Die tweede boek van Konings 12:1-21

  • Joas, koning van Juda (1-3)

  • Joas herstel tempel (4-16)

  • Aanval deur Siriërs (17, 18)

  • Joas doodgemaak (19-21)

12  In die sewende jaar van Jehu+ het Joas+ koning geword, en hy het 40 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibʹja van Berseʹba.+  Terwyl die priester Jojaʹda Joas onderrig het, het Joas bly doen wat reg is in Jehovah se oë.  Maar die offerhoogtes+ is nie verwyder nie, en die volk het nog steeds op die offerhoogtes offerandes geoffer en offerrook laat opgaan.  Joas het vir die priesters gesê: “Neem al die geld vir die heilige offers+ wat na die huis van Jehovah gebring word: die vasgestelde bedrag wat elkeen moet betaal,+ die geld wat gegee word as die vasgestelde waarde van ’n persoon en al die geld wat elkeen se hart hom beweeg om na die huis van Jehovah te bring.+  Die priesters moet dit self by die skenkers* neem en dit gebruik om die huis te herstel, waar daar ook al skade* is.”+  Teen die 23ste jaar van koning Joas het die priesters nog nie die skade aan die huis herstel nie.+  Daarom het koning Joas die priester Jojaʹda+ en die ander priesters geroep en vir hulle gesê: “Hoekom herstel julle nie die huis nie? Moenie nog geld van die skenkers neem tensy julle dit gaan gebruik om die huis te herstel nie.”+  Die priesters het toe ingestem om nie meer geld van die volk te neem nie en om nie verantwoordelik te wees vir die herstelwerk aan die huis nie.  Daarna het die priester Jojaʹda ’n kis geneem+ en ’n gat in die deksel daarvan geboor en dit langs die altaar gesit, aan die regterkant as ’n mens in die huis van Jehovah inkom. Die priesters wat as deurwagters gedien het, het al die geld wat in die huis van Jehovah ingebring is, daarin gegooi.+ 10  Wanneer hulle gesien het dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning en die hoëpriester die geld wat na die huis van Jehovah gebring is, kom haal* en dit getel.+ 11  Hulle het die geld wat getel is, gegee aan dié wat aangestel was om toesig te hou oor die werk by die huis van Jehovah. Hulle het dan die houtwerkers en die bouers wat aan die huis van Jehovah gewerk het, daarmee betaal,+ 12  sowel as die messelaars en die klipkappers. Verder het hulle balke en gekapte klippe gekoop om die huis van Jehovah te herstel, en hulle het die geld ook gebruik vir die ander uitgawes in verband met die herstelwerk aan die huis. 13  Maar die geld wat na die huis van Jehovah gebring is, is nie gebruik om silwerkomme, blussers, bakke, trompette+ of enige ander voorwerp van goud of silwer vir die huis van Jehovah te maak nie.+ 14  Hulle het dit net gegee aan dié wat die werk gedoen het, en hulle het die huis van Jehovah daarmee herstel. 15  Hulle het nie verwag dat die manne wat die geld ontvang het om aan die werkers te gee, verslag oor die geld moes doen nie, want hulle was betroubaar.+ 16  Maar die geld vir skuldoffers+ en die geld vir sonde-offers is nie na die huis van Jehovah gebring nie. Dit het aan die priesters behoort.+ 17  In daardie tyd het Haʹsael,+ die koning van Sirië, teen Gat+ gaan veg en dit ingeneem, en daarna het hy besluit om Jerusalem aan te val.+ 18  Toe het koning Joas van Juda al die heilige offers geneem wat sy voorvaders Joʹsafat, Joram en Ahaʹsia, die konings van Juda, geheilig het, sowel as sy eie heilige offers en al die goud wat in die skatkamers van die huis van Jehovah en die koning se paleis gevind kon word, en dit na Haʹsael, die koning van Sirië, gestuur.+ Toe het hy van Jerusalem af weggetrek. 19  Die res van die geskiedenis van Joas, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 20  Joas se knegte het teen hom saamgesweer+ en het hom doodgemaak by die huis van die Wal,*+ op die pad wat na Silla afgaan. 21  Sy knegte Joʹsakar, die seun van Siʹmeat, en Joʹsabad, die seun van Somer, het hom doodgemaak.+ Hulle het hom by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe, en sy seun Amaʹsia het in sy plek koning geword.+

Voetnote

Of “hulle kennisse”.
Of “krake”.
Of “in sakke gesit”. Lett. “gebind”.
Of “by Bet-Millo”.