van Baäl.” Toe het hy die klere vir hulle uitgebring. 23  Jehu en Joʹnadab,+ die seun van Regab, het in die tempel van Baäl ingegaan. En hy het vir die aanbidders van Baäl gesê: “Maak seker dat daar geen aanbidders van Jehovah hier is nie, maar net aanbidders van Baäl.” 24  Uiteindelik het hulle ingegaan om offerandes en brandoffers te offer. Jehu het 80 van sy manne buite laat staan en gesê: “As enigiemand enige van die manne laat ontsnap wat ek aan julle oorlewer, sal hy met sy lewe betaal.” 25  Onmiddellik nadat hy die brandoffer geoffer het, het Jehu vir die wagte* en die offisiere gesê: “Kom in en maak hulle dood! Maak seker dat nie een ontsnap nie!”+ Toe het die wagte en die offisiere hulle met die swaard doodgemaak en hulle uitgegooi, en hulle het tot by die binneste heiligdom* van die tempel van Baäl gegaan. 26  Toe het hulle die heilige pilare+ van die tempel van Baäl uitgebring en dit verbrand.+ 27  Hulle het die heilige pilaar+ van Baäl afgebreek. Hulle het ook die tempel van Baäl+ afgebreek en openbare toilette daarvan gemaak, en dit is vandag nog so. 28  So het Jehu Baälaanbidding uit Israel uitgeroei. 29  Maar Jehu het nie afgewyk van die sondes wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het nie, naamlik die aanbidding van die goue kalwers in Bet-El en in Dan.+ 30  Jehovah het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë deur alles uit te voer wat in my hart was in verband met die huis van Agab,+ sal vier geslagte van jou seuns op die troon van Israel sit.”+ 31  Maar Jehu het nie die Wet van Jehovah, die God van Israel, met sy hele hart gevolg nie.+ Hy het nie afgewyk van die sondes wat Jeroʹbeam Israel laat pleeg het nie.+ 32  In daardie dae het Jehovah Israel stuk vir stuk begin afsny.* Haʹsael het verskeie dele van Israel bly aanval+ 33  in die gebied oos van die Jordaanrivier: die hele land Giʹlead – die gebiede van die Gadiete, die Rubeniete en die Manassiete+ – van Aʹroër af, wat langs die Arnon-vallei* is, tot by Giʹlead en Basan.+ 34  En wat die res van die geskiedenis van Jehu betref, alles wat hy gedoen het en al sy magtige dade, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 35  Jehu het gesterf,* en hulle het hom in Samariʹa begrawe. En sy seun Joʹahas+ het in sy plek koning geword. 36  Jehu het 28 jaar lank in Samariʹa oor Israel regeer.

Voetnote

Lett. “die oppassers van Agab”.
Of “opregste”.
Of “regverdig”.
Lett. “op die aarde sal val”.
Blykbaar ’n plek waar skape vasgemaak is om geskeer te word.
Of “die dame”.
Of “seën”.
Of “my ywer vir Jehovah sien”.
Lett. “Heilig”.
Lett. “hardlopers”.
Lett. “die stad”, moontlik ’n vesting.
Of “verminder”.
Of “wadi Arnon”. Sien Woordelys.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.